|
'n LEEFTYD gelede het sy as 14-jarige meisietjie by die herehuis op die plaas Vlakkeland in Daljosafat aangekom as huisbediende.
Hierdie week het die 88-jarige Anna Hough weer besoek afgelê, nou in 'n rystoel ná 'n beroerte-aanval, maar met 'n magdom stories.
"Dit was die vleiskamer," het sy gewys na die geboutjie waar die vleishake nog aan die plafon sit.
Buite die agterdeur moes tannie Pieta, soos sy alom in die Paarl bekend is, eers talm.
"Dis my wasgat, die wasgoeddraad was aan hierdie einste akkerboom vas. En hier, in die boom se skaduwee, het ek botter gewerk.
"Kyk net hoe het ons die agterdeurdrumpel uitgetrap."
In die kombuis het sy eers stil rondgekyk.
"Ons het baie kos gekook in hierdie vuurherd. Hier was 'n lang tafel waar ons tertdeeg gemaak het, en moskonfyt en mosbolletjies."
Sy het op haar knieë die misvloere in die kombuis gesmeer en die houtvloere blink gevryf.
"Hier is oom Johnnie en ant Bettie se slaapkamer, ek sien nog so die groot bed teen daardie muur," het sy opgewonde onthou terwyl sy met die rystoel van vertrek tot vertrek gestoot is.
"En hier is die kamer waar ek so siek gelê het, aan masels. Ek was toe 19 jaar oud."
Die Malherbes het nie kinders gehad nie.
"Net die ou miesies, oom Johnnie se ma, het in 'n deel van die huis gewoon. John Mostert, die voorman, het in 'n stoepkamer gebly en oom Sakkie Malherbe het in 'n buitekamer ingewoon.
"Vir hom het hulle net eendag dood in sy kamer gekry."
Pieta se suster, Sofie, het in 1929, 'n jaar nadat haar jonger sussie deur hul ouers uit Calvinia se wêreld Daljosafat toe gestuur is, ook vir die Malherbes kom werk.
Vir speel was daar nooit tyd nie, hulle het net gewerk, vertel tannie Pieta.
Maar skemeraand het die twee susters gaan stap, daar waar die verkeersentrum vandag is.
Dis juis op so 'n staptog dat die kasterolie, die blou bottel wat die meisiekinders gereeld ingejaag is "om die gestel skoon te maak", begin praat het.
"Ek het gehurk, en agteroor in 'n turksvybos geval. My suster het die heel nag by kerslig die dorings een-een moes uittrek."
Die verkeersterrein was eers weiding vir die beeste, en later wingerd. Buite die ringmuur was 'n appelkoosboord en 'n sweepstok (bamboes) bos. Maar oom Johnnie se grootste inkomste was glo uit die maak van stene.
Daar was nie elektriese lig nie, net olielampe en kerse. En daar was nie 'n badkamer nie, net waskomme en 'n buitetoilet.
Maandag was wasdag. Dinsdag moes sy douvoordag opstaan om te stryk. Woensdag het sy en ant Bettie sokkies gestop en knope aangewerk.
Elke dag is eiers uitgehaal en drie dae van die week moes gekarring en botter gemaak word.
"Hier was so 'n befoeterde Jerseybul. Hy het eendag vir oom Johnnie tot bo-op die krip gejaag en vir my tot binne-in die hoenderhokke."
Waar vandag die Babathane matwewery is, was die implemente-stoor. Daar is groente gekweek en teen die huis was 'n blomtuin en die stuk wingerd.
Die hoendereiers het hulle net kon hou wanneer dit gekraak was. Die heel eiers is Paarl toe gery, nes die druiwe.
"As oom Johnnie en ant Bettie vakansies Hermanus toe is, het ek Vrydae vir Starlight laat inspan en self met die Trêppie die botter op die dorp gaan aflewer," onthou sy die lekkerte.
Die ou strooidak-woning met die riet- en houtplafonne word vandag as die Ikhwezi gemeenskapsentrum benut, as werkskepping vir vroue.
Die melkkamer dien as kombuis waar sop gemaak word vir klinieke.
In die eertydse stalle word konfyt gekook, naaldwerk en kunshandwerk beoefen, en kindertjies speel daar in 'n crèche.
Die waenhuis is omskep in 'n woonhuis vir die gemeenskapsentrum se hoof, Titus Hendricks, en sy vrou Shahieda.
"Dis waar oom Johnnie sy kar gehad het. Ek moes die kar was en dan het ek dit self teruggetrek in die waenhuis. Ek het net aanmekaar die sleutel gedraai en dan spring die kar so stuk-stuk vorentoe, tot op sy plek," vertel Pieta.
Vlakkeland se werf gaan eersdaags in 'n teetuin omskep word, vertel Hendricks.
Dit is tyd vir groet. Tannie Pieta is vandag 'n inwoner van die Rusoord tehuis vir bejaardes in die Paarl en dis al byna etenstyd.
"As ek gesond was, en dit was weer die ou Vlakkeland, het ek enige tyd weer hier kom werk," het sy met 'n laaste terugblik gesê.
* An 88-year-old woman recently paid a visit to the homestead where she had served as maidservant 66 years ago. |