|
GRAAG wil ek net my kommer uitspreek oor klubrugby op Wellington- en Newton-area.
Waar is die jeugspanne van ons geliefde dorp se rugbyspanne soos Newclares, Pirates, Rosebuds, Roslins, Westerlies, Villagers en Newtowns.
Ek is bitter teleurgesteld in die klubs se bestuurslede met die samesmelting om klubs soos Hillcrest en Roses United te stig.
Dis nie meer 'n plesier om rugby op Wellington te gaan kyk nie. In die verlede voor samesmelting was die rugby gekenmerk deur goed gemotiveerde en hardlooprugby, maar nie meer nie.
Daar is so baie goeie rugbytalent wat nou in Wellington verlore gaan. Die spelers wat nie kans kry om te speel nie, wend hulle tot drank en misdaad.
Waarom kan daar nie weer na die ou stelsel teruggekeer word nie. Ek bedoel nou, elke klub op sy eie, dan is daar mos weer mededingende rugby en sal 'n plesier wees om weer rugby op Wellington se velde te kyk.
Bied proewe aan en laat die juniors en die "ou-kroks" teen mekaar meeding dan sal daar mos weer skop in ons rugby wees.
Sal ou rugbybestuurslede asseblief antwoorde aan my verskaf.
Kom ons hou die sterre, soos Pollie Adonis, Sakkie en Johan Williams, Jeff Roneli, John Abrahams en Chrisjan (Bok) Goliath se name hoog.
Heel moontlik speel ek weer rugby as daar na die jaar, 1992, teruggekeer word.
Tony April
Mervin Petersen (voorsitter van Newtons-rugbyklub) reageer: Daar is groot begrip vir Tony April se gevoel van nostalgie oor rugbyklubs, maar verenigde rugbyklubs maak sin.
Klubs soos Roslins, Pirates, Rosebuds, Newclares en Westerlies het 'n besondere bestaansreg gehad binne 'n bepaalde tyd en ruimte. In kort, elkeen het sy sport beoefen in sy eie agterplaas.
In 'n groot mate sukkel ons nog steeds met die "backyard-sindroom".
Ons wil egter geensins afbreuk doen aan die klubs se ongeëwenaarde sukses en prestasies gelewer deur hulle sportmanne nie. Binne gegewe omstandighede is dit tot vandag toe ongeëwenaard.
Dankie dat u ons opnuut herinner aan die glorieryke dae. Dit was op daardie stadium 'n belangrike uitlaatklep vir ons gemeenskap. Ons kan egter nie toelaat dat tradisies/herinneringe en dies meer in die pad van ontwikkeling staan nie.
Sedert 1992 het ons gemeenskappe sodanig dinamies verander en noodwendig moes die sosiale- en sportpatrone daarmee saambeweeg. Ons is dankbaar dat ons, ten spyte van fundamentele verskille, ook hier die proses van samesmelting kon oorleef.
So kon Roses en Rosebuds saamsmelt om Roses United te vorm, wat tans baie kompeterend is in die Bolandse Super A-liga.
Newclares, Pirates en Westerlies het ook saamgesmelt om Hillcrest United te vorm, en is tans baie kompeterend. In dié verband het Newtons en Villagers nog 'n hekkie om te oorkom, aangesien daar 'n groot behoefte is aan 'n verenigde rugbyklub in die Newton-Vanwyksvlei-omgewing.
Die belangrikste is dat ons nooit weer sal terugbeweeg na die tagtigs en negentigs nie. Dit is reeds bewys met spelers soos Wayne Julies (Newtons) en Alshaun Bock (Roses) dat dié klubs die potensiaal het om spelers van nasionale gehalte op te lewer.
Ten opsigte van die seuns wat verlore raak vir die spel, moet ons besef dat ander sportsoorte soos sokker en krieket, asook ander sosiale patrone (hip-hop, dans) baie meer aanloklik lyk vir ons jong seuns.
Ons moet egter erken dat ons in dié verband moet dink aan die instel van onder 19 en onder 21 ligas. Sodoende sal ons ook verhoed dat belowende spelers vroeg reeds verlore raak vir die spel weens beserings.
Mnr April moet egter onthou dat dit reeds moeilik is vir die "saamgesmelte" klubs om drie volledige spanne (asook reserwes) op die veld te stuur.
Ek sou in dié verband vir mnr April aanraai om op die stadium nie sy "toks" op te hang nie, maar eerder om betrokke te raak by die bestuur van enige klub van sy keuse. Sodoende kan ons werk na 'n Verenigde Wellington Rugbyklub. |