ppostgothic
safetop Aida
uitlefstreep

Thursday 13 May 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 20 May  2004 at 17:30

Nuus - News

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Verlore seun terug

[ Top ]

Susan Botha


"EK kan dit nog nie glo nie. Dit was die beste Moedersdag nog. Ek wou nie hê dit moet ophou nie," straal die 70-jarige Sophia Petersen oor haar Moedersdag-verrassing.

Sophia is Sondag ná 'n soektog van 35 jaar, met haar seun, Kenneth, in die Paarl herenig.

"Hy is my baby-kind, ek is so bly," vertel dié blinde ma, terwyl sy heeltyd Kenneth se hand sit en vryf.

Sophia moes twee van haar drie kinders opgee vir aanneming.
"Ek het in die Paarl by my antie-hulle

wdruk

MY MA! 'n Bewoë Kenneth gee sy ma 'n drukkie.

gebly. My uncle het woelig geraak as hy 'n doppie in het en dan verstaan hy niks nie," onthou sy dié hartseer-tyd in haar lewe.

"Ek wou nie gehad het my kinders moet ook swerf soos ek nie. Maar ek het nie 'n keuse gehad nie."

Kenneth en sy ouer sussie, Dawn, is aangeneem en die soektog na haar duur nog voort.

Kenneth is op drie maande aangeneem deur die Jacobs-gesin van Klapmuts - soos Sophia nou uitgevind het.

Sophia het baie trane gestort deur die jare heen: "Ek kon nie verstaan hoekom ek moet kinders voortbring net dat ander mense hulle kan grootmaak nie.

"Die Here het tog vir my ook wysheid gegee..."

Sophia se oudste kind, Niel, het by haar grootgeword, maar dit het ook sy eie hartseer gebring.

"Niel het homself opgehang en my hart was stukkend," onthou Sophia.

"Ek moes my berus, maar hulle het my moeilik weer reggekry."

Maar toe kom Levona Solomons oor haar pad en dinge begin gebeur.

Levona het 'n organisasie, Arise and Shine, waar sy poog om 'n verskil te maak in die lewens van mense met gestremdhede.

Sy het ook 'n program op Radio KC gehad waar sy na vermiste mense gesoek het.

"Ek ken vir Sophia van kleintyd af, ons het langs mekaar gebly, en ek het maar altyd geweet van haar kinders wat sy soek," vertel Levona.

Sophia het deur al die jare geglo sy sal eendag haar kinders opspoor.

"Baie mense het vir my gesê los dit, hou op om ou koeie uit die sloot te grawe. Maar my kinders is nie ou koeie nie, en ek is net so lief vir hulle soos enige ander ma."

Verlede jaar het Levona toe 'n radio-onderhoud gevoer met Sophia, wat intussen haarself in Bonteheuwel gevestig het.

"Ons het inligting gekry dat Kenneth by 'n bank in die Paarl werk en weke lank het ek boodskappe uitgesaai dat hy my moet bel. Alles tevergeefs."

Toe daar niks gebeur nie, het Sophia begin moedeloos raak.

"Ek wou nie meer in twyfel leef nie en het gevoel om my kampie te verskuif na iewers waar niemand my ken nie," vertel sy.

Intussen het Kenneth, wat ook sy ma gesoek het, gehoor van Levona se soektog en haar gekontak.

"Ek was so 13 jaar oud toe ek met 'n familietwis uitgevind het ek is aangeneem.

"My grootmaak-ma het nie die waarheid vir my vertel nie en ek moes maar wag," sê hy en dan met 'n breë glimlag, "dit was die moeite werd!"

Levona het hom egter nog 'n maand laat wag, want sy wou graag die groot ontmoeting op Moedersdag hê.

Sy het 'n Moedersdagete by Drakenstein Korrektiewe Dienste gereël en dié hereniging was die hoogtepunt van die program.

En wat 'n vreugde was dit nie, met trane wat gevloei het en breë glimlagte.

"Dit was 'n dag vol vreugde, trane en blydskap," beskryf Levona die gebeurtenis.

"Ek het 'n knop in my keel gehad. Ek het nie geweet of ek moet skree of wat nie - dit was onbeskryflik," glimlag Kenneth.

Was sy ma soos hy haar voorgestel het?

