 |
Town side as they have done so often against strong opposition in the past.
Man of the match Cecil Thompson and goalkeeper Sipho Magagula were both outstanding on defence.
Sundowns concluded their league responsiblities on Tuesday night when they drew 3-3 against Cosmos.
Sundowns play a team from Beaufort West on Sunday at Mbekweni. |
 |
Skild wink |
|
|
 |
|
 |
DIE Boland Kavaliers sal alle statistiek uit hul kop moet vee wanneer hulle môre op Boland Stadion teen die SWD Arende uitdraf vir die eindstryd om die Vodacom-Skild.
Die Arende het die afgelope vyf kragmetings tussen dié twee spanne gewen. Die laaste keer was juis twee weke gelede op Wellington, waar die Arende 21-16 koning gekraai het.
Die Kavaliers wat bo-aan die punteleer geëindig het na afloop van die rondomtaliewedstryde, het verlede Vrydag hul plek in die eindstryd bespreek deur die WP 26-5 op Wellington te klop.
Die Arende wat tweede op die punteleer gelê het, het op George die Pumas 31-21 kafgedraf vir hul plek in die finaal.
Die Arende en die WP is die enigste spanne wat Boland in die rondomtaliewedstryde kon klop.
Spanbestuurder van die Kavaliers, Denver Pienaar, wou Woensdagoggend min bekend maak oor sy span se planne vir die groot kragmeting.
"Ons verwag weer 'n groot stryd onder die voorspelers, veral in die vaste skrums. In die laaste wedstryd het die Arende ons opdraande gegee," het Pienaar gesê en dit duidelik laat blyk dat afrigter, Hawies Fourie, veral op die faset gefokus het.
Pienaar het ook bevestig dat losskakel, Patrick Pietersen, een van die sleutelrolle in die span gaan vertolk.
"Ons wil in hul gebied speel, die druk opjaag en so die punte aanteken," beskryf Pienaar die spelpatroon wat verlede week die WP gekelder het.
Pienaar is egter gou om by te voeg dat die Arende as gunstelinge op die veld draf as mens die rekordboeke weer in oënskou neem.
Hy glo ook dat die bekendmaking halfpad deur die Kavaliers en Arende se vorige kragmeting, dat die Boland wel 'n tuishalfeindstryd verseker het, die spelers op hul louere laat rus het.
"Die aankondiging van ons semi-finaal plek was beslis negatief, dit was asof die spelers se geesdrif nie meer daar was nie, en hulle gedink het hulle het genoeg gedoen.
"Die spelers se ingesteldheid was egter weer reg in die wedstryd teen die WP. Ek dink die wil om te wen sal Vrydag die grootste faktor wees."
Goeie nuus is dat Kobus le Roux (enkelbesering, flank) en Malan du Plessis (dyspier, vleuel) herstel het en reg is om hul plek in die span te neem. Daar was gister nog twyfel oor die fiksheid van Henley du Plessis (agsteman, dyspier) en Chris Potgieter (flank, enkel).
Die wedstryd begin môre om 16:30 by Boland Stadion. Twee voorwedstryde sal ook gespeel word: om 14:15 pak Magnolia Primêr en New Orleans Primer se o.13 spanne mekaar, terwyl Groendal Sekondêr (Franschhoek) en New Orleans Sekondêr se o.19A-spanne mekaar om 15:15 die stryd aansê.
Kaartjies is R20 (gratis vir skoliere) en is vooraf beskikbaar by Paarl Sport in Lady Greystraat.
Die span is Antonius Verhoeven, Alshaun Bock, Piet van Zyl, Jacques Badenhorst, Malan du Plessis, Patrick Pietersen, Neil Papier, Denzel Frans, Kobus le Roux, Chris Potgieter, Nicky Smit, Vion Wium, Tommy Dixon, Conrad Burke (k) en Fabian Brand. |
 |
|
 |
Paarl terug op wenpad |
|
|
 |
DIE eerste span van die Novel Paarl Rugbyklub het Saterdag weer hul sokkies opgetrek deur Belhar, wat tans tweede op die Eerste Liga punteleer lê, 25-18 te klop.
Paarl se voorspelers het regdeur die wedstryd oorheers wat besit en beweegruimte vir die agterlyn verseker het.
Hier het vleuel, Llewellyn Davids wat twee drieë gedruk het, goed op die aanval vertoon terwyl Mark Kruger (losskakel) goed onder druk die wedstryd beheer het.
