|
"Ek dink nog baie aan my ouma en ons was baie lief vir mekaar.
"Sy het my altyd ondersteun in alles wat ek doen, nie net in rugby nie.
"As sy my nie ondersteun het nie, was ek lankal seker onder verkeerde invloede en sou dalk al die skool gelos het.
"Sy en my ma het 'n baie positiewe invloed op my lewe," sê Hilton.
Hilton is lank en sterk en speel al vanaf sy laerskooldae by New Orleans Primêr kookwater rugby.
Boland
Toe hy 11 jaar oud was, het hy al in die skool se o.13 span gespeel.
Hy het hierna twee jaar agtereenvolgens vir Boland in die o.13 Craven Week uitgedraf.
Op hoërskool het hy kop en skouers bo die ander uitgestaan en het voortgegaan waar hy op die laerskool opgehou het.
In graad 9 is hy in die gesogte "Nike All Stars o.15 Elite" groep ingesluit.
Dié groep bestaan uit die room van o.15 talent in die land. Hy was toe 'n outomatiese keuse vir die o.15 Stormerspan, vir wie hy vir twee jaar uitgedraf het.
Verlede jaar is Hilton vir die eerste keer in die Boland o.18 Craven weekspan ingesluit.
In die toernooi, wat op Wellington gespeel was, het hy sy staal gewys en SA-keurders behoorlik laat regop sit.
Sy goeie spel in die toernooi is toe beloon met sy insluiting in die SA Akademie Skolespan.
Hy is toe later in die o.19 Jong Bokkies se span ingesluit en het hom so goed van sy taak gekwyt dat hy op 17-jarige ouderdom na die Suid-Afrikaanse o.21 span se oefengroep uitgenooi was.
"Dit was vir my 'n ervaring om met Super 12 manne soos Luke Watson en Derrick Hougaard te kan saamoefen, hulle is regtig van die mees talentvolle rugbysplers in die land."
Maar Hilton se rugbyhelde speel vir die wêreld se nommer een span, die All Blacks.
"Ek beskou Richie Macaw en Jerry Collins as dié beste flanke in die wêreld.
"Hulle is vinnig by die afbreekpunte en dra die bal goed wanneer dit saak maak.
"Hulle speel met baie flair en passie en dis hoe ek my rugby speel," sê hy.
Alhoewel dié manne sy helde is, is sy droom om eendag die groen en goud van sy geboorteland oor sy breë skouers te trek.
"Ek wil graag eendag 'n regte Springbok word," meen hy.
Sy drome kan binnekort waar word, want hy kan kort voor lank vir die Boland in die Vodacom-reeks uitdraf.
Hy het alreeds saam met die span aan die begin van die jaar geoefen.
Hilton is verseker om weer vanjaar die Boland by die Cravenweek te teenwoordig, maar hy sukkel tans met 'n dyspierbesering.
Onderwyser
Volgens sy onderwyser Hankey Green is Hilton soms te mal oor die spel en wil hy nie die besering kans gee om te herstel nie.
"Hilton het nog net een wedstryd vir die skool gespeel omdat hy met dié besering sukkel.
"Dié wedstryd het ons hom op vleuel gekies sodat hy weg kan bly van die kontaksituasies," sê Green.
Ironies genoeg het Hilton 'n baie goeie wedstryd gehad en het ook 'n drie gedruk.
"Ons sorg vir Hilton en die personeel sit altyd 'n hand by as hy iets nodig het.
"Hy is vir ons 'n ster en ons is baie trots op hom," sê Green.
Hilton kry ook baie hulp van sy oud-klub Riverstones.
Hy is ook 'n goeie atleet en hardloop die 200m en 400m dat dit bars. Vir ontspanning luister hy graag musiek.
Hilton is ook nie net 'n rolmodel vir sy boeties, Arnold (5) en Warren (11) nie, maar ook vir ander jong sportmanne en vroue wat uit moeilike omstandighede kan opstaan en hulle laat tel. |