ppostgothic
safetop Aida
uitlefstreep

Thursday 15 April 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 22 April  2004 at 17:30

Sport

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

wvlagFC

WENHOU. Dawie van der Walt van die Paarl het verlede week die Westlake klubkampioenskappe gewen. Sy rondetellings van 67, 76, 68 en 71 het hom 'n totaal van 282, ses onder baansyfer, gegee. Van der Walt slyp tans vir die WP Amateur Ope op 27 April in Milnerton en die Boland Ope wat op 1 en 2 Mei op die Devonvale Gholfbaan beslis word.


Meisies moker met mening

[ Top ]


DIE Boland vrouekrieketspan het verlede naweek geskiedenis gemaak toe hulle die eerste wenners van die nasionale vroueliga geword het.

Maande van harde werk en voorbereiding het vrugte afgewerp toe die Boland vir Oostelike Provinsie tydens die eindstryd in Port Elizabeth laat les opsê het.

Boland het die loot gewen en besluit om eerste te kolf.

Goeie bydraes deur elkeen van die kolwers het die besoekers op 231/9 gebring. Madelein Lötter (49) en Denise Reid (46) het die ankerrolle vervul wat die ander kolwers die vryheid gelaat het om die lopies te jaag.

Helmien Rambaldo (28), Beth Catledge (28) en Meréce Mackier (19) het uitgeblink in hul ondersteunende rolle.

Hoewel die Boland vasbeslote was om die tuisspan te beperk, het OP met 'n blitsige tempo weggespring en ná 14 beurte reeds 61 lopies op die bord gehad voor die eerste paaltjie gekantel het.

Die ander OP-kolwers het hard probeer, maar met paaltjies wat op reëlmaat val, het hul hoop al verder gesak.

Josie Barnard (3/17), Sunette Loubser (2/19) and Alecia Smith (2/32) was Boland se staatmakers met die bal. Hulle is goed ondersteun deur die res van die span se flink veldwerk.

OP kry slegs 124 voordat almal terug pawiljoen toe gestuur word en Boland verseker so 'n geskiedkundige wen van 107 lopies.

"Ons sukses kan toegeskryf word aan goeie dissipline, harde werk en deursettingsvermoë. Daarby was die spelers ook baie toegewyd teenoor hul taak," sê die Boland vrouespan se afrigter, Noor Rhoode.

Hy voeg by dat die omskakeling van 'n weeklange interprovinsiale vrouetoernooi wat in 1995 begin het, na 'n nasionale liga oor etlike maande ook 'n rol   gespeel het.

"Ons het 'n plan gehad en geweet waarna ons werk. Ek dink dit is waar ons beter was as die ander provinsies.

"Hulle was nie voorbereid op die nuwe ligastruktuur nie. Terwyl ons al vroeg in die afseisoen met 'n winterprogram begin het, het hulle eers begin oefen toe die seisoen op hulle was."

Rhoode sê dat die nuwe franchise-stelsel glad nie die vroueliga sal beïnvloed nie.

"Vrouekrieket is tans streng amateur. Spelers moet onbetaalde verlof van die werk neem en duisende kilometers in Boland Krieketontwikkeling se bussie aflê.

"Maar dit is 'n sport wat definitief groei. Ons sukkel net om nog vrouekrieketklubs te stig en hier moet die mansklubs help met dinge soos infrastruktuur en veld. Ons hoop dat die ligawen selfs meer spelers uit die Boland sal lok," sê Noor.

Daar is tans net drie vrouekrieketklubs in die Boland - Young Peoples, Van der Stel en Coronations.

Aubrey Petersen, Meréce Mackier, Veronique Whitebooi en Ashlin Kilowan wat ook die SA-span teen Engeland in Maart verteenwoordig het, is die Paarliete wat vir Boland gespeel het.

Die Boland-span wat sedert 1998 provinsiaal deelneem, het 12 wedstryde gespeel waarvan die een teen Vrystaat uitgereën is en hulle die een teen Oostelike Provinsie verloor het. Die res was almal seges.

Al elf die krieketprovinsies neem aan die nasionale vroueliga deel met Boland, WP, OP Griekwas, Grens en Vrystaat wat vanjaar in die Kus-afdeling gespeel het, terwyl Gauteng, Kwazulu-Natal, Noordelikes, Oostelikes en Noordwes sake in die Binneland-afdeling uitgespook het.

OP en Boland het eerste en tweede in hul afdeling geëindig met Gauteng en Noordelikes die twee topgekeurdes in hul afdeling.

