safetop
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 
ppostgothic
uitlefstreep

Thursday 15 July 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 22 July  2004 at 17:30

Aida

People - Mense


Om in stereo te hoor

Malané Bosman

[ Top ]


SY gaan fliek. Sy kyk video's. Sy luister musiek - en alles in stereo.

Ronel van Coller kon byna 30 jaar lank nie hoor nie, maar met kogliêre inplantings in altwee haar ore, het sy haar gehoor terug.

"Ek besef nou eers hoeveel prentjies ek gekyk het, omdat ek nie die dialoog kon volg nie," lag Ronel (41).

Sy is met normale gehoor gebore en het as jong kind masels gehad.

Volgens medici het die virus jare lank sluimerend gebly terwyl haar gehoor tien jaar lank stadig agteruit gegaan het. Op skool het sy gehoorapparate gedra.

Sy was 18 en skaars op universiteit toe die gehoor vinnig begin verswak het.

wronelFC

PRAAT MAAR, EK HOOR. Ná 'n operasie om hulle van doofheid te genees, is dit vir Ronel van Coller en klein Pippa van Heerden van die Paarl heerlik om weer stemme oor die telefoon te kan hoor.

"Ek was vreeslik depressief toe ek besef ek gaan my gehoor verloor," onthou Ronel.

"Dit het swaar gegaan. Ek kon nie en wou nie my toestand aanvaar nie."

Sy kon nie haar B.Rek. kursus voltooi nie, want terwyl sy liplees kon sy nie notas neem nie.

Ronel het toe in 'n woonstel gebly by mense wie se seun blind was. Die vrou het 'n artikel oor kogliêre inplantings gelees en Ronel is Tygerberg Hospitaal toe.

Sy is getoets, en was 'n goeie kandidaat vir die duur operasie, waarvan die eerste inplanting in 1997 gedoen is.

"Dit was 'n groot aanpassing. Dit het nege maande geduur voordat ek verstaan het wat ek hoor.

"Maar ek kon weer op die telefoon praat. Na byna 30 jaar was ek nie meer doof nie.

"Met die tweede aanskakeling na die tweede operasie verlede maand, kon ek dadelik hoor.

"Ek het nooit besef om met twee ore te hoor, gaan so 'n groot verskil maak nie. Ek kry nog baie hoofpyn weens al die klanke, maar dit sal beter raak.

"Die dokters het my herinner dat daar baie dele van die brein is wat jare laas in werking was."

In die Paarl is daar 'n grootoog blondekoppie wat binnekort  'n  tweede kogliêre inplanting kry.

Pippa van Heerden is vandag twee jaar oud.

Sy  is met normale gehoor gebore, maar vroeë kontak met waterpokkies het sy merk gelaat.

'n Vroedvrou wat op ses maande die klokkietoets op  Pippa gedoen het, het die skoknuus aan haar ouers oorgedra.

Pippa se gehoor het gaandeweg verswak tot sy op 'n jaar niks meer kon hoor nie.

Sy het in April 'n eerste inplanting gekry en van toe af reageer sy op opdragte.

Sy het leer praat, die lyfie begin beweeg op die maat van  musiek, en sy wys die vingertjie in die lug wanneer 'n vliegtuig oor die Paarl draai.

Pippa kry op 30 Augustus 'n inplanting in haar ander oor, en dan sal sy ook, soos Ronel, in stereo kan hoor.

* Two Paarlites who became deaf after measles and chicken pox, are undergoing operations to give them hearing in both ears.


Hilton kàn mos rugby speel

John Goliath

[ Top ]


WAS dit nie vir sy oorlede ouma nie, sal hy seker lankal die skool verlaat het, ook op die straat gewees en in een of ander bendebedrywigheid deurmekaar geraak het.

Só sê een van die belowendste skolerugbyspelers in die land, Hilton Lobberts (17) van die Paarl.

Hilton, 'n graad 10 leerling van New Orleans Sekondêr, speel tans die wêreld aan die brand en het onlangs oopkant-flank vir die o.19 Bokkies by die Wêreldbeker in Durban uitgedraf.

