|
DIE munisipale bestuurder van Drakenstein, Jacques Carstens, is onskuldig bevind op die klag van oneerlikheid wat die afgelope maande soos 'n swaard oor sy kop gehang het.
Advokaat Roelof van Riet, die voorsittende beampte by die dissiplinêre ondersoek, sê in sy verslag dat daar nie bewys is dat Carstens "bo alle redelike twyfel" skuldig is aan oneerlike optrede nie.
Die kern van die saak is 'n langdiensbonus van R24 086 wat aan Carstens uitbetaal is en daarmee gepaard die interpretasie van sy dienskontrak met die Drakenstein Stadsraad. 'n Tweede bedrag ter sprake, is R9 275, ten opsigte van 'n pro rata jaarlikse bonus.
Carstens, voorheen stadsklerk van Wellington, is in Desember 2000 as interim-bestuurder van die nuwe Drakenstein Munisipaliteit aangestel.
In November 2001 het die personeelafdeling hom ingelig dat hy kwalifiseer vir langdiens-erkenning, omdat hy 15 jaar munisipale diens voltooi het.
'n Paar maande later het amptenare gevind dit was 'n administratiewe fout, aangesien die verlof, opgebou gedurende sy diens op Wellington, nie vir uitbetaling kwalifiseer onder 'n ander werkgewer nie.
Hulle kon nie tot uitsluitsel kom oor die saak nie en Carstens het besluit om die geld terug te betaal.
Adv Van Riet is ook van mening dat Carstens nie op die geld geregtig is nie, aangesien sy posisie heeltemal verander het.
"'n Geheel en al nuwe kontrak ten opsigte van 'n geheel en al nuwe posisie en ook diensbedeling is toe beding.
"Ek is gevolglik van mening dat mnr Carstens nie regtens op die uitbetaling van die betrokke bedrag as synde langdienstermynvoordeel geregtig was nie, en veral nie bereken teen sy nuwe salariskoers, wat wel die geval was nie."
Oor die kwessie of Carstens oneerlik opgetree het, sê hy dit is nie bo alle redelike twyfel duidelik of Carstens geweet het dat hy nie op die uitbetaling geregtig is nie.
Wat die R9275 betref, het adv Van Riet bevind dat dié uitbetaling regmatig was.
"Dit is vanweë die feit dat mnr Carstens se aanspraak op hierdie uitbetaling nie in enige opsig staatmaak op sy dienskontrak met die Drakenstein Munisipaliteit nie, maar uitsluitlik staatmaak op sy voormalige dienskontrak met die Wellington Munisipaliteit.
In getuienis is verwys na 'n besluit van die Wellington Stadsraad dat werknemers wat langer as tien jaar diens voltooi het, geregtig sou wees op 'n pro rata betaling van hul jaarlikse bonus sou hulle die Munisipaliteit in die loop van die jaar verlaat.
Aangesien Carstens meer as tien jaar diens gehad met sy diensbeëindiging op 14 Augustus 2001, was hy dus geregtig op 'n pro rata bonus.
Adv Van Riet sê in 'n algemene opmerking "Dit is na my mening vanselfsprekend dat iemand in die posisie van 'n munisipale bestuurder (of enige ander posisie van gesag) nie oor die vermoë moet beskik om, veral in die geval van twyfel, te besluit of hy geregtig is op die uitbetaling van voordele, al dan nie.
"In daardie verband was die optrede van mnr Carstens, op die minste gesê, onwys.
"Hy was egter nie daarvoor aangekla nie, vanweë die feit dat sy dienskontrak nie spesifieke voorsiening maak daarvoor nie.
"Ek sou derhalwe voorstel dat die Raad toesien dat 'n verbod geplaas word op sodanige optrede in die toekoms."
Burgemeester
Die Uitvoerende Burgemeester, Herman Bailey, sê hy was nog altyd ten gunste van 'n skoon administrasie.
Teen hierdie agtergrond was dit noodsaaklik dat enige sweempie van ongerymdheid ondersoek moes word.
"Daarom het ons 'n behoorlike, onafhanklike ondersoek laat doen. Ek is tevrede, nou moet ons die boek toemaak en aangaan."
Na verneem word, bepaal Carstens se diensooreenkoms dat hy self sy regskostes moet dra.
Die Demokratiese Alliansie (DA) het verlede jaar reeds in 'n skrywe aan die Burgemeester hulle ernstige bedenkinge uitgespreek oor die regsgronde en die motiewe onderliggend aan die besluit van die Burgemeesterskomitee om 'n dissiplinêre ondersoek teen die Munisipale Bestuurder in te stel.
Indien dit later sou blyk dat die DA se bedenkinge geregverdig was, sal die DA daarop aandring dat die Uitvoerende Burgemeester en sy komitee verantwoordelik gehou word vir enige kostes en uitgawes verbonde aan sodanige dissiplinêre ondersoek.
Carstens is verteenwoordig deur adv AC Oosthuizen, in opdrag van Steyn Coetzee Prokureurs.
* In a disciplinary hearing, the municipal manager of Drakenstein has been cleared of allegations of dishonesty over his long service bonus. |