|
die afgelope vier jaar drie maal per week nierdialise moes ontvang om te oorleef.
Die dialise is baie duur, uitputtend en tydrowend.
"Sy was al minder beskikbaar vir haar kind omdat sy so baie ure in die hospitaal was en moes 'n uiters beperkte dieet volg," vertel Basjan.
Twee jaar gelede is die hele familie, pa Vincent, ma Elize, Basjan en sy susters getoets om te bepaal wie se weefsel die geskikste sou wees om te dien as nierskenker vir Reinie.
Toe dit blyk dat Basjan, 'n uitvoerdruiweboer, die geskikste skenker in die familie is, en geen ander skenkernier gevind kon word nie, moes die besluit geneem word.
"Dis 'n groot risiko. Die skenker verloor een nier, en as hy of sy dan 'n siekte kry wat die ander nier aanval, sit hy in dieselfde bootjie as die pasiënt. Boonop is enige operasie 'n risiko.
"Vir my was dit vanselfsprekend dat ek my nier sou skenk, want sy is tog my suster en ons is baie na aan mekaar, maar vir my vrou Esna, was dit 'n groot besluit," vertel Basjan.
In April vanjaar, na die druiwe-oestyd, is die operasie in die Groote Schuur Hospitaal uitgevoer deur prof Del Kahn en sy span. Teen daardie tyd het Reinie net 46 kg geweeg weens haar siekte.
"Ons is vooraf deeglik voorberei en ingelig oor alles wat sou gebeur, maar skielik moes ons groet en elkeen in 'n afsonderlike teater ingaan."
Die operasie het goed afgeloop, maar daar was kommer toe Basjan 'n paar dae later komplikasies gekry het weens dermstilstand.
"Die pyn van die operasie was nie naastenby so erg soos daardie paar dae nie," vertel hy.
Gelukkig het hy gou herstel en is 'n week na die operasie ontslaan. Reinie was nege dae in die hospitaal.
Sy sê: "Dit was 'n baie geseënde operasie - dit was fantasties van Basjan om die nier te skenk. Hy het nooit vir 'n oomblik gehuiwer toe die geleentheid kom nie."
Reinie word steeds gereeld gemonitor en moet middels neem om verwerping te onderdruk, maar lei andersins 'n totaal normale lewe. Sy het onlangs as eiendomsagent begin werk.
"Haar nierfunksie is nou normaal, sy kan nou alles eet en geniet wat ons geniet.
"Reinie was onlangs vir twee weke Botswana toe - die eerste keer in vier jaar dat sy die Kaap kon verlaat vir 'n vakansie. Dit alleen was vir my 'n groot beloning," sê Basjan bly.
Hoe sê 'n mens dankie vir 'n nier en 'n lewe?
"Ek bel vir Basjan gereeld of stuur net 'n SMS om te vertel wat ek doen en hoe ek die lewe geniet. Maar jy kan nooit in woorde of geld genoeg dankie sê nie."
Volgende maand gaan al die Bruwers saam 'n gedenklaning plattaanbome plant om Reinie se herstel te gedenk.
Vir navrae oor orgaanskenking, kontak die SA Orgaanstigting by 080-22-6611.
* A Paarl man donated a kidney to his sister, who was seriously ill. |