safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday 13 June 2002

uitlefstreep

This site will be updated on: 20 June 2002 at 17:00

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Nuus - News


Erfgenaam 'soek'

Malané Bosman

[ Top ]


wBoetie23DIT gons steeds op Wellington ná 'n advertensie oor 'n jong man wat glo vermis geraak het enkele dae nadat hy 'n erflating van die vrou wat hy tot haar dood help oppas het, vir R100 000 en 'n motor afgeteken het.

Boetie Theron, die eggenoot van wyle Marina Theron, beoog regstappe teen die persoon wat 'n dubbelsinnige advertensie oor die verdwyning en 'n beloning vir die opspoor van Pierre de Vries - lewend of dood - in verskeie

koerante geplaas het.

Boetie Theron

Boetie Theron is 'n  gesiene sakeman in Wellington. Ná 36 jaar as eienaar van Boland Drukpers, is hy ook al as Wellingtonner van die Jaar aangewys.

Marina was 'n diabeet wat ses maande voor haar dood 'n been verloor het. Die Therons was besig om te skei en het apart gewoon.

Met haar ernstige siekte is die egskeidingsgeding teruggetrek en is verpleegsters aangestel wat haar versorg het.

De Vries is in September 1999 op parool in die sorg van sy tante geplaas, waar hy gewoon het tot met haar dood 10 maande later.

In 'n veranderde testament het sy kort voor haar dood haar helfte van die boedel aan haar susterskind bemaak.

Theron wou eers die testament betwis, maar De Vries het met sy oom 'n skikking aangegaan, R100 000 en 'n wit BMW geneem, en in die niet verdwyn.

Sy ma in Bellville, sy pa wat op Riebeek-Wes en sy broer op Malmesbury, het sedert Julie 2000 nog niks van hom gehoor nie. Hulle vrees dat die "saggeaarde jong man dalk gekaap of met verkeerde mense deurmekaar geraak" het.

Die polisie het vasgestel dat R50 000 binne twee maande uit sy bankrekening getrek is. Volgens 'n privaatspeurder is daar bewyse dat De Vries in April 2001 nog in die Pretoria omgewing gesien is.

De Vries het al voorheen met die gereg gebots en wil dalk nie gevind word nie, meen ondersoekers.

Chris Bellinghann, die ingenieur van Bellville wat die gewraakte advertensie in die koerante laat plaas het, was vroeër bevriend met Theron se nuwe eggenote.

Net soos De Vries se gesin, distansieer die Theron familie hulle geheel en al van Bellinghann.

Boetie Theron wil graag die einde van die sage sien. Soos ander Wellingtonners glo hy "dit is 'n klug", bedoel om hom "swart te smeer". Sy gewete is skoon.

Die polisie-inspekteur wat die verdwyning ondersoek, het 'n verklaring dat De Vries sou gesê het hy "weet hoe om weg te raak".

'n Speuragentskap en 'n prokureur wat die geldigheid van die testament en skikkingsooreenkoms ondersoek, het "geen rede om ongerymdhede of misdaad te vermoed nie."


Klein Parys aan wynfirma verkoop

[ Top ]


DIE historiese plaas Klein Parys, geleë teenaan die Paarl, is deur West Coast Vineyards Properties (Edms) Beperk op 'n openbare veiling gekoop om strategiese redes vir die West Coast Vineyards groep (WCV).

WCV is 'n Paarl gebaseerde groep wat ten volle deur drie Paarlse sakelui, Jannie Vermeulen, Bennie van Rensburg en Kosie Moller, besit word.

Die groep fokus op die uitvoer van wyn en die vestiging van handelsmerke.

Klein Parys sal 'n belangrike skakel vorm in die strategiese ketting met betrekking tot die verskaffing van premium wyne met 'n kultuurryke plaas as basis, is gesê.

Daar word beplan om die historiese geboue op die plaas te restoureer en 'n moderne kelder binne die bestaande keldergebou te vestig.

"Die plaas, opstal en kelder moet weer as 'n geheel 'n sieraad vir die Paarl wees."

"Wat die werkers op die plaas betref, sal alle gevestigde regte eerbiedig word. Die arbeidsbehoefte vir die landboukundige sy van die plaas word nog bepaal en sal aan die werkers gekommunikeer word.

"'n Onmiddellike prioriteit is egter om die werkers se koopkrag te herstel."


Bus driver terrorised

[ Top ]


A GROUP of armed men attempted to hijack a large school bus on Thursday at the New Orleans municipal sportsgrounds in Paarl East, whilst the driver was waiting for schoolchildren from Bridge House Private School to finish their sports matches against a local school.

About a quarter of the way through the second half of the u.11 football match against Magnolia Primary, a number of Bridge House pupils noticed. young men circling the vehicle, whereupon they entered the bus and held the driver at gunpoint, demanding the keys to the bus.

The terrified driver refused to hand over the keys at which they threatened to shoot him. He is a long-time employee of a transport company from Wellington.

Instead the men stole various valuable items, including a watch, cellphone, television set and video player, sports kitbag and wallet.