OP het Noordelikes met 62 lopies in die een halfeindstryd geklop, terwyl Boland vir Gauteng in hul halfeindwedstryd met ses paaltjies laat les opsê het.


Kaartjies vir koeskrieket-aksie

[ Top ]


KRIEKETGEESDRIFTIGES in die Boland kan hul reghou vir groot mokerkrieket wanneer 'n Standard Bank Pro20-wedstryd môre vir die eerste keer op Boland Park in die Paarl gespeel word.

Die nuwe franchise spanne van die Westelike Provinsie, Boland en die Good Year Arende sal mekaar in die nuwe, opwindende reeks in die skadu van die Paarlberg die stryd aansê.

Die Arende se mokerman, Loots Bosman, het reeds teen die Kwazulu-Natal Dolfyne gewys waartoe hy in staat is, deur 84 lopies van slegs 44 balle te moker.

Sy onoorwonne blitsbeurt het ses grenshoue en ses sesse ingesluit.

Voeg hierby groot kanonne van die Wes-Kaapse span soos Graeme Smith, Jacques Kallis, Herschelle Gibbs en Andrew Puttick en toeskouers sal aandagtig moet kyk om te verhoed dat hulle op die graswalle raakgeslaan word.

Die verkorte weergawe van die spel is die nuwe krieket-tendens en beloof drie uur van aanhoudende aksie. Dis sportvermaak op sy beste, dis vinnig, pret, 'n naelskou-ondervinding en aanhoudende aksie, aksie en nogmaals aksie.

Die wedstryd begin om 17:30 en hekke open om 16:00. Kaartjies is R20 (R10 vir skoliere) en kan by Boland Kriekeraad gekoop word.

* Die Paarl Post in samewerking met WP en Boland Krieket gee 20 gelukkige lesers die kans om 'n dubbelkaartjie vir die wedstryd te wen.

Skakel die Paarl Post kantore op 872-6889 tussen 13:00 en 13:15 vandag en beantwoord dié maklike vraag om te wen: "Hoeveel beurte kolf elke span in die nuwe Pro20 reeks?"


Sterk Boland atletiekspan op pad na SA kampioenskappe

[ Top ]


DIE keurders van Boland Atletiek het 'n sterk span van 27 atlete gekies wat op 16 en 17 April in Durban aan die 2004 Olimpiese Atletiekproewe sal deelneem.

Die senior span sal poog om die juniors se onlangse prestasie na te doen, waar hulle 'n skitterende 28 medaljes tydens die Suid-Afrikaanse Jeug en Junior Kampioenskappe ingeoes het.

Die junior span kon verlede jaar slegs met 14 medaljes spog.

Die Boland senior span sal aangevoer word deur Okkert Brits, wat verlede jaar gekeur is as die beste paalspringer in die wêreld.

Brits wat ook verlede jaar 'n silwermedalje gewen het by die IAAF Wêreld Kampioenskappe, is die volslae gunsteling om sy titel as SA Paalspringkampioen vir die twaalfde keer suksesvol te verdedig.

Frans Kruger, Olimpiese brons medaljewenner en 2003 se Wêreld nommer twee diskusgooier, het ook vanjaar by die Boland Span aangesluit, tesame met Anellie van Wyk, die Afrika Kampioen en Afrika Junior Paalspring Rekordhouer.

Die span word verder versterk deur Fanie Jacobs, nog 'n paalspringer en wenner van 'n silwermedalje in die 2003 Afrika Kampioenskappe.

Verskeie juniors wat hoop om te kwalifiseer vir vanjaar se Wêreld Junior Kampioenskappe is ook in die span opgeneem.

Hulle is Schalk Pienaar (110mH), Johan Koen (400mH), Alrico Farmer (v/s), Regan Julius (v/s), Keenan Watson (v/s) en Marné van den Burgh (p/s). Hierdie atlete is tans almal gelys onder die top 10 in Suid-Afrika in hul onderskeie items.

Nicole Loesch wat onlangs die goue medalje gewen het by die 2004 SA Junior Kampioenskappe, gaan poog om saam met haar spanmaats, Annelie van Wyk, Lindi Roux, Van den Burgh en Retha du Plessis die goue medalje terug te bring Boland toe.

