|
'n SKERP toename in wynuitvoer en die gepaardgaande groei in die wynbedryf die afgelope dekade het kommer in bewarings- en wynkringe laat ontstaan dat van die sensitiewe natuurlike habitatte in die streek vir wingerduitbreiding geteiken gaan word.
'n Biodiversiteitsinisiatief is deur die Suid-Afrikaanse Wynbedryf in samewerking met Wes-Kaapse en internasionale bewaringsorganisasies begin om potensiële skade aan ekologies-sensitiewe gebiede deur die snelle uitbreiding van wingerde te voorkom.
Die pas-gestigde Biodiversiteit- en Wyninisiatief poog om die uitwerking van die wynbedryf op die omgewing te versag. Dit het ook die potensiaal dat die Suid-Afrikaanse wynbedryf 'n voorbeeld vir ander lande se wynbedrywe word.
Volgens dr Johan van Rooyen, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Wyn- en Brandewynmaatskappy (SAWB), moet die groei en uitbreiding van die plaaslike wynbedryf nie tot nadeel van die besondere planteryk en dierelewe van die streek wees nie.
"'Die Kaapse blommeryk is vanweë sy biologiese verskeidenheid van internasionale belang en is tot 'n Wêrelerfenisgebied verklaar as een van die rykste bewaarplekke van plant- en dierelewe op aarde.
"Die Wes-Kaap is egter óók die streek in Suid-Afrika wat die geskikste is vir wynboerdery. Sowat 90% van die land se wyn word in die provinsie produseer waar 95 000ha onder wingerd is."
Van Rooyen sê die ontwikkeling van wingerde het tot nou grootliks onbeheers en teen 'n snelle pas plaasgevind. "Betreklik min is gedoen om 'n wyn- boerdery te skep wat in harmonie met die ekologie is."
Volgens hom is tot dusver egter nie tekens van groot skade gevind in ondersoeke wat in opdrag van die SAWB onder die wynbedryf se Geïntegreerde Wynproduksieprogram uitgevoer is nie.
"'Die Biodiversiteit- en Wyninisiatief wat die wynbedryf saam met verskeie bewaringsliggame begin het sal egter toekomstige skade help voorkom deur wingerde te skep wat nie inbreuk maak op die natuur nie, maar 'n integrale deel daarvan is."
Ná 'n aanvanklike studie, wat deur die Botaniesevereniging van Suid-Afrika in samewerking met Conservation International uitgevoer is, het die wynbedryf deur die SAWB tesame met bewaringsliggame besluit dat die inisiatief begin moet word om beste praktyke ten opsigte van biodiversiteit in die bedryf te bevorder.
Toepaslike maatstawwe en riglyne vir groter samewerking tussen die bedryf en bewaringsliggame word nou ontwikkel. Dit sal deel gemaak word van die riglyne van die Geïntegreerde Wynproduksieprogram, wat tans deur meer as 95% van die bedryf se wyndruifprodusente en wynmakers ondersteun word.
Van Rooyen sê beide die bedryf en die bewaringsektor trek voordeel uit die inisiatief. ''Die wynbedryf trek voordeel uit die bemarkingsgeleentheid wat deur hierdie skakel met biodiversiteit geskep word, terwyl 'n belangrike rol ook gespeel word in die bestuur en bewaring van Suid-Afrika se natuurlike erfenis,'' sê hy.
''Aan die ander kant trek die bewaringsektor voordeel uit die inisiatief deur die bewaring van die mees bedreigde habitatte van die Kaapse blommeryk te bevorder."
en deur die baanbrekerswerk wat ten opsigte van beste biodiversiteitpraktyke uitgevoer gaan word. Die sukses van die projek sal die volle samewerking en betrokkenheid van beide sektore vereis.''
Van Rooyen sê die wynbedryf se verbintenis tot bewaring en omgewingsvriendelike praktyke sal die bedryf help in sy strewe om 'n groter markaandeel in internasionale markte te kry.
''Omgewingsvriendelike produksie, tesame met gehaltebeheer en besorgheid oor die etiese aspekte van produksie, is die primêre beweegrede van wynkopers in Europa en Amerika,'' verduidelik hy.
Hy sê die projek bewys ook met die nuut afgekondigde Biodiversiteitwet dat die wynbedryf op die voorpunt is van ekologiesvriendelike praktyke.
Volgens Van Rooyen is die Biodiversiteit- en Wyninisiatief deel van die SAWB se strategiese plan vir die wynbedryf, die Wynindustrieplan (WIP). Kwessies soos alkoholmisbruik en internasionale mededingendheid word deur die strategiese plan aangespreek.
Tony Hansen van Conservation International, die koördineerder van die Biodiversiteit- en Wyninisiatief, sê die projek dra die volle steun van die bedryf van direksievlak tot by wynboere.
''Die vennote van die inisiatief, naamlik die bewaringsliggame en die wynbedryf, het 'n aantal belangrike strategieë geïdentifiseer om die verlangde doelwitte te behaal,'' sê hy. ''Dit sluit in die identifisering van presteerders op die gebied wat as voorbeeld vir ander kan dien, die bevordering van bewaring-rentmeesterskap waar wynprodusente aangemoedig word om kontrakte met die Kaapse natuurbewaring aan te gaan om kritiese belangrike gebiede te bewaar en om 'n biodiversiteit-wynroete te ontwikkel.''
Conservation International is 'n bewaringsliggaam van Washington DC wat aktief betrokke is in die beskerming van gebiede wat ryk is aan biologiese verskeidenheid, maar wat bedreig word deur skadelike grondgebruike.
Hansen sê 'n biodiversiteit-wynroete wat ook oorsee bemark kan word, het die potensiaal om die plaaslike wynbedryf 'n leier op die gebied van wyn- en ekotoerisme te maak. ''Geen ander plek op aarde het die unieke kombinasie van 'n wynbedryf van wêreldgehalte, asemrowende landskappe en skaars en buitengewone plant- en dierelewe nie,'' sê hy. '
'As gevolg van die hoë aansien wat die Suid-Afrikaanse wynbedryf geniet, hoop ons dat sy voorspraak vir biodiversiteit en bewaring 'n voorbeeld sal stel vir ander bedrywe om meer biodiversiteitvriendelike praktykte te implementeer.''
Die bewaringsliggame betrokke in die Biodiversiteit- en Wyninisiatief is die Botaniesevereniging van Suid-Afrika, Conservation International, die Sentrum vir Omgewingleierskap in die Sakebedryf, die Cape Action for People and the Environment, die Nasionale Biodiversiteitinstituut, die Wes-Kaapse Natuurbewaringsraad en die Universiteit van Stellenbosch se Sentrum vir Landbou-biodiversiteit. |