Die hotklou-flank van Bosbokwoonstelle in Chicago, het nooit sy pa geken nie en sy ma, Millicent, en sy ouma Connie, wat twee jaar gelede oorlede is, het hom grootgemaak.

whiltFC

TALENTVOL. Hilton Lobberts in aksie.

"Ek dink nog baie aan my ouma en ons was baie lief vir mekaar.

"Sy het my altyd ondersteun in alles wat ek doen, nie net in rugby nie.

"As sy my nie ondersteun het nie, was ek lankal  seker onder verkeerde invloede en sou dalk al die skool gelos het.

"Sy en my ma het 'n baie positiewe invloed op my lewe," sê Hilton.

Hilton is lank en sterk en speel al vanaf sy laerskooldae by New Orleans Primêr kookwater rugby.

Boland

 Toe hy 11 jaar oud was, het hy al in die skool se o.13 span gespeel.

Hy het hierna twee jaar agtereenvolgens vir Boland in die o.13 Craven Week uitgedraf.

Op hoërskool het hy kop en skouers bo die ander uitgestaan en het voortgegaan waar hy op die laerskool opgehou het.

In graad  9 is hy in die gesogte "Nike All Stars o.15 Elite" groep ingesluit.

Dié groep bestaan uit die room van o.15 talent in die land. Hy was toe 'n outomatiese keuse vir die o.15 Stormerspan, vir wie hy vir twee jaar uitgedraf het.

Verlede jaar is Hilton vir die eerste keer in die Boland o.18 Craven weekspan ingesluit.

In die toernooi, wat op Wellington gespeel was, het hy sy staal gewys en SA-keurders behoorlik laat regop sit.

Sy goeie spel in die toernooi is toe beloon met sy insluiting in die SA Akademie Skolespan.

Hy is toe later in die o.19 Jong Bokkies se span ingesluit en het hom so goed van sy taak gekwyt dat hy op 17-jarige ouderdom na die Suid-Afrikaanse o.21 span se oefengroep uitgenooi was.

"Dit was vir my 'n ervaring om met Super 12 manne soos Luke Watson en Derrick Hougaard te kan saamoefen, hulle is regtig van die mees talentvolle rugbysplers in die land."

Maar Hilton se rugbyhelde speel vir die wêreld se nommer een span, die All Blacks.

"Ek beskou Richie Macaw en Jerry Collins as dié beste flanke in die wêreld.

"Hulle is vinnig by die afbreekpunte en dra die bal goed wanneer dit saak maak.

"Hulle speel met baie flair en passie en dis hoe ek my rugby speel," sê hy.

Alhoewel dié manne sy helde is, is sy droom om eendag  die groen en goud van sy geboorteland oor sy breë skouers te trek.

"Ek wil graag eendag 'n regte Springbok word," meen hy.

Sy drome kan binnekort waar word, want hy kan kort voor lank vir die Boland in die Vodacom-reeks uitdraf.

Hy het alreeds saam met die span aan die begin van die jaar geoefen.

Hilton is verseker om weer vanjaar die Boland by die Cravenweek te teenwoordig, maar hy sukkel tans met 'n dyspierbesering.

Onderwyser

Volgens sy onderwyser Hankey Green is Hilton soms te mal oor die spel en wil hy nie die besering kans gee om te herstel nie.

"Hilton het nog net een wedstryd vir die skool gespeel omdat hy met dié besering sukkel.

"Dié wedstryd het ons hom op vleuel gekies sodat hy weg kan bly van die kontaksituasies," sê Green.

Ironies genoeg het Hilton 'n baie goeie wedstryd gehad en het ook 'n drie gedruk.

"Ons sorg vir Hilton en die personeel sit altyd 'n hand by as hy iets nodig het.

"Hy is vir ons 'n ster en ons is baie trots op hom," sê Green.

Hilton kry ook baie hulp van sy oud-klub Riverstones.

Hy is ook 'n goeie atleet en hardloop die 200m en 400m dat dit bars. Vir ontspanning luister hy graag musiek.

Hilton is ook nie net 'n rolmodel vir sy boeties, Arnold (5) en Warren (11) nie, maar ook vir ander jong sportmanne en vroue wat uit moeilike omstandighede kan opstaan en hulle laat tel.


Almal help Jerome

[ Top ]


MENSE soos dié motiveer my om elke oggend op te staan en met nog 'n dag te begin.

