|
"TOE ek klein was wou ek net vlieg. Ek wou na matriek by die Lugmag aansluit."
So vertel Dale Cupido (25), die Paarliet wat deesdae gereeld in Moskou 'n draai maak om vir internet-biljoenêr Mark Shuttleworth by te staan met sy ruimtereis.
"Toe my aansoek by die Lugmag afgewys is, het ek my op die sakewêreld toegespits. En nou is ek in elk geval deurmekaar met pendeltuie en vuurpyle."
Cupido is die Moskouse projekkoördineerder en deel van 'n span wat Shuttleworth se vlug na die internasionale ruimtestasie (IRS) in April saam met 'n span Russiese ruimtereisigers reël.
Die beskeie jongman het aan die Hoër Jongenskool "nou nie eintlik uitgeblink" toe hy in 1994 daar gematrikuleer het nie.
Na skool het hy 'n bemarkingkursus aan die Kaapse Technikon voltooi. Hy is daarna aangestel by die bemarkingsfirma Interactive Africa. Shuttleworth is hul kliënt.
Ander projekte waarby Dale betrokke was, is die African Connection Wedren deur Afrika en die 2006 Sokker-wêreldbeker-bod.
Hy is besig met deeltydse studies in Sakewetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch.
"Die ruimte-projek is ongelooflik interessant en baie leer-saam. Dit is die eerste keer dat Suid-Afrika by so 'n groot projek betrokke is wat almal se oortuigings kan verander. Dit is so opwindend dat ons met die leiers in ruimte-tegnologie kan saamwerk."
Cupido het vandeesweek vinnig by sy ouers, Franklin en Joy Lewis, in die Paarl ingeloer. Sy broer, Lloyd (17) en suster Veda (12) van Charleston Hill is erg trots op hom.
Hy en Shuttleworth is tuis in die "Sterstad" buite Moskou.
Deesdae is hy gaande oor inkopies en erken hy weet nie wat oor hom gekom het nie, maar hy bly op "shopping sprees."
In die warm Paarl vertel Dale glimlaggend van die bibbertoestande in Moskou.
"Die temperature daal tans tot tussen minus sewentien en vyftien grade Celcius en die sneeu lê soms kniediep. Die son sak vroeg en die nagte is lank.
Hy meen die Paarlse taxi-bestuurders sal hul moses in Moskou teëkom.
Daar druk die motoriste mekaar so rond tussen die agt bane na die middestad dat daar elke oggend op pad werk toe ten minste twee botsings is.
"Ek is darem al 'n paar Russiese woorde magtig, maar dis die minimum," sê hy.
Oor 'n moontlike Russiese liefde wy hy nie uit nie.
* Paarlite Dale Cupido is a regular visitor to Moscow as project manager for space traveller Mark Shuttleworth. |