safetop
ppostgothic
uitlefstreep

Wednesday 15 December 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 22 December 2004.

Aida
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost

 

 Letters - Briewe


Hierdie plek sien my nie weer nie

[ Top ]


EK wou my familie bederf en neem hulle Sondagaand 28 November Dros toe (vir die eerste en laaste keer). Ons was baie beïndruk met die mooi plek - tot ons kos bedien was.

My "medium rare steak" was yskoud en bedien op 'n koue bord. My vrou se biefstuk het 'n snaakse smaak gehad en was vol senings. Die vis wat my seun bestel het, was so taai soos 'n skoensool. My dogter was darem tevrede met haar pasta.

Ek het ons klagte dadelik aan die kelnerin genoem, waarop sy net haar skouers opgetrek het en "O" gesê het. Sy het daarmee net omgedraai, sonder om aan te bied om my biefstuk op te warm en die ander se kos te vervang.

Ek het aangedring om die bestuurder te spreek en hy het net so 'n argelose houding gehad. Al wat hy gesê het was, "Jammer wil jy iets anders hê?"

Teen daardie tyd was ons borde alreeds terug in die kombuis en ons het maar vir die rekening gevra. Ek het darem gedink dat daar 'n afslag sou wees, maar tevergeefs.

'n Paartjie wat agter ons gesit het, draai toe om en vertel ons hulle het dieselfde probleem. Hulle het die Vrydagaand ook klagtes van koue kos gehad, maar omdat die plek stampvol was, het hulle die probleem maar oorgesien.

Sondagaand was daar toe baie minder mense en hulle kom toe weer met die hoop vir beter gehalte, maar was nie tevrede nie.

Ons was baie teleurgesteld met die Dros en sal niemand aanbeveel om soontoe te gaan nie. Dros het nog altyd 'n goeie naam gehad, maar die Paarl-tak is besig om skade te berokken aan hierdie goeie naam.

Ontevrede

Lucas van Aswegen (eienaar van Dros Paarl) reageer: In die twee jaar wat ons die voorreg het om Paarl Dros te besit, was ons filosofie nog altyd dat ons nooit ons foute moet probeer verberg nie. Daarom doen ons maksimum moeite in terme van produk en diens en moet ons ons foute erken as die kliënt 'n regverdige klag het.

Die kliënt het rede tot sy klagtes gehad en koue kos is totaal onaanvaarbaar.

Die vleis wat taai was, was bestel by 'n ander verskaffer as ons normale een as gevolg van 'n noodsituasie en is alles die volgende dag vervang.

Ek erken die klagte kon beter hanteer gewees het, maar daar was egter 'n misverstand gewees ten opsigte van die kelnerin se interpretasie van die klag.

Paarl Dros is egter bekend vir sy besondere goeie kos en het ons nie verniet vir die tweede agtereenvolgende jaar die prys vir Beste Familie Braairestaurant in die Suid- en Wes-Kaap gewen nie.

Wat egter 'n feit is, is dat die bestuurder aangebied het om ander geregte te verskaf, wat deur die kliënt geweier is, en dat my selfoonnommer aan die kliënt gegee is om my te kontak.

Hy het egter verkies om ons eerder skade te berokken via die pers, vir sy eie redes.

 Hiermee vra ek ook elke ontevrede kliënt om my gerus te skakel. Tussen my twee restaurante bedien ons ongeveer 15 000 mense elke maand en ek glo hierdie was 'n uitsonderlike voorval.


Tree op teen spoed

[ Top ]


DIE Paarl Post se hoofartikel "Getting Priorities Right" en die brief "Stop the Racing in Paarl's Main Street" (Paarl Post 2 Desember) spreek die tragiese dood aan van 'n jongman wat in die Paarlse Hoofstraat doodgery is. 

Ek haal aan uit eersgenoemde: "The tragic death of a young Paarl man this week in a busy section of Main Street has once again highlighted the lack of expenditure on traffic calming methods in the Drakenstein municipal area."

Hierdie uitsprake is ook van toepassing op Kerkstraat, Wellington.

Dis onbegryplik dat die Verkeersafdeling ten spyte van herhaalde versoeke nog nie aan hierdie dringende saak aandag gegee het nie. 

Daar is nie een enkele voetoorgang in hierdie straat wat onverantwoordelike bestuurders daagliks as 'n resiesbaan gebruik nie, en die verkeer word steeds drukker vanweë die ongekende groei van die dorp. 

Dit mag wees dat dit eers 'n tragiese voorval sal wees, soortgelyk aan dié in die Hoofstraat van die Paarl, wat die Munisipaliteit tot aksie sal laat oorgaan.

Bekommerde voetganger


Thanks for website

[ Top ]


I JUST want to say thank you very much for the great website of the Paarl Post on the internet, that we living in the UK are able to read and thus keep in touch with home.

I can't wait to get home on a Thursday and read the Paarl Post. Just keep up the great work.

Missing home and the WEATHER.

Wayne Das Neves


Pasop vir vreemdes

[ Top ]


EK wil mense net waarsku om nie vreemdelinge in hul huise in te laat nie.

My moeder woon in Atlanta-woonstelle in die Paarl, wat 'n goeie sekuriteitstelsel het. Sy was buite haar woonstel in die gang, toe 'n onbekende vrou vra om "gou haar woonstel se uitleg te sien".