"Nee, ek het gedink sy sal ouer wees en langer, fris."

Dan kry hy 'n ondeunde trek op sy gesig: "Maar ek het nooit na myself gekyk nie."

Ma en seun lag tog te lekker - hulle trek nie net na mekaar nie, hulle deel ook 'n heerlike humorsin.

Sophia is natuurlik ook nou 'n kits-ouma. Kenneth en sy vrou, Lizette, het drie dogters en 'n seun.

En dat daar nou baie gekuier gaan word, is duidelik: "Ek hoop die Here sal ons nog baie jare saam gee," sê Kenneth, met sy ma se hand styf in syne toegevou.

* A mother and her son were reunited on Mother's Day after 35 years.


Inbraak skok bejaardes

[ Top ]


INBREKERS het vroeg Maandagoggend die tapisserieë wat hulle ure tevore by 'n tehuis vir bejaardes in die Paarl gesteel het, reeds in die Paarlse Arboretum probeer verkwansel.

Dit terwyl stappers opgelet het hoe breekware met die Rusoord-embleem voor die munisipale gebou en in die Arboretum uit die sakke van vlugtende inbrekers geval het.

Die polisie is in kennis gestel, maar kon nie die inbrekers, met hul gesteelde goedere in gordyne toegedraai, vastrek nie.

Rusoord se eetsaal is Sondagnag deur inbrekers gestroop. Die inbrekers het diefwering weggebuig en deur 'n venster uit 'n stegie langs Bernhardistraat in die eetsaal gekom.

Vyf geraamde tapisserieë, op bruikleen aan die tehuis, asook 'n antieke ronde spieël met silwerkleurige raam, is onder die gesteelde goedere.

Nege blou-en-geel gordyne met blommotiewe, ses tafeldoeke en 54 pienk servette asook vyf rottangmandjies met sout- en peperpotjies daarin, is gesteel.

Meer as 'n honderd borde, koppies en pierings, almal wit met 'n geel randjie en die Rusoord embleem, het verdwyn.

"As ek die mense kry wat hiervoor verantwoordelik is, gee ek hulle behoorlik pak," het 'n ontstelde kombuismatrone, Annemaré Eifridt gesê. "Die bejaardes voel nou baie onveilig."

Speur-insp Cassie Carstens (807-4000) ondersoek die inbraak.

* Residents of a Paarl old age home were shocked when their dining room was stripped by burglars.


Sproeierdief vasgetrek

[ Top ]


'n VERDAGTE is in aanhouding nadat Wellingtonse boere die afgelope weke honderdduisende rande skade gely het aan die hand van diewe van besproeiingstoerusting.

Eric Mekana (35) van Fairyland, Paarl, is Vrydag in hegtenis geneem na 'n spanpoging deur lede van die Huguenot plaaswag, die Paarl polisie plaaswag en die boeregemeenskap.

Koperbesproeiingspype is die afgelope twee maande uit landerye met wingerdstokkies afgekap, onder die grond uitgegrawe, en weggedra.

Pogings van die Hugenote plaaswag om die spore te volg met voormalige Koevoet-spoorsnyers het elke keer op teerpaaie doodgeloop.

Gipsafdrukke is van die spore gemaak en leidrade is opgevolg, maar die dief het die ondersoekers bly ontglip.

Tot Vrydagoggend, toe lede van die Paarl plaaswag 'n verdagte persoon naby De Hoop Steenwerke in Daljosafat opgemerk het.

'n Skroefsleutel waarmee sproeiers losgedraai en afgebreek kan word, is in sy besit gevind.

Die voetspore het ooreengestem met die gipsafdrukke.

Die man is agtervolg tot by 'n bouvallige huisie waar hy sy klere uitgetrek en toe met ander klere verder gestap het. Hy het 'n groen rugsak by hom gehad.

Insp Cassie Carstens van die Paarl plaaswag het die verdagte gekonfronteer en die ander klere in die rugsak gekry.

Met inligting van 'n getuie wat gesien het hoe sproeiers sowat 'n kilometer verder uit 'n rugsak gegooi word, het die ondersoekers kort daarna die oorblyfsels van 72 sproeiers ontdek.

Dié sproeiers is die vorige nag op 'n plaas in die Bovlei gesteel.