Die volledige span is: Che Bermoski (400m), Nathan Beukes (800m), Garreth Maarman (800m), Ashley Mapisa (800m), Gregory Viljoen (1500m), Alfonso Primo (3000m h/w), Schalk Pienaar (110mH), Pieter de Villiers (400mH), Johan Koen (400mH), Alrico Farmer (v/s), Regan Julius (v/s), Keenan Watson (v/s), Elmarco Mathews (d/s), Okkert Brits (p/s), Johan du Plessis (p/s), Fanie Jacobs (p/s), Francois Coetzer (p/s), Frantz Kruger (d/g), Sors Joubert (tienkamp), Eviline Julies (800m), Nicole Marais (800m), Daniele Olivier (v/s), Annelie van Wyk (p/s), Lindi Roux (p/s), Nicole Loesch (p/s), Marné van den Burgh (p/s), Retha du Plessis (p/s), Tarryn Bright (s/g).

Die Boland senior span het verlede jaar sewe medaljes gewen by die SA Senior Kampioenskappe.


Roses deel trofee in Paas-toernooi

[ Top ]


IN 'n harde eindstryd het Roses United die titel om die Oasis Easter Bonanza Rugbytoernooi op Groenpunt-stadion met Silvertree Rugbyklub gedeel.

Die spanne se 0-0 gelykopuitslag het beteken dat hulle die prysgeld en trofee moes deel.

Roses kon met gemak die wedstryd wen, maar het te veel kanse verbrou. Verskeie maklike strafdoele kon nie in punte omskep word nie, en heelwat goeie bewegings kon nie afgerond word nie.

Voorlangs het die agttal van Roses goed gelyk met Ignacio Korabie (agtsteman), Burton Abrahams (slot) en Michael Abrahams (flank) wat die hardste ingeklim het.

Die agterspelers het egter 'n afdag gehad en kon nie die sake in hul span se guns swaai nie. 

In die aanloop tot die eindstryd het Roses eers met Cities (75-0) klaargespeel en daarna die hoog aangeskrewe span van Primroses 33-7 geklop.

In dié wedstryd het Brandon April (vleuel) en Claude Arendse (senter) elk twee drieë gedruk en Charl Williams die ander drie. Arendse het vier drieë verdoel.

In die halfeindstryd het Roses in 'n spannende wedstryd die span van Watsonia met 15-8 geklop.

Dié wedstryd was amper tot aan die einde gelykop, maar Roses het die knoop deurgehaak met 'n drie deur Deon Williams (vleuel) in die doodsnikke.

Die res van die punte het 'n drie deur Brandon Abrahams (vleuel) en 'n doelskop en strafdoel deur Arendse (senter) behels.

Roses speel Saterdag in hul Boland Superliga A1 wedstryd weg teen Ceres. Die bus vertrek om 10:00 vanaf Hillcrest en is R20.


Help stappers van Johannesburg na Stellenbosch

[ Top ]


TER ondersteuning van 'n lid wat binnekort van Johannesburg na Stellenbosch gaan stap, hou die Dwarsrivier Atletiekklub op 24 April 'n 8km pretstap.

Malcolm Johnson van Pniel en drie ander stappers, Eddie Michaels, Tommy Michaels en Cliff Beuatement  gaan op 8 Mei, Wêreld Rooikruisdag, vanuit die Goudstad begin stap om op 12 Junie in Stellenbosch aan te kom.

Fondse wat tydens die stap ingesamel word, sal aan die Rooikruis se Rampverligtingsfonds geskenk word en ook gebruik word in hul HIV/Vigstuisversorging- en Jeugontwikkelingsprogramme.

Die 8km pretstap wat Saterdag 24 April om 07:30 by Kylemore sportgronde wegspring, poog om fondse in te samel om die onkoste van Malcolm en sy medestappers te dek.

Medaljes is op die spel vir almal wat die stap voltooi en deelnemers staan ook die kans om trekkingspryse te wen.

Die PC Petersen Primêre Skool in Kylemore sal ook op die dag hul jaarlikse basaar hou na afloop van die staptog.

Inskrywings vir die stap is R10 (R5 vir juniors).

Vir enige navrae of besighede wat die stappers wil borg kan die klubvoorsitter, Mike Fraser, by 083-518-7272 geskakel word."


'n Toets vir perd en ruiter

[ Top ]


DAAR is seker min dinge so lekker as om die wêreld op die rug van die perd te verken en so die Afrika natuurskoon op sy beste te waardeer.

'n Uithourit oor 80km word op 29 Mei by die Hoër Landbouskool Boland gehou.

Dit is juis seker ook van die redes hoekom uithouritte vandag die grootste dissipline in Suid-Afrikaanse perdesport is.

Uithouritsport is net meer as 30 jaar gelede in Suid-Afrika gevestig. 'n Paar perdeliefhebbers het in die vroeë sewentigerjare besluit om Brittanje en Amerika na te doen en langer afstande as gewone plesierritte te perd af te lê.

