|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
DIE Nasionale Netballiga begin môre amptelik wanneer die Wes-Kaap Tornado's en die Mpumalanga Ingwe's mekaar die stryd aansê in die Paarl. Dit is die derde jaar wat provinsiale spanne teen mekaar te staan kom en vanjaar strek dié liga oor vier maande. Vanjaar is ook die eerste keer dat al nege Provinsies meeding. Die drie provinsies wat vanjaar vir die eerste keer hul staal op die baan gaan wys, is die Flaminke (Noord-Kaap), Ingwe's (Mpumalanga) en die Krokodille (Limpopo). Die Wes-Kaap Tornado's speel môre-aand om 18:00 hul wedstryd teen die Mpumalanga Ingwe's in die CR Sentrum van Hoërskool Paarl Gimnasium. Toegang is R5. Netbal is vanjaar 'n groot finansiële knou toegedien toe MTN as borg onttrek het. Dié maatskappy was die hoofborg van nege unies, insluitend die Boland en WP. Boland, die nasionale kampioen, is nou sonder borg. Die Wes-Kaap Tornado's is Sonja van Wyk, Dianthea Thyssen (Prl), Liezel Wium, Anél Mostert, Rose Wolmarans (Prl), Julene Meyer (o/k) (almal Bolandspelers), Heidre van Eeden, Michelle van Rensburg, Danlee Booysen, Venessa Lingenveldt, Bronwyn Bock-Jonathan (k) en Adri Vlok. Die span se afrigter is die ervare Bennie Saayman van die Paarl. Sy word bygestaan deur Venetia Magerman (hulpafrigter) en Marina Klüsmann (bestuurder). Die Tornado's besoek ook môreoggend verskeie laerskole in die Paarl waar kursusse aangebied word. * Die Paarl Netbalklub het gesukkel tydens die naweek se Boland Triumph Tri-action Openningstoernooi op Stellenbosch. Leana Lourens (senter), Sandra Conradie (doel) en Tania Potgieter (verdediger) wat staatmakers in verlede jaar se span was, het nie gespeel nie. Conradie trou binnekort en verhuis dan na Port Elizabeth, terwyl Lourens en Potgieter albei uitgetree het. Die span van Paarl wat nie op volle sterkte was nie, het egter nooit gaan lê nie en hul beste probeer lewer. Hulle verloor teen SNI (10-16), Boland Oud-Studente (5-20), Universiteit Stellenbosch III (10-17) en Maties 7-23. Hulle kon slegs 16-15 teen UV IV wen. Maties I was die toernooiwenner in die Superliga. |
|
|
|
|
DIE Boland Kavaliers het verlede naweek hul vriendskaplike wedstryd teen die WP gewen maar hul afrigter Hawies Fourie sê daar is nog aspekte wat aandag kort. Die span van Wellington het die wedstryd 25-17 gewen. Fourie se harde werk onder die voorspelers het duidelik geblyk uit die standvastige inklimrugby van veral die voorry, Pieter Terblanche, Gustav Rademeyer en Andries Human. Die losvoorspelers het ook die oog gevang, met veral David Hendriks (flank), terug ná 'n besering, wat gewys het dat hy sy plek in die span wil behou. "Ons het nog nie so goed gespeel soos wat ons kan speel nie. Die verdediging moet verbeter, te veel besit is in die lynstane afgestaan en die agterlyne het soms te skeef gehardloop," het Fourie gesê. David Hendriks, Gustav Rademeyer en Henk Eksteen het die Kavaliers se drieë gedruk terwyl Antonius Verhoeven en Jacques Badenhorst elk met 'n doel- en strafskop geslaag het. Erich Haggard, Ashlyn Hearn en Morné van der Merwe het vir WP gedruk, met Haggard wat een verdoel het. |
|
|
|
|
DIE aanvanklike voorlopers in die Paarl Gholfklubkampioenskappe moes die naweek tevergeefs toekyk hoe die titel voor hul neuse weggeraap word. Johan Swart het sy eerste klubkampioenskap gewen deur sy vier rondes op 303 af te sluit. Hy het die vorige week met rondetellings van 76 en 79 saam met Johannes Corbett gesamentlik tweede gelê op 155. Die 17-jarige Jacques Blaauw en Freddie Steyn het ná die eerste dag se spel altwee bo-aan die punteleer gelê met een hou minder as Swart. Swart het Saterdag in die bloedige Paarlse hitte van die staanspoor af sy voornemes duidelik gemaak en ná die derde ronde reeds voorgeloop. Sy rondetelling van 77 het hom tot op 232 gebring gevolg deur Blaauw (233), Corbett (234) en Steyn (235). Die ervare Swart, wat in 2001 die Boland Platteland Distrikte-span aangevoer het, het in sy volgende ronde geen fout gemaak nie. "In die laaste ronde het ek op die 19de putjie syfer behaal, en daarna 'n voeltjie op beide die 20ste en 21ste putjies en 'n arend op die volgende gat. "Die ander ouens het almal houe afgestaan en ek was so sewe of agt hou voor. Voor die laaste nege putjies was ek drie voor en het gesorg dat ek voor bly," vertel Swart. Sy laaste ronde van 71 was die enigste onder-baansyfertelling van die toernooi. In die tweede plek was Steyn (310) gevolg deur Blaauw (314). In die B-afdeling het Evert Troost (82+90+87+84) die Junior Beker gewen met sy 343, terwyl Dougie Abels (91+96+96+91) met 374 genoeg gedoen het om die Devine Beker in die C-afdeling te verower. |
|
|
|
|