Hoewel die tuisspan in die tweede helfte met mening teruggekom het, het Paarl die druk goed verwerk en die wedstryd in die laaste 20 minute beklink.
Die slot Charl Cilliers was Paarl se man van die wedstryd terwyl Martin Olsen (stut) ook 'n drie gedruk het.
Kruger het twee doelskoppe en twee strafskoppe oorgesit.
Paarl II het in 'n taai stryd 3-0 gewen terwyl die derde span 14-10 verloor het. |
|
Rèniell jaag sy drome na |
 |
Leon Steenkamp |
 |
|
|
 |
|
 |
HY is nog maar 15 jaar oud, maar Rèniell Matthysen het reeds gewys dat hy 'n fietsrybaan aan die brand kan ry - en sy warm spore in die toekoms nog op die bekendste bane in die wêreld kan laat.
Matthysen, 'n lid van die Paarl Fietsryklub, sit al in die saal sedert hy tien jaar oud is. Hy het sedertdien al 16 WP-titels en 17 SA-titels verower - beslis nie 'n klein prestasie nie.
Matthysen het in 2000 fietsrykenners laat regop sit toe hy as die WP Baan- en Padfietsrykampioen in die o.12 ouderdomsgroep aangewys is.
Tydens die SA's is hy weer as die o.12 nasionale kampioen aangewys en het bronsmedaljes in die tydtoets en padwedren losgery.
In 2002 word hy as die o.14 WP padkampioen gekroon en verower silwermedaljes in die tydtoets sowel as die padwedren tydens die SA Kampioenskappe.
Tydens die SA Baankampioenskappe stel hy 'n rekordtyd in die 500m tydtoets op en word as die o.14 kampioen aangewys.
Verlede jaar het hy as 14-jarige ryer die o.16 groep oorheers. Hy palm weer die WP en SA Baankampioen-titels in. Tydens die SA's neem hy aan vyf items deel. Hy wen vier goue medaljes en 'n silwer en stel 'n nuwe WP-rekord op in die 500m tydtoets.
Rèniell ontvang dan ook vir die eerste keer SA kleure, 'n besliste hoogtepunt in sy kort loopbaan.
Vanjaar het dinge weer eens goed verloop vir die jong Paarliet.
Hy verower 'n silwermedalje in die tydtoets tydens die SA Padfietskampioenskappe en vee die res van die kompetisie van die baan tydens die provinsiale en nasionale byeenkomste.
By die WP baankampioenskappe stel hy 'n vinniger tyd (12,70s) op in die naelry kwalifiserende ronde as wat enige van die Elite of Junior ryers kon vermag.
'n Perfekte vertoning by die SA kampioenskappe het Rèniell vyf uit vyf goue medaljes gegee asook die verbetering van sy 2003-rekord. Hy ontvang ook weer sy SA kleure.
Dié leerder van Hoërskool Labori se belangstelling in fietsry is te danke aan sy pa, Reinald, wat hom vandag ook afrig.
"My pa het sedert 1971 nog nooit 'n Boxing Day byeenkoms as toeskouer misgeloop nie," vertel die skamerige tiener.
Reinald se liefde vir die sport wat hy nooit self kon beoefen nie weens 'n gebrek aan geleenthede, bruis beslis net so sterk in Rèniell se are.
Dit kom egter nie alles van self nie. Rèniell oefen 18 uur per week en 47km per dag per oefensessie.
Maar hy is gefokus om soos sy held, die Switserse fietsryer en wêreldkampioen in die madison, Franco Marvulli, ook die hoogste sporte te bereik.
"My eerste doelwit is om nou die SA-span vir die Jeug Statebond Spele te haal wat in Desember in Australië gehou word," sê Rèniell wat reeds die voorlopige groep vir die span gehaal het en die enigste o.16 fietsryer in die oefengroep is.
Soos Marvulli is Rèniell ook 'n taai ryer, met baie stamina en 'n jaagduiwel as dit kom by die naelrit vir die wenstreep.
Sy grootste mikpunt vir die toekoms is om sy land by die 2008 Olimpiese Spele te verteenwoordig.
En watse raad het hy vir fietsryers wat ook na hoë hoogtes reik?