Met vingerafdrukke is die verdagte met drie huisbraakklagtes asook die verbreking van paroolvoorwaardes verbind.

Deon Jansen van die Huguenot plaaswag het hierdie week lede van die boeregemeenskap en sy kollegas van die Paarl plaaswag bedank vir hul oplettendheid en bystand.

* A man has been arrested after farmers lost irrigation pipes worth hundreds of thousands of rands.


Another truck loses load in Bain's Kloof

[ Top ]


A LONG-HAUL truck which attempted to travel through the Bain's Kloof Pass lost its whole load of animal feed on Tuesday, after ignoring numerous warning signs.

The truck and trailer travelling from Bloemfontein via the pass towards Cape Town passed a sign forbidding vehicles heavier than 9 tons and scraped under the chain indicating the height restriction as well.

At Tweede Tol the truck damaged the Borcherd's Bridge which has been partially without railings for about two years due to previous damage, and got stuck in the same curve 4 kilometres further, where a load of beer cans fell off a truck last year.

The historic pass, which celebrated its 150th anniversary last year, is suffering increasing damage from trucks which cannot negotiate its sharp turns, making it dangerous for use even by cars.

Truck drivers unfamiliar with the route complain that, by the time they realise the have entered a forbidden route, they cannot turn back.

According to Sieg Kröger of the Friends of Bain's Kloof, appeals have been made to the Minister of Transport to block the western entrance of the route to longer heavy vehicles by building S-curved traffic islands (a chicane). So far, the Department has only undertaken to upgrade the signage.


Lyk tussen grafte gekry

[ Top ]


DIE liggaam van die slagoffer van 'n tref-en-trap botsing is vermoedelik Vrydagnag in die Paarlse Moslembegraafplaas gelaat.

'n Man wat met sy fiets kortpad deur die begraafplaas geneem het, het Saterdag op die liggaam tussen die grafte afgekom.

Hy het dadelik die polisie verwittig en beamptes het die begraafplaas vir leidrade van die sogenaamde moord deursoek.

'n Holte in die grond langs die liggaam het daarop gedui dat 'n klip daar opgetel is. Twintig meter verder is die beweerde moordwapen gevind, 'n bloedbevlekte klip.

'n Na-doodse ondersoek het egter getoon dat die onbekende man eerder die slagoffer van 'n tref-en-trap moes gewees het. Hy het erge beserings aan sy ribbes gehad en sy skedel is verbrysel.

Die man, sowat 35 jaar oud, bruin van gelaat en met 'n snor, was geklee in 'n roomkleurige T-hemp, swart langbroek en blou kortbroek. Sy skoene was skoonveld.

Inligting oor die voorval kan aan die ondersoekbeampte, insp Jason Pietersen (807-4173), gegee word terwyl lykhuisbeamptes (807-4146) inligting oor die identiteit sal waardeer.

* Die ontdekking van 'n liggaam Sondag in 'n grondpad in Simondium het inwoners aan die gis.

Nicky Baadjies (23) van Droëbaan het tussen ses en sewe-uur die middag aan kopbeserings gesterf.Insp Charlie Pietersen (874-8000) ondersoek twee moontlikhede: dat Baadjies vermoor is of dat hy in 'n tref-en-trap-botsing op die Yorkpad gesterf het.


Gholfklub kry elektriese heining

[ Top ]


DIE bestuur van die Wellington Gholfklub het besluit om 'n gedeelte van die gholfbaan suid van die oorweg na Champagnestraat met 'n elektriese omheining te beveilig.

Die heining sal gedurig gemonitor word en sal tussen R250 000 en R300 000 kos.

Die projek word aangepak om die spelers en hul toerusting te beveilig nadat spelers lastig geval en selfs aangerand en beroof is deur rondlopers.

Die lede van die klub sal self vir die heining moet opdok.

Volgens die president van die klub, Ferrus Terblanche, sal die opsit van die heining aanstaande week begin.

"Volgens ons kontrak met die Sportraad is die Drakenstein Munisipaliteit verplig om 'n omheining op te rig en op te hou.

"Ons het die afgelope jare deurlopend met die Raad samesprekings gevoer oor die situasie en is deurgaans meegedeel dat die Munisipaliteit nie oor die fondse beskik vir die projek nie," sê hy.