DIE Boland Rugbyunie en Wellington speel in Julie gasheer vir die Coca-Cola Craven-week vir Hoërskole. Die jaarlikse byeenkoms van die top rugbytalent in Suid-Afrikaanse skole sal van 7 tot 12 Julie by die Boland Stadion gehou word. 'n Groep van 18 spanne wat elke provinsie in Suid-Afrika verteenwoordig, sowel as spanne van Namibië en Zimbabwe, sal teen mekaar kragte meet. Wedstryde sal op die Maandag, Dinsdag, Woensdag, Donderdag en Saterdag gespeel word. Dit is die eerste keer sedert 1980 dat Boland as gasheer vir die toernooi sal optree en die eerste keer dat Wellington hierdie spesiale geleentheid aanbied. Daar word verwag dat tussen 3000 en 4000 toeskouers daagliks die pawiljoene van Boland Stadion sal volpak. As daar verder in ag geneem word dat daar sowat 400 spelers en bykans 120 beamptes ook die week sal bywoon, is dit vanselfsprekend dat dit 'n groot ekonomiese inspuiting vir die dorp sal beteken. "Die Reëlingskomitee beplan om hierdie, die 40ste Coca-Cola Craven-week, die heel beste te maak wat al ooit aangebied is," het Piet Bergh, hoof-uitvoerende beampte van Boland Rugby, gesê. "Om dié rede is die konsep van die Craven Village tot stand gebring sodat daar soveel as moontlik aktiwiteite, dienste en vermaak onder een dak gereël kan word binne die Boland Stadion. Daar sal vir oud en jonk 'n heerlike dag by die rugby wag," sê Bergh. Aansoeke om stalletjies tydens die toernooi te huur, kan by Desiree van Boland Rugby ingedien word of voor 31 Maart gefaks word na 873-2434. Vir navrae skakel 873-2317. |
|
|
|
|
WAAR hy rustig teen die deurkosyn leun, is Charl Langeveldt, snelbouler van die Boland, filosofies oor sy deelname aan die Wêreldbeker en die Proteas se swak vertoning in dié glansryke toernooi. "Die ouens was positief al het ons die eerste wedstryd teen Wes-Indië verloor. Ons het geweet ons is 'n goeie span en as ons op die dag goed speel, kan ons wen," vertel hy waar hy vandeesweek by Boland Park se binnenshuise nette aan sy kolfwerk geslyp het. "Maar dit is hoe krieket is, dit gebeur," sê hy met verwysing na die Proteas se mislukking om na die Superses-fase van die toernooi deur te dring nadat reën die wedstryd tussen Suid-Afrika en Sri Lanka kortgeknip het. "Dit is nie goed om só uit die Wêreldbeker te gaan nie. Baie kan gesê word, 'as ons dit gedoen' het of 'as dit gebeur het'. Almal het dit op televisie gesien, so daar is nie veel wat jy nog kan sê nie." Gevra wat deur sy gemoed gegaan het in daar laaste halfuur waarin die Durbanse reën verseg het om op te hou val, sê hy: "n Klomp goed. Jy vra jouself die vraag, 'Gaan ek regtig môre huis toe?'. "Ek het eers op die vliegtuig op pad Kaapstad toe, besef dit is nou verby." Hy gee toe dat die druk as tuisspan van 'n Wêreldbekertoernooi iets ysliks is. "Op toer deur die land as ons by ons hotel aangekom het, kry jy die mense daar en jy voel dat hulle nie 'n verloor sal aanvaar nie." Langeveldt is egter nie iemand wat in die verlede leef nie en kyk reeds met ywer na die volgende Wêreldbeker. "Oor vier jaar is dit weer die Wêreldbeker, dan moet ons opmaak daarvoor," sê hy. "Dit was 'n lekker en goeie ervaring. Ek het baie geleer van dinge behalwe net krieket. Die uitdeel van handtekeninge, spelersfunksies en ek het baie mense ontmoet," sê hy. Die blitsbouler van die Paarl het net in een wedstryd, teen Kenia, kans gekry om te wys wat daar in hom steek. Maar die tuisspan se oorrompeling van die Keniane en 'n dodelike in-die-kol Lance Klusener wat die paaltjies een na die ander laat kantel het, het beteken dat Charl slegs vyf beurte afgestuur het. "Ek sou definitief meer wou gespeel het, maar weens omstandighede waar hulle vir Allan Donald op vorm wou kry, het dit nie gebeur nie. "'n Man voel ongelukkig maar wat, die son kom môre weer op en 'n man moet net weer harder probeer," sê hy. Sy kans in die Wêreldbeker, ten spyte van hoe min speelkans hy gekry het, het hom nietemin weer heelwat selfversekering gegee. "Ek het meer selfvertroue en nou met die uittrede van Allan Donald is die kans groter om vir die SA gekies te kan word. "Daar is twee toere, SA A-span en die Proteas, en ek is seker ek behoort in een van die spanne opgeneem te word." Op 28 het Charl nog heelwat krieket om te speel, met geen ernstige beserings om van te kla nie. "Ek het al my beserings vroeg in my loopbaan gekry. Op die oomblik is daar niks ernstigs nie, net miskien 'n toon wat seer is of so iets," sê hy glimlaggend. Daar is sowat drie weke oor voor die keurders weer begin kopkrap vir die toerspanne en Charl gaan nie in dié tyd laat slaplê nie. "Jy moet altyd aan die oefen bly, as jy eers jou standaard verloor het, kry jy dit moeilik weer terug," sê Charl wat vir Young Peoples Krieketklub speel.1 |
|
||||