|
DIT is weer sulke tyd. Duisende skoliere geniet die uitspantyd ná die eksamens. Of dit goed of sleg gegaan het, maak nie saak nie, die deure van die hok is oopgegooi en vryheid roep.
Maar tydens die wintervakansie sit die jongklomp by die huis en die weer is maar so-so.
Irritasievlakke tussen ouers en kinders hoog. Ma en Pa raas met kinders wat opgeskeep is met hulself.
Of dalk nie?
Volgens Kim Kelly (16) van New Orleans Sekondêr is sy glad nie verveeld in die vakansietyd nie.
"Ek wil net rustig wees," sê sy.
"Ek en my vriende hou ons lekker besig. Ons doen inkopies, gaan fliek en hou partytjies by mekaar se huise."
As sy na enige ander plek kon gaan, sou dit nie verder as die Kaap wees nie, waar sy by die see kan lê en ontspan.
Sibongile Nobno is 'n 16-jarige leerder by Ihlumelo Junior Sekondêr en hy geniet sy vakansie.
Al sy vriende is hier gedurende die vakansie en is tevrede dat hulle ten minste vir drie weke nie skool toe hoef te gaan nie.
"Ek besoek graag my vriende en dan gesels ons, luister na musiek en dans.
"Kuns is iets wat ek geniet. As ek alleen by die huis is, skets ek graag. Verder besoek ek my familielede in Mbekweni en New Rest," vertel hy.
Die 15-jarige Ryno Prys is in Hoërskool Noorder-Paarl. Ofskoon Ryno graag 'n draai sou wou maak by Sun City - volgens hom 'n baie opwindende plek - is die Paarl 'nie te vervelig nie'.
Ryno sê: "Ek kuier saam met vriende en oefen graag rugby. Verder besoek ek gereeld my ouma en tannie in Vanwyksvlei."
Fanie Venter (14) van Labori ry graag rond met sy fiets. Hy speel ook rekenaarspeletjies en oefen op sy nuwe kitaar.
"Ek sou darem graag wou Krugerwildtuin toe gaan. Om die wilde diere te sien, is vreeslik opwindend," sê hy.
Naomi Jacobs (15) van New Orleans Sekondêr en haar 11-jarige nefie Marno Philander hou van inkopies doen en om te lees en die biblioteek te besoek.
"Playstation 2 speletjies hou my ook besig," sê Naomi. "Namibië is 'n plek wat ek graag in die vakansie sal wil besoek. Die natuurskoon en wilde diere is wonderlik," sê sy.
Oorkant die groot oseaan lê Suid-Amerika en Brasilië. Sy hoop om eendag dié wonderlike plek te besoek.
Marno het genoeg om hom mee besig te hou. Hy skop 'n rugbybal rond en is druk besig om elke dag saam met sy vriende draadkarretjies te bou.
"Gordonsbaai is 'n lekker plek om vakansie te hou, maar miskien sal Amerika ook nie sleg wees nie," sê hy.
Rudolph Kotze is 18 jaar oud en in graad 11 in Hoërskool Labori. Hy is 'n man wat nie net by die huis sit en niks doen, maar homself op 'n positiewe manier besig hou.
Rudolph werk dagskof by 'n braairestaurant om 'n sakgeldjie te verdien.
"Wanneer ek nie werk nie kuier ek by my meisie of saam met my vriende. Dit sou ideaal wees om 'n bietjie Jeffreysbaai toe te gaan, maar die geld wat ek oor die vakansie verdien, het ek broodnodig," sê hy.
"Iets soos Laserquest sou 'n goeie idee wees om die kinders besig te hou."
Dit lyk tog of die plaaslike dorpe se jongmense nie veel kla oor die vakansie nie. Die gesegde lui tog: Oos, wes tuis bes. |