safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday 15 August 2002

uitlefstreep

This site will be updated on: 22 August 2002 at 17:00

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

 Letters - Briewe


Eenmaal 'n Hugenoter, altyd 'n Hugenoter

[ Top ]


DIT maak my hartseer as ek terugdink aan wat ek Saterdag-aand gesien het by Hugenote Hoërskool. 

Dis aaklig om te staan en kyk hoe jou skool se klaskamers brand - daardie einste klaskamers waarin jy klas gehad het.

Dan dink jy terug aan hoeveel keer jy as kind "gewens" het dat die skool moet afbrand - nie dat jy dit regtig wou laat gebeur het nie. Maar 'n kind bly mos 'n kind en jy's mos nou nie altyd lus om skool toe te gaan nie. 

Dan raak jy groot en sien twee keer in drie jaar hoe jou skool brand. Jy raak hartseer, vee 'n trane uit jou oë en besef eintlik hoe 'n groot ramp dit regtig is.

As oud-Hugenoter wil ek aan al die ander Hugenoters, oud en jonk, sê dat dit juis nou die tyd is om te besef hoeveel jou hoërskool vir jou beteken.

 Dis Interskole Week. Saterdag speel ons teen Swartland Hoërskool tuis. Kom laat ons die spanne ondersteun. 

Laat hierdie gebeure nie ons gees vir interskole demper nie, maar dat dit die gees van interskole juis sterker maak. 

As jy nie self daar kan wees nie, stuur ten minste dan net 'n boodskap aan jou Alma Mater. En laat weet jou adres aan die Oudstudentebond.

Eenmaal 'n Hugenoter - Altyd 'n Hugenoter! Voel die Doemsa Gees!

Elmari Hugo (matriek 1996)


Nog klagtes oor tikdiens-advertensie

[ Top ]


MY vrou het dieselfde stel afgetrap met Reitz Personeel as Helga Louw (Paarl Post 7 Augustus) tesame met ander waarvan ek weet.

Ek wil mense waarsku teen hierdie "tikdiens" wie se modus operandi lyk landwyd dieselfde te wees. Sy het ook die "registrasiegeld" betaal, toe tikopdragte vir hulle gedoen, maar nooit enige betaling ontvang nie.

Ons het 'n dispuut met hulle verklaar, en die mense was glad nie geneë om enigiets van hulle kant af te doen nie. Hulle het eerder gedreig met hofsake oor laster en naamskending en sulke soort van dinge.

Ek het 'n fotostatiese afdruk van 'n dreigbrief van 'n prokureur gekry waarin die mense allerhande jakkalsdraaie gooi.

Hulle kruip weg agter dreigemente van lasteraksies as mens hulle wil aanvat, en die polisie het ook maar nie lus daarvoor nie.

Dalk moet mense wat deur die bedrywighede ingedoen is, saamstaan en 'n gesamentlike poging loods.

Johann Hamman


Ambulanse is ook nooit beskikbaar nie

[ Top ]


EK wil graag ook net my sê hê oor die ambulansdiens in die Paarl. Ek het eerstehandse ondervinding met hulle.

My oorlede vader het op die aand van 9 Julie 'n hartaanval gehad. Hy het reeds 'n been verloor en dit was moeilik om hom in 'n voertuig te kry.

Toe ek die ambulansdiens skakel, sê hulle dat daar nie 'n voertuig beskikbaar is nie, so hulle sal kom wanneer hulle wel een het.

Ek bel toe na PaarlMed24 en kry 'n dokter wat sê hy is bereid om uit te kom.

Ek bel toe weer die ambulansdiens, waarop ek toe meegedeel word dat hulle "nie 'n vliegtuig is nie - hulle is op pad".

Die dokter was hier nog voor hulle en het my ingelig dat my vader reeds oorlede is.

Ek voel net dat as hulle dadelik gereageer het nadat ek hulle om 20:45 gebel het, my vader dalk nog met ons was.

Dan wil ek die polisie geluk wens met hul vinnige optrede die nag van 24 Julie.

Dit was seker net 'n kwessie van vyf minute voordat sersant André Nothnagel by my was in Noorder-Paarl na my noodoproep.