Só vertel die blinde Jerome Buys van al die hulpvaardige mense wat hom elke dag help om van die stasie tot by die werk en terug te kom.

Jerome, 'n skakelbordoperateur by die Paarlse landdroshof, woon in Elsiesrivier en ry elke dag met die trein tot op Huguenot-stasie.

Hier help sekuriteitswagte, lede van die buurtwagte en die publiek om hom uit die trein te kry en op sy pad te help.

"Huguenot-stasie moet seker die beste plek wees om mense te leer om persone met gestremdhede te help," vertel Jerome.

"Dit is wonderlik om die mense se geduld en wil om te help, te ervaar.

"Ook by die verkeersirkel in Bergrivier Boulevard is daar gereeld iemand om hand by te sit om my oor die pad te help."

Jerome se gidshond is einde verlede jaar dood en sedertdien het hy geleer om net met 'n kierie oor die weg te kom. "Maar oor twee weke gaan ek Johannesburg toe om my nuwe hond te kry," glimlag hy en verduidelik dat hy drie weke opleiding moet kry saam met sy nuwe vriend en hulp.

Jerome het darem nog 'n baie spesiale band met die Paarl. Hy is met 'n Paarlse nooi, Lu-Anne (neé Rabie) getroud.


Bly weg van hierdie dinge, pleit ma

John Goliath

[ Top ]


DWELMS is 'n toenemende probleem onder die plaaslike jeug. Baie tieners raak verlore op die pad.

En as daar nog 'n verlate gebou naby is, waar die dwelms gebruik kan word, dan vererger sake.

So het een Paarlse ouer haar oudste seun onlangs verloor.

Katrina Dirkse van Bougainvillea-woonstelle se seun, Cedrick (21), het vandag presies 'n maand gelede saam met drie vriende na die verwaarloosde kerkgebou in die omgewing gegaan.

Die omstrede gebou is lank reeds 'n bron van kommer in die gebied, omdat kinders dit as speelplek gebruik, terwyl allerhande onheile daar uitbroei.

"Hulle het op 'n Sondagmiddag na die gebou gegaan en, wat ek toe later uitgevind het, gaan gom snuif.

"Een van Cedrick se vriende het van die platform op die boonste verdieping van die gebou afgespring.

"Cedrick het vir hom gelag. Hy was vermoedelik so bedwelm dat hy sy balans verloor en van die balkon geval het," sê sy.

Die ambulans is ontbied en daar is met Cedrick na die Paarl Hospitaal gejaag.

Cedrick was in 'n koma en is aan masjiene gekoppel. Luidens mediese verslae het hy amper elke been in sy liggaam gebreek en het hy ook breinbeserings opgedoen.

Hy het na twee weke sy oë oopgemaak, maar het dié dag gesterf.

"Ek is baie hartseer oor my kind se dood. Ons sal hom altyd vir sy sin van humor mis en die manier hoe hy sy broers, Dayline (8) en Gerswin (16), geterg het.

"Hy was 'n baie handige kind en het altyd vir my om en in die huis gehelp."

Volgens Dirkse was dié leë gebou eers 'n winkel, maar is dit sowat drie jaar gelede deur die Nuwe Apostoliese Kerk aangeskaf om dit in 'n kerk te omskep. Dit het egter nooit gebeur nie.

"Die gebou is 'n groot risiko en dit moet platgeslaan word omdat verkeerde dinge hier gedoen word. Hier is elke dag mense wat 'buttons' rook en gom snuif," sê sy.

"Ek mis my kind bai,, maar ek hoop sy dood is 'n waarskuwing aan kinders om die verkeerde dinge hier te los."

Sy sê gom is deesdae die middel van keuse vir die kinders omdat mandrax ('buttons' of pille soos dit ook genoem word), te duur vir hulle is.Tot petrol word ook deesdae deur die kinders gebruik.Sy is ook bekommerd dat kleiner kinders wat daar speel, ook van die dak kan val.

'n Woordvoerder van die Nuwe Apostoliese Kerk sê daar word beoog om vanjaar met bouwerk te begin om die gebou te voltooi.

* A young Paarlite has died after falling off a building.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@paarlpost.co.za  

[ Top ]