"Wees dankbaar vir die talent wat God jou gegee het, werk daaraan en jy sal sukses behaal." |
 |
|
 |
Groot skolerugby in Paarl |
|
|
 |
|
 |
DIE naweek se plaaslike skolerugby-program sal beslis Saterdag op 'n hoogtepunte gedryf word, wanneer die o.19A spanne van Grey Kollege (Bloemfontein) en Hoër Jongenskool Paarl mekaar op die Brugstraat-velde die stryd aansê.
HJS moes Saterdag die mindere wees op Stellenbosch toe Paul Roos hulle met 22-7 geklop het.
Grey is egter altyd 'n harde neut om te kraak en Saterdag sal beslis 'n groot gespook vir die Paarliete wees.
Die dag se program skop om 08:30 met die o.14A wedstryd af. Die ander hoofwedstryde is o.15A (09:30), o.16A (10:40), o.19C (11:50), o.19B (14:15) en o.19A's speel om 15:30.
* Paarl Gimnasium het onlangs 'n enorme pak slae van 67-7 aan Wynberg uitgedeel en Saterdag tydens 'n sportdag in Durbanville vir Hoërskool Hugenote 35-9 geklop. Gim speel Saterdag in 'n wegwedstryd teen Hoërskool Strand.
* Hoër Landbouskool Boland het Saterdag in Rondebosch vir Biskoppe in 'n taai wedstryd 22-20 geklop. Hulle speel dié naweek tuis teen DF Malan.
* In ander wedstryde het Labori vir Klein Nederburg 10-8 geklop, Groendal vir Bergrivier 12-7, terwyl New Orleans in 'n naelbyter vir Charleston Hill 22-19 geklop het. |
 |
|
 |
Delicious skrum Roses tot niet |
|
|
 |
|
 |
DIE manne van Roses United het in 'n aanskoulike wedstryd op Ceres met 47-33 (41-12) die onderspit gedelf teen Delicious.
Soos die rustydtelling illustreer, het Roses 'n droewige eerste helfte beleef, met die Delicious-pak wat sommer hard die kitaar geslaan het.
Roses het veral in die skrums gesukkel, met die tuisspan se pak wat net te sterk was.
Delicious se ses drieë het uit gebroke spel gekom met die besoekers se swak verdediging wat sake vererger het.
Ná rustyd het Roses se agterspelers die toon aangegee en is hulle ook beloon met drie pragdrieë as deel van die 21 punte wat hulle in dié helfte opgestapel het.
Claude Arendse (senter), Deon Williams en Brandon April (vleuels) het weer gewys tot watter uitblink-spel hulle in staat is, terwyl Igie Korabie (agtsteman) en Burton Abrahams (slot) voorlangs hul harte uitgespeel het.
Arendse, Michael Abrahams (flank), April, Williams en Arendse (2) het Roses se drieë gedruk. Q Hendricks (skrumskakel) en Warren Appollis (losskakel, 3) was in die kol met doelskoppe.
Die tweede span het 5-8 verloor terwyl die derde span 24-18 gewen het.
Roses speel Saterdag weg teen Wesbank. Die bus vertrek om 11:30 uit Hillcrest en is R25. |
 |
|
 |
Gelyke stryd vir Tiere |
|
|
 |
DIE Tiere van Young Peoples het Saterdag op Mamre met goeie spel die sterk span van Hamlets tot 'n 15-15 gelykop-uitslag gedwing. Peoples was rustyd 3-0 voor.
Die wedstryd is gekenmerk deur 'n reuse stryd tussen die twee pakke voorspelers, met Peoples se Cedric Williams (haker), Jeremy September (stut) en Irvin Martin (slot) wat die pap lekker dik aangemaak het.
Veral Martin het ná sy terugkeer van 'n besering goed gelyk en ekstra woema aan die Tiere se pak gegee.
Agterlangs het Peoples ook meer bestendig vertoon, en die hanteerfoute was opmerklik minder.
Die Tiere is effens ontwrig toe heelagter, Sam Titus, met 'n besering van die veld af is, maar die ervaring van die agterspelers het die Paarliete egter voortdurend in die prentjie gehou.
Cedric Williams en Carlo Carolissen het Peoples se drieë gedruk, terwyl Davy de Kock 'n skep- en doelskop behaal het.
Die tweede span het 14-6 gewen terwyl die derde span 20-13 verloor het. |
 |
Rangers sukel nog |
|
|
 |
DAAR is nog geen vreugde in die kamp van Paarl Rangers nie, nadat hulle Saterdag tuis 28-18 teen Van der Stel verloor het.