Hulle jag met mening

[ Top ]


DIE tien lede van die Paarlse Misdaadvoorkomingseenheid spog met 'n suksesrekord soos min.

Die manne kry min rusdae en werk ongereelde ure terwyl hulle smokkelhuise op ongelisensieerde persele deursoek, padblokkades beman en prostitute aankeer.

Hulle verleen ook bystand met prioriteitsmisdade soos gewapende rowe, huisbrake en diefstal uit motorvoertuie.

In die twee jaar van sy bestaan het die eenheid 820 arrestasies uitgevoer vir ernstige misdade en nog 1680 vir minder ernstige oortredings.

Agtien ongelisensieerde vuurwapens is uit sirkulasie gehaal en 13 gesteelde voertuie is teruggekry.

Beslag is gelê op meer as 75 000 liter drank, 55kg dagga, 250 Mandrax pille en 50 dobbelmasjiene.

Honderde duisende rande se gesteelde eiendom, waaronder rekenaars, televisiestelle en gereedskap, is al aan die eienaars besorg.

Drie van die eenheid se lede is met die Boland se Vangs van die Maand-titel bekroon toe hulle drie rowers aangekeer het wat later met 21 ander rooftogte in die Wes-Kaap verbind was.

Die bevelvoerder, kapt Aubrey Marais, is veral trots daarop dat in die twee jaar net een lid 'n halwe dag afwesig was, toe hy 'n ernstige asma-aanval gehad het.

Hy sê die eenheid verbind hom tot die nasionale doelwit, om gemeenskappe te betrek by die bekamping van misdaad.

Hy versoek dat die publiek inligting oordra en belowe dat dit vertroulik hanteer sal word.

 "Dit is goed om te kan sê daar is nog polisielede wat met groot entoesiasme die gemeenskap dien en beskerm," sê kapt Marais.

* Paarl's crime prevention unit boasts an unprecedented success record.


'Politieke' huwelik

[ Top ]


"EK het besluit om van hom 'n eerbare man te maak".

So spot die politikus dr Audrey van Zyl (60) van die Paarl nadat sy verlede week in België getroud is met dr Jef Valkeniers (69), senior Belgiese parlementslid en oudburgemeester van die dorp Dilbeek. Albei is medici.

Die paartjie het mekaar in België ontmoet waar dr Van Zyl 22 jaar in politieke ballingskap gewoon het voordat sy in 1998 na Suid-Afrika teruggekeer het op versoek van die NNP.

Dr Valkeniers het sterk bande met Suid-Afrika, waar van sy kinders en kleinkinders woon.

"Ek het besluit om van Jef 'n eerbare man te maak en met hom te trou," het sy vandeesweek gelag.

"Die huwelik was baie gesellig en klein - net Jef se drie getroude kinders, die stadsraad van Dilbeek en ons huispersoneel was aanwesig."

Omdat Valkeniers 'n bekende en langsdienende Belgiese parlementslid is, is die huwelik deur die media gedek.

"Na die plegtigheid was daar 'n onthaal in die stadhuis, waarna ons in 'n bekende restaurant gaan eet het.

"Ons is van plan om binne twee of drie maande 'n huweliksfees in Suid-Afrika te gee vir ons vriende en kollegas."

Van Zyl was reeds Sondag terug in Suid-Afrika om voor te berei vir haar Hooggeregshofsaak teen die NNP, wat haar geskors het as LPP nadat sy by Gerald Morkel gestaan het in sy besluit om die DA te steun. Sy het ook 'n saak van seksuele teistering teen premier Peter Marais gemaak.

Terwyl sy nou in België was, het sy onderhandel met die Belgiese minister van armoedeverligting oor steun aan tandheelkundige projekte waardeur besoekende Belgiese tandartse in Suid-Afrika sal werk, asook 'n projek oor geweld teen en teistering van vroue.

* Paarl politician Dr Audrey van Zyl was married in Belgium last week.


Misdaad by die meter

Malané Bosman

[ Top ]


wnick22DAAR is weinig sakeondernemings in die Paarl wat nog nie onder inbrekers deurgeloop het nie, maar om maandeliks besteel te word, maak jou moedeloos.

Dis die situasie waarin Nick Brittz hom bevind aan Drommedarisstraat in die Daljosafat industriële gebied.

Brittz en sy seun het in Junie verlede jaar

hul ingenieursfirma in Meterpark ingerig.

Die eerste drie maande het alles goed

RAAD-OP. Nick Brittz is raad-op teen inbrekers by sy fabriek in Drommedarisstraat, Daljosafat.

gegaan. Tot Oktober, toe 'n houtdeur oopgeskop is en duur krag- en handgereedskap weggedra is.

Die volgende weke was daar talle pogings tot inbraak, pogings wat sou geslaag het indien Brittz se eie werknemers nie die perseel 24 uur van die dag opgepas het nie.

In Februarie is 'n staal skuifdeur van die spoor af gedwing en het die inbrekers hulself weer gehelp. Die deur is daarna vasgesweis.

In April is 'n ander skuifdeur oopgebreek.

Op 2 Mei is 'n veiligheidshek uit die muur geruk.