Dit was 'n nederige begin, maar in dié pragtige suiderland met sy uitgestrekte vlaktes en asemrowende berge en valleie, kon die sport nie anders as om te gedy nie.

Sedert die beginjare was daar aansienlike ontwikkeling. Vanaf 1973 tot 1977 het dié groep entoesiaste hulself georganiseer as die Arabierperd Uithouritkomitee, en in 1974 die eerste nasionale rit genoem die "Arabierperd Wisseltrofee Uithourit" op Fauresmith aangebied.

In 1977 het dié komitee oorgegaan tot die stigting van die Uithouritvereniging van Suider-Afrika (UVvSA).

Uithouritsport is in die 1980's as 'n A-kategorie sport geklassifiseer. In 1987 word die UVvSA een van die eerste assosiaatlede van die European Long Distance Rides Conference (Eldric).

'n Jaar later is die eerste Springbokkleure en in 1994 die eerste nasionale kleure toegeken.

Daar is tans 1600 lede ingeskryf by klubs landwyd.

Ruiters neem in verskillende afdelings deel - kinders, juniors en seniors. Die seniors word weer in drie gewigsklasse verdeel.

Perd en ruiter moet drie 80km ritte teen 'n voorafbepaalde tyd voltooi om te kwalifiseer vir die nasionale kampioenskappe of Fauresmith.

Tydens ritte word die perde deur veeartse gemonitor en as die perde nie die ondersoeke slaag nie, word perd en ruiter gediskwalifiseer. Dit verhoed dat die diere beseer of ooreis word.

Ruiters neem ook deel aan 100 myl (160km) ritte wat gewoonlik tydens volmaannagte afgelê word.

Elke twee jaar word daar ook 'n 300 myl (480km) rit aangebied wat oor vier dae strek.

In die Wes-Kaap is daar vyf klubs waar voornemende ruiters kan aansluit. Daar word ook ritte aangebied waarby belangstellendes baie welkom is. 'n Groot poging word aangewend om die sport 'n groter toeskouersport te maak.

Vir meer inligting rakende uithouritsport, skakel Jacques Augustyn by 083-753-4487 of besoek www.erasa.co.za.


Kavaliers en Griffons pak mekaar

[ Top ]


DIE Boland Kavaliers pak Saterdag die Griffons in hul derde Vodacomskild-wedstryd van die seisoen.

Hoewel dit 'n tuiswedstryd is, sal die Kavaliers oormôre nie op die Boland Stadion uitdraf nie, maar op die sportgronde in Caledon.

Boland het hul seisoen met 'n paar hikke en stote begin, met 'n 25-30 nederlaag teen WP en 'n naelskraap 15-14 sege oor Pumas, maar het Saterdag  vir Griekwas op Kimberley met 24-13 geklop.

Die Kavaliers se afrigter, Hawies Fourie, was vandeesweek vol vertroue.

"Ons het goed verdedig en ek dink dít is wat vir ons die wedstryd gewen het. Ons het ons kanse op die aanval ook goed gebruik en daarby baie omgekeerde besit verseker.

"Ons speel elke week beter, met nog aspekte wat met elke wedstryd reg in plek val," het 'n tevrede Fourie gesê.

Hoewel hy gesê het dis jammer dat die wedstryd nie op Boland Stadion gespeel kan word nie, het hy bygevoeg dat 'n mens moet besef dit is in lyn met die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie se poging om die spel na die mense te neem.

Fourie het dieselfde span behou vir die stryd teen die Griffons. Slegs die beseerde slot, Henk Eksteen, sal deur Michael Noemdoe vervang word, met Vion Wium wat sy plek op die bank sal inneem.

Die wedstryd begin om 16:00. Dit sal 'n propvol rugbydag wees met voorwedstryde deur plaaslike hoërskoolspanne asook klubwedstryde deur Caledon en Hawston. Kaartjies is R30 (hoofpawiljoen) en R20. Toegang vir skoliere is gratis.


Newtons leer Peoples 'n rugbyles

[ Top ]


HOEWEL die Paasnaweek daarvoor verantwoordelik was dat albei Peoples en Newtons verswakte spanne in die veld gestuur het, het dit nie afbreuk gedoen aan die kwaliteit spel wat Saterdag in dié vriendskaplike wedstryd op Newtons opgedis is nie.

Dit was veral onder die voorspelers waar daar 'n titaniese stryd geheers het.

