|
EKONOMIESE boulwerk en 'n goeie vertoning deur 'n ou staatmaker, het Paarl-Oos Polisie I die naweek 'n oorwinning oor Maties II besorg en van 'n plek verseker in die eindstryd van die Boland Premierliga se eendagreeks.
Maties II het 181 op die telbord gesit ná sterk beurte deur D van der Walt (69) en F Holzhausen (26).
Danksy gedissiplineerde boulwerk deur Paarl-Oos se George Randall (2/20 in 9bb), Justin Watts (2/27 in 7bb) en Zynodien Fredericks (3/47 in 10bb) het die Maties se teiken nie weghol-proporsies aangeneem nie.
Die tuisspan kolwers het met mening onder die boulwerk ingeklim, met veral Wayne Jantjies wat sy teenwoordigheid laat geld het.
Jantjies wat regdeur die seisoen die lopies ingeryg het, het weer 'n puik beurt beleef. Sy 72 lopies het tien grenshoue en twee sesse ingesluit.
Bruce Miller (31) en Edgar Watts (20) het bygedra tot die poging.
In die 47ste beurt slaan Paarl-Oos die wenlopies en bespreek so vir hom 'n plek in Saterdag se finaal. Paarl-Oos Polisie I kom op Coetzenburg teen Brackenfell te staan. Spel begin om 10:00.
Die tweede span kom die naweek tuis teen Paarl III te staan vir die derde plek in die tweede liga B-afdeling.
Wellington in krieketeindstryd
Wellington se tweede krieketspan het die afgelope naweek Paarl-Oos Polisie II oortuigend geklop in hul eendagkragmeting om so vir hulself 'n plek in die eindstryd van die tweede liga se B-afdeling los te speel.
Wellington se kolwers het eerste kans gekry om te sien hoe lopie-vriendelik die blad van die New Orleans-veld is.
Vol lopies was die blad beslis, met Richard Bennett wat veral met die kolf getoor het. Bennett se onoorwonne 106 het agt grenshoue en een ses ingesluit.
Louis Duvenage en Richard Stroebel het elk 'n goeie beurt gespeel deur elkeen 30 lopies aan te teken. Die besoekers kolf hul 50 beurte deur en teken 227/6 aan.
Mark Johnson het met die bal uitgeblink deur twee paaltjies in te oes en 32 lopies af te staan in sy tien beurte. Ferdie Jonathan (2/50 in 10bb) en Bradley Davids (2/32 in 6bb) het ook paaltjies geneem.
Die tuisspan se kolwers kon nie dieselfde sukses behaal nie en word almal uitgehaal vir slegs 124 lopies. Gerswhin Davids (25) en Brian Oppelt (18) was die voorste lopiemakers.
Wellington se Niel O'Connell (3/27 in 8bb), Chicken Olivier (3/24 in 5bb) en Leon Labuschagne (3/23 in 4) het die Paarl-Oos kolwers onder druk gehou.
Wellington II kom die naweek in die eindstryd teen Brackenfell II te staan op Brackenfell.
* Wellington I het die naweek vir Coronations I met ses paaltjies geklop.
Wellington se Rudy de Bruyn (4/27 in 7bb) het gehelp om Coronations tot 165/10 te beperk.
Die Wellington kolwers slaan die wenlopies met slegs vier paaltjies plat.
Fritz Basson se onoorwonne 69 was die grootste telling vir Wellington. Hy is goed bygestaan deur Wikus van Lill (27).
Wellington I speel Saterdag teen Victoriane vir die vyfde plek in die Boland Superliga. |