|
L'Eveque styl van korsgewaste kase, het in hul kategorieë koning gekraai. Fairview het ook twee brons medaljes ingeoes.
Meer as 870 kase van die VK, Europa, die VSA, Kanada, Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland is vir die kompetisie ingeskryf, wat vir die twaalfde agtereenvolgende jaar gehou is.
Die goue medaljes vir beide die Fairview-kase is uitsonderlik, want albei kase is na mense vernoem wat 'n besondere bydrae tot die vestiging van die kaasmakery op Fairview gelewer het.
Met sy prestasie het Charles dit duidelik onder die Franse se aandag gebring dat hy hulle nie slegs met sy wyne die stryd kan aansê nie, maar ook met hul beste kase kan meeding.
Veral Pont L'Veque word as 'n ikoon-kategorie in Frankryk beskou en die La Beryl, wat na Charles se oorlede moeder vernoem is, het as wenner in die kategorie uitgetroon.
Roydon Gird was 'n gerespekteerde lid van Fairview se span kaasmakers en het 'n besondere bydrae gelewer om die handelsmerk in die kollig te plaas.
Hy het drie jaar gelede in 'n motorongeluk omgekom en sy Camembert-kaas, van gepasteuriseerde Jersey-melk, is 'n huldeblyk aan hom.
Die Roydon het ook 'n brons medalje gekry vir die kategorie van kase wat van meer as een soort dier se melk gemaak is. Dit bevat 'n klein hoeveelheid bokmelk.
Die derde medalje was vir 'n Fairview-roomkaas met heuning en Dukkah en is ook van volroom Jersey-melk gemaak, met nagereg-tipe byvoegings.
Dit is aan die volharding van die Durbanvillese suiwelkonsultant, Kobus Mulder, te danke dat die kase vir die Wêreld Kaastoekennings ingeskryf kon word.
Tot dusver het streng gesondheidsregulasies - wat deur die Europese Unie uitgevaardig is en deur sy amptenare toegepas word, alle kase wat nie hieraan voldoen nie, uit die kompetisie gehou.
Na nege jaar het Mulder uiteindelik toestemming gekry om 25kg kaas die VK binne te neem en was Fairview s'n onder die twintig kase in dié besending.
Volgens die kaasmaker, Louis Lourens, het elk van die span van 38, insluitende sy assistente, John Truter en Vernon Manuel, in gelyke mate tot die sukses van Fairview se kase bygedra.
"Dit is verblydend dat ons met die bestes in die wêreld kon afreken en dat ons in pas met die vereistes vir die onderskeie style is," het hy bygevoeg.
Fairview was gelukkig om net die beste bokmelk van Donald Mouton te ontvang, wat die kudde op die plaas bestuur. |