Terblanche sê die gebruik van veiligheidswagte is ook al probeer, maar die area wat gedek moet word, is te groot om dit haalbaar en effektief te maak.

"Ons glo die omheining sal die probleem wat tans bestaan, grootliks oplos. Ons wil alle besoekers en lede verseker dat die bestuur van die klub voortdurend poog om gholf vir alle besoekers en lede so veilig en bekostigbaar as moontlik te maak." .


Skelms sal hier moet ligloop

John Goliath

[ Top ]


BOEWE kyk deesdae gedurig oor hul skouers in Noorder-Paarl, want die buurtwag sien 'n skelm om 'n draai raak.

Robert Larke en sy buutwaglede het weer die naweek toegeslaan toe hulle twee berugte huisbraakverdagtes aangekeer het en aan die polisie oorhandig het.

Hulle het die vorige week ses vermeende diewe aan die polisie oorgegee.

Vrydagoggend om 07:45 het die buurtwag 'n oproep ontvang van 'n inwoner in Martinstraat. 'n Man krap buite in sy bakkie.

"Ons het na die huis gehaas en die vermeende inbreker in die bakkie betrap en aan die polisie oorhandig," sê Larke, bestuurder van die buurtwag.

Minder as 24 uur later, Saterdagoggend om 03:00, het die buurtwagvoertuig met gedempte ligte deur die strate van die gebied gery op 'n roetine-inspeksie toe hulle 'n verdagte man met 'n rugsak in Hoofstraat sien staan het.

"Die man was omtrent 300m ver van ons af. Hy het 'n blink voorwerp in sy hand gehad. Toe ons by hom kom, het hy met 'n mes na ons gemik, maar ons het hom in hegtenis geneem," sê Larke.

In sy sak het hulle tien 9mm patrone gekry en sy mes afgevat. Die polisie het hom verder deursoek.

"Daar was nie genoeg plek in die polisiemotor vir die man met die kenmerkende letsel op sy gesig nie, en ons het hom toe na die selle vervoer.

"Op pad na die stasie het ek en my kollega 'n kliekgeluid gehoor, waarna ek vir hom gesê het hy moet sy hande sit waar ons dit kan sien.

"Net toe ons stop, toe val hy ons aan met 'n mes, maar ons kon hom ontwapen."

Die man, in sy twintigs, word verbind met huisbrake in Welington, die Paarl,Mbekweni en Kraaifontein.

Die buurtwag het tans 942 lede en het 'n aanmerklike verlaging in die inbraaksyfer in Noorder-Paarl teweeg gebring.

"Ons is gewoonlik in die kol met mense wat verdag lyk en is nooit onredelik as ons verkeerd bewys word nie," sê Larke.

* The Noorder Paarl Neighbourhood Watch has managed to arrest two notorious burglars.


Vrou vermoor

[ Top ]


DIE liggaam van 'n jong vrou wat vermoor en vermoedelik verkrag is, is Saterdagoggend langs die Wellington treinspoor ontdek.

Mary Lindt (28) van Cederbergstraat 7, Carterville, is Vrydagnag laas lewend gesien terwyl sy met 'n onbekende man in Swartbergstraat gestry het.

Sy was vroeër die aand saam met vriende by die sogenaamde Wit Huis, 'n bekende drinkplek in Swartbergstraat. Kort na middernag het 'n vriendin haar huis toe vergesel en daar gelaat.

Dit lyk asof Mary later weer alleen die sowat 100m na die Wit Huis gestap het.

Sy het nooit daar opgedaag nie.

Mary se halfnaakte liggaam is die volgende oggend langs die spoorlyn ontdek, so 200m van waar sy laas gesien is.

Sy is na bewering met 'n groot klip teen die kop gemoker. Daar is tekens dat haar hande dalk kon vasgehou gewees het tydens die aanval.

Mbekweni speur-insp Henry Jansen (864-1515) soek dringend na getuies van die aanranding. Daar kon dalk meer as een verdagte gewees het.

Mary was die aand geklee in 'n roomkleurige langbroek en rooi T-hemp. Die man saam met wie sy laas gesien is, het 'n wit oorbaadjie gedra met 'n swart streep teen die arms af.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za  

[ Top ]

[ Top ]