Maar die fiksheid van die Newtons-pak het die tuisspan die hef in die hand gegee, wat die basis vir die 20-5 (10-5) sege gelê het. Bradley Fortuin (flank), en Clayton Hendricks (flank) het voorlangs beïndruk.

Die twee agterlyne het mekaar ewe hard aangevat en gelyk teen mekaar opgeweeg met die Peoples-vleuel, Jacques Lategan, wat weer die gevaarman was.

Die tuisspan se drieë is deur Reggie Manuel (senter), Hansie Andries (vleuel) en Ranfred Dazel (losskakel) gedruk. Roderick Claasen (skrumskakel) het met 'n strafskop en doelskop geslaag.

Newtons se ander uitblinkers was Bronwin Julies (heelagter), John George (slot) en Mark Arendse (haker).


Al meer bofbalspelers tree aan in Boland

[ Top ]


BOFBAL is 'n sport wat astronomiese groei toon in Suid-Afrika en is ook vinnig besig om sy wortels diep in die Boland te grawe.

'n Groep van 72 skole in die Boland, 14 van hulle in die Paarl, is sedert 1998 deel van 'n program genaamd "Pitch, Hit and Run".

Die skole het al bofbaltoerusting ontvang en daar word ook gereeld by hulle afrigtingsessies gehou.

"Dit is belangrik dat die basiese vaardighede nie net aan die kinders geleer word nie, maar ook aan die onderwysers, sodat hulle weer die afrigting kan behartig," sê Mike Randall, 'n afrigter van die SA Bofbal Unie wat lid is van die Amerikaanse bofballiggaam Major League Baseball.

Hy het onlangs die graad vyfs van Dalweide Primêr 'n bietjie onder hande geneem.

Randall rig nie net regoor die land bofbal af nie, maar is ook 'n talentjagter vir die Amerikaanse bofbalspan, Kansas City Royals.

"Heelwat Suid-Afrikaners is al gekontrakteer om in Amerika te gaan bofbal speel," sê Randall.

Hoewel Suid-Afrika nie vanjaar vir die Olimpiese Spele kon kwalifiseer nie, is dit Randall se mikpunt om spelers van tussen 14 en 18 jaar te identifiseer en af te rig sodat hulle oor vier jaar die land tydens die Spele kan verteenwoordig.

Volgens Alison Carolissen, sekretaresse van Boland Bofbal, is die sport besig om plaaslik groot aanklank te vind.

"Daar is reeds kinders wat in skoolligawedstryde teen mekaar speel en daar is reeds twee klubs, in die Paarl en Worcester, waar kinders ook Saterdae klubwedstryde kan speel."

Mense wat belang stel om by die sport betrokke te raak, kan Carolissen (868-1901) of Boland Bofbal se president, Solly Adams, skakel by 082-214-0621.  


Karateka in action

[ Top ]


KARATEKA from the far corners of the Boland will gather when the Boland Children's All Style Karate Championships take place at Paarl Gymnasium High on Saturday.

The Karate Association Boland hosts this major tournament once a year where contestants from six to 15 years old participate.

Experienced competitors as well as beginners with the necessary skills to achieve great heights in this fastgrowing and popular sport will be in action.

Students will participate in Kumite and Kata divisions. Karateka achieving the top three positions in their respective age categories, will be chosen for the Karate Association Boland Children's team, and will represent Boland Karate at the South African National Children's Championships which will be held in Cape Town on 27 and 28 August.

The Boland Children's Team did very well at the nationals in Bloemfontein last year, finishing among the top five provinces and this year they are aiming to do even better against the other 21 provinces.

Spectators can share in the action when Saturday's tournament kicks off at 09:00.


Young Gardens proe sukses

[ Top ]


DIE manne van Young Gardens was Saterdag die pretbederwers by die 30ste bestaansjaarfeesvieringe van Black Leaves Rugbyklub, toe hulle die tuisspan 17-11 geklop het.

Spesiale gaste Jackie Abrahams, president van Boland Rugby Unie, Henry Paulse, oud-president van die Boland Krieketraad en minister Tasneen Essop het toegekyk hoe Gardens die Black Leaves Wisselftrofee voor die tuisspan wegraap.

Die Paarliete het voorlangs en in die agterlyn die pas aangegee.

Richard "Boesman" Abrahams (skrumskakel) is as die speler van die wedstryd aangewys. Tino Prins het al Gardens se punte aangeteken met 'n drie en vier strafdoele.

Gardens speel Saterdag in hul ligawedstryd teen hul bure, Riverstones, op Gardens Park. Toegang is R5. 


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za  

[ Top ]