Die tuisspan was in die eerste helfte egter deurentyd in beheer van sake en het rustyd 13-3 voorgeloop.
'n Gebrek aan fiksheid was die groot rede hoekom die spelers nie vir die volle 80 minute kon speel nie.
Daarby het hanteerfoute en verkeerde besluite in kritieke stadiums vir Rangers die wedstryd gekos.
Sommiges meen ook die spelers beskik nie oor die nodige wil om te wen nie, met die agterspelers wat weer eens geen ondernemingsgees getoon het nie.
Rangers se Ashley Jacobs (2) en Eric Plaatjies het drieë gedruk, met Desmond Davids wat met 'n strafskop geslaag het.
Rangers II en III het hul wedstryde 33-5 en 19-7 gewen.
Saterdag speel Rangers weg teen Harlequins. Die bus vertrek om 11:00 vanaf Groenheuwel en 11:30 van Drakenstein Biblioteek. |
 |
Young Stars skyn dof |
|
|
 |
DIE Young Stars rugbyspan het Saterdag op Wellington hul kanse verspeel in hul derbywedstryd teen Evergreens Paarl en so 31-20 in die stof gebyt.
Albei spanne het harde, konstruktiewe rugby gespeel en teen rustyd was sake nog redelik gelykop met Evergreens 14-10 voor.
In die tweede helfte het Evergreens egter volstoom gespeel en was daar geen keer aan die besoekers nie.
Stars het egter bly terugveg en kon met 'n drie onder die pale in die laaste tien minute 'n bietjie eer teruggewen.
Evergreens se Toffie Koopman en Andries van Rooyen was altyd vol planne, terwyl Stars se Riaan Neels, Riaan Davids, Donovan Abrahams en Pieter Appollis ook uitgeblink het. |
 |
Albions reken af met Coronations |
|
|
 |
|
 |
SOLIEDE spel deur sy voorspelers, het Saterdag vir Albions vyf punte besorg in hul wegwedstryd teen Stellenbosch Coronations toe hulle 29-12 wen.
Die tuisspan se agterlyn was gevolglik onder te veel druk om enigiets uit te rig.
Met beheer voorlangs het Albions hard gedruk om vinnig punte op die bord te kry.
Die lostrio Jenovan Cornelissen, Yulin Claasen en Esau Ladouce was die beste spelers op die veld.
Cornelissen het dan ook die besoekers se eerste drie gedruk na 'n strafskop voor die pale.
Die stut Joslin Sauls druk ook na 'n sterk stormlopie en nadat Enrico Jordaan (skrumskakel) met twee doelskoppe en 'n strafskop slaag, loop Albions met rustyd 17-0 voor.
Hoewel Albions se agterlyn in die tweede helfte 'n bietjie stiller geraak het, het hulle kort voor die einde weer lewe gekry.
Gamain Poggenpoel (senter) druk onder die pale na 'n goeie agterlynbeweging, met Alvin Hugo (vleuel) wat verdoel.
Plaasvervanger-losskakel, John Stevens, sorg vir nog punte toe hy die bal op Albions se kwartlyn onderskep, 50m hardloop en vir Hugo uitgee wat die vierde drie gaan druk vir die bonuspunt.
Albions II speel gelykop 17-17 en die derde span wen 26-20.
Albions speel Saterdag weg teen Calendonian Roses. Die bus vertrek om 11:00 vanaf 'n vulstasie in Groenheuwel. |
 |
|
 |
Gardens baklei hard vir sege |
|
|
 |
DIE manne van Young Gardens moes Saterdag in 'n wegwedstryd hard baklei om 'n begeesterde Lagunya 17-11 te klop.
Dit was die Rooi Rose se blitsige vleuel, Ettienne Ruiters, wat met sy driekuns van drieë vir Gardens op die wenpad gesit het. Tino Prins was in die kol met een doelskop.
Gardens se tweede span het die voorwedstryd met mooi hardlooprugby en goeie samespel tussen voor- en agterspelers 43-13 gewen.
Roger Cupido (2), Norman Theo, Warwick May, Riaan Daniels, Ernest Jacobs en Randall George het drieë gedruk, terwyl Randall George en Arnold Fortuin elkeen met twee doelskoppe suksesvol was.
Gardens wat tans tweede op die Derde Liga punteleer lê, speel Saterdag tuis teen Langa, die huidige liga-voorlopers. |
|
|
|
|