Sê maar net


Skeidsregters het dit vanjaar maklik gehad

[ Top ]


OM 'n Interskole wedstryd te blaas, is nie sommer speletjies vir die skeidsregter nie. Vanjaar was dit egter 'n voorreg om by die Faurestraat stadion op te tree.

Die wedstryde is in 'n wonderlike gees gespeel. Dit was nooit vir 'n skeidsregter nodig om 'n speler uit te trap nie. Dit was wonderlik om te sien hoe in die eerstespan-wedstryd, die spelers van Boishaai en Gim mekaar ophelp.

Dan moet HJS, die gasheerskool, en die Interskole borge, FNB, bedank word vir die reëlings, maar veral die relings langs die veld, wat dit vir die skeids- en lynregters 'n plesier gemaak het om hul werk te doen.

Piet Koen


Wat van Interskole se tradisie?

[ Top ]


TRADISIONEEL tree 'n meisie van Hoër Meisieskool mos as sjampanjenooi vir Boishaai op met Interskole?

Dis nou al 'n paar keer dat ons oplet dié rol word deur 'n meisie van La Rochelle vervul.

Wat sou die rede wees?

Are the boys simply playing the field?

Meisie-kyker


Ferdie was 'n fees

[ Top ]


EK en nog vriende van buite die Paarl het nog nooit so iets beleef nie soos met Klein Interskole nie. Ferdi (Wakka Wakka) was 'n hoogtepunt op die Gim-paviljoen.

Ek het nooit gedink daar is nog so baie liefde onder ons mensdom nie. Die sanggees by die laerskole was 'n fees.

Ouers, kinders het saam hande geklap, gesing en stappies gemaak.

Bewonderaar


Dankie aan Paarl Post vir hulp met soektog

[ Top ]


MY soektog na my pa het 'n jaar gelede begin. Dit was die jaar wat my geleer het dat 'n mens nooit hoop en moed moet verloor nie.

Ek het hom nooit geken nie en het net geweet hy het in die Paarl grootgeword het en vermoedelik in Durban woon.

Op Saterdag 27 Julie het my beker van geluk en dankbaarheid oorgeloop toe ek vir die eerste keer in my lewe die stem van my pa gehoor het. Ek wil hiermee almal by die Paarl Post uit die diepte van my hart bedank vir die plasing van die berig en foto van my pa as jong man, wat my gelei het na hom.

Dié berig is nou een van my kosbaarste besittings

'n Leser het my geskakel en sy telefoonnommer in Durban verskaf.

Eer en dank ook aan my Skepper.

Patricia February, Blackheath


Redaksioneel:

Sondebokke mag nie lei nie

[ Top ]


GOEIE, gesonde finansies is 'n voorvereiste vir 'n ekonomies-haalbare onderneming.

'n Munisipaliteit is in wese ook 'n onderneming, waar streng finansiële huishouding een van die steunpilare is.

Dit is een van die belangrikste faktore om ekonomiese vertroue in te boesem en nuwe beleggers te lok.

Enige voornemende belegger sal egter vinnig die hasepad kies, sou hy die ouditeur-generaal se onlangse verslag oor die boekjaar 2000/2001 van die voormalige Paarl Munisipaliteit onder oë kry.

Terwyl huidige raadslede vrae vra en amptenare rondskarrel om meer inligting te verskaf, kan 'n mens maar net hoop dat daar bevredigende verduidelikings vir sommige van die kopsere gegee kan word.

Een hiervan is die raadslede en amptenare wat nie hul munisipale rekenings betaal het nie.

Hoe gaan ons 'n betaal-kultuur vestig, as die mense wat die voorbeeld moet stel, self sondebokke is?

Ons is nou in 'n nuwe boekjaar en 'n nuwe bedeling met ander amptenare en raadslede. Hopelik is hierdie verslag net 'n eggo van die verlede en nie die punt van 'n ysberg wat ons toekoms gaan kelder nie.

Die spreekwoord sê as armoede by die voordeur instap, stap liefde by die agterdeur uit.

In munisipale terme kan ons sê as finansiële wanbestuur by die voordeur instap, vlug beleggers by die agterdeur uit.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za