Drie weke later is 'n staal sydeur oopgebreek, en het die inbrekers hul pad tot binne in die stoorkamer in die fabriekgebou oopgetrap.

In Junie is 'n tweede sydeur oopgebreek. Die staalplate is eenvoudig uit die deur getrap.

"Ons het al elke deur versterk, op ons eie onkoste. Ons moet ook die skade wat inbrekers veroorsaak, self betaal.

"Daar is sensors wat elke beweging in die gebou optel en die alarm aktiveer. Hier is gewapende reaksie en ons bly gereelde klante van die versekeraars.

"Paarl AC Rottweiler is deur die eienaar van die perseel gekontrakteer om na die sekuriteit om te sien.

"Wat maak ons wanneer ons op skade afkom en die sekuriteitsmanne het, nadat die alarm die vorige nag geaktiveer was, niks buitengewoon opgemerk toe hulle die perseel besoek het nie?

"Of ons kom in die nag drie-uur kyk of alles reg is, en ons moet die sekuriteitswag wakker maak?

"Ons trek nou hier uit, so kan ons nie aangaan nie," het 'n moedelose Brittz verlede week gesê.

"'n Mens raak bitter en jy raak negatief. Hierdie is my seun se firma. Hy is nog skaars 21 jaar oud. Hoe moet hy nou vertroue in die toekoms hê?

"Hy kon vir tien ander jong mans ook werk verskaf, maar dit sukkel. Hy het al duisende rande skade gely. Waar gaan dit ophou?.

"Die Paarl word 'n misdaadmekka. Die polisie is wonderlik, maar wat moet hulle doen? Die inbrekers kry 'n prokureur en is binne ure op borgtog uit. Dan lê hulle nog  'n klag van aanranding teen die polisie. Hulle  is al net so gefrustreerd."

Sekuriteitsman Alan Carollissen meen: "Misdaad is aan die orde van die dag en dit is hartverskeurend om te sien hoe nadelig dit die breër publiek raak, maar juis daarom is ons hier. Ons kan egter nie waak teen beide die misdadiger en kliënte wie moontlik die situasie uitbuit nie."

'n Woordvoerder van Meterpark sê alle moontlike bystand word aan die huurders gegee om die probleem aan te spreek.

* Paarl businesses are threatened by closure due to a continued onslaught by burglars.


Verlede geboekstaaf

[ Top ]


DIE inisiatief, dryfkrag en deursettingsvermoë van dr Etienne Smit, afgetrede rektor van die ou OKB, is onlangs beloon toe die geskiedenis van Wellington (geboekstaaf in drie volumes) amptelik aan Herman Bailey, onderburgemeester van Drakenstein, oorhandig is. 

Die volumes beslaan ver meer as 1 000 getikte bladsye, sonder foto's. Die alfabetiese indeks alleen bestaan uit 65 bladsye. 

Die geskiedenis begin by die vroeë bewoners van die vallei en dateer tot 2000. Dit beskryf hoe die plase uitgegee is, die totstandkoming van gemeentes en kerkgenootskappe, kulturele organisasies, sportklubs, opvoedingsinstansies, munisipale aangeleenthede, belangrike gebeurlikhede soos die groot brand en natuurlik die storierykdom van Wellington en die distrik.  

Kortom, die wel en wee van alle fasette van die dorp en sy  mense word beskryf.

Dr Smit en sy hoofsaaklik afgetrede helpers het sowat vyf jaar gelede begin om hierdie ontsaglike taak aan te pak en sien reeds kans om volume vier, waarvan die buiteblad al voorberei is, ook af te handel.

Dit sal voltooi word sodra ontbrekende inligting bekom is. 

Van die helpers getuig dat dr Smit met galante bulhondtaktiek hulle aangespoor en geïnspireer het met hul navorsing. 

Hoe voel 'n mens nadat so 'n groot taak afgehandel is. Volgens Smit is hy dankbaar dat die geboorteproses verby is en is hy bly om die baba vir 'n wyle in sy wieg te laat. 

Vir navorsingsdoeleindes sal daar eksemplare geplaas word in die museum en die biblioteke en twee afskrifte is geskenk aan die Munisipaliteit. 

* A history of Wellington has been compiled by residents.


Inbreek loon nie

[ Top ]


IN Wellington glimlag die polisie, want die getal huisbrake het "noemenswaardig" afgeneem.

"Daar is verskeie redes daarvoor," meen speurhoof kapt John Adams.

"Maar seker die belangrikste is dat ons die ontvangers van gesteelde goedere goed begin vastrap het. Verskeie arrestasies is gemaak en die oortreders is aangekla."

Die nuutgestigte huisbraaktak het met bystand van die weermag en lede van die openbare orde polisie uit die Paarl gepatrolleer en links en regs toegeslaan.

In die maand van Mei is daar byna 40 arrestasies gemaak en is goedere ter waarde van honderde duisende rande teruggekry.

"Dit gaan nie net daaroor om die huisbrekers te keer nie. Ons moet die ontvangers van gesteelde eiendom agter tralies sit en ons wil die slagoffers se goedere vir hulle terugkry," het kapt Adams gesê.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za