My moeder het haar goedsmoeds ingelaat en eers later, nadat die vrou weg is, besef haar juwelekissie met al haar juwele is gesteel.

Sy het geen versekering daarvoor nie, en baie van die items is van sentimentele waarde.

Al wat sy onthou, is dat die vrou baie goud in haar tande gehad het en 'n pet gedra het. Wees dus gewaarsku - moet niemand vertrou nie.

Ontsteld


Wat's fout met drywers?

[ Top ]


EK het grootgeword in Paarl-Oos. Sedert hier sebra-strepe voor Amstelhof kafee en die VG Kerk  in Klein Drakensteinweg is, sien 'n mens selde dat bestuurders stop vir voetgangers wat van die strepe gebruik maak om hierdie besige rylaan oor te steek.

My seun van sewe jaar wou die ander dag weet  hoekom die mense dan nie stop as hy en sy maatjies op die strepe die pad wil oorsteek nie?

Ongelukkig kon ek hom nie beantwoord en wou nie ons bestuurders, veral die taxibestuurders, diskrediteer nie.

Die ander dag het sy ma gesê dat taxibestuurders oor die algemeen swak bestuur en wou hy toe nie in 'n taxi klim nie.

Nou vra hy my, "Daddy wat is fout met die 'drivers'?

"Daddy waar's die spietkops dan?". 

Help my en antwoord hom tog op dié twee van sy vele vrae. 

Kenny


Lyk na 'n droë  stil feestyd vir sommiges

[ Top ]


HOE ongelukkig kan 'n mens dan nou wees, gedurende hierdie dae dat jy die lewe vir ander 'n absolute hel wil maak, was die vraag wat by baie opgekom het op 11 Desember by Drakenstein Gevangenis.

Daar was baie kuiergaste, vriende en bure. Almal wat rondom bly, was vooraf gevra en ingelig dat daar partytjie gehou gaan word. Niemand het beswaar gehad nie en so is alles tot in fynste detail beplan, tot en met "Live Music".

Dié‚ wat nie genooi was nie het buite op hul gras en stoepe gesit en die musiek waardeer.

Net na 21:00 toe stop die veiligheid se voertuig voor die deur: "Die bure in 10de Laan kla julle raas," was die lid aan diens se boodskap.

Die musiek is sagter gesit en om 23:00 volgens wet afgesit.

Rassistiese aanmerkings word links en regs geslinger as buurman nie gehoor gee aan hierdie klaer se wrede waarskuwings nie. Vriende van Pretoria wat ook genooi was, was geskok om te sien rassisme kom nog steeds hier in die Boland voor.

Almal word dan belowe hulle sal pak slae kry as hulle nie luister nie, of jy nou man of vrou of kind is, slae gaan jy kry.

Bacchus is dan ook lankal styf teenaan en doen eintlik die praatwerk, want môre is alles weer vergete.

Ek gaan persoonlik vir Kersvader vra om julle ook 'n musiekinstrument vir Kersfees te gee.

Ek rig 'n versoek aan almal in hierdie pragtige vallei van ons, om meer verdraagsaam te wees.

Onthou almal vier fees, die jaar is verby en 'n lekker partytjie kom almal toe. Al is almal nie genooi nie.

Anti-suurdruiwe


Almal kon nie vir Steve Hofmeyr sien nie

[ Top ]


ALMAL was so bly dat die Paarlberg Ouditorium weer 'lewe' gekry het met die optrede van Steve Hofmeyr, dat ek nie wou kla nie, maar aangesien ek verneem dat hierdie uitstekende fasiliteit weer benut gaan word in Februarie, is dit dringend noodsaaklik dat sekere probleme opgeklaar word.

Die gebrek aan voorsiening wat gemaak is vir gestremdes is breedvoerig aangehaal in die Paarl Post van 9 Desember. Daarbenewens het Computicket talle klagtes ontvang van toeskouers wat nie die kunstenaars wat opgetree het, kon 'sien' nie.

Ek was een van hulle. Vanaf Ry Wagtertoe tot KK loop die helling ongelukkig minder steil as vanaf A tot V, met die gevolg dat hierdiesowat 200 mense in die gehoor net die "Beautiful Noise" kon hoor, maar nie die vaagste benul kon kry van hoe die persone lyk wat dit maak nie.

Daar was 'n groot skerm op die verhoog aangebring waarop Neil Diamond se gesig telkens geflits was. Indien die kunstenaars van tyd tot tyd hierop geprojekteer was, sou die toeskouers ten minste 'n beeld van die sangers kon kry.

Ek het dit voorgestel aan een van die 'crew', maar is gesê : "Dit kos te duur." Asseblief mnr Gerrit Meyer, werk hieraan.

Kultuurhonger


Hou vullis vir jouself

[ Top ]


DIT is met groot teleurstelling dat ek op 1 Desember ongeveer 11:30 agter 'n donkergroen Toyota Conquest CN 17009 in Oosboschstraat oorkant WPK ry en sien hoe die bestuurder 'n sak vullis uit sy venster gooi.

Ons wil altyd die vinger na die Munisipaliteit wys, maar dan wys daar vier terug na ons.

Ek wil graag 'n versoek aan daardie bestuurder rig om asseblief in die gevolg sy vullis huis toe te neem en dit in sy vullisdrom gooi. Kom ons hou ons pragtige dorp skoon.

Trotse Paarliet


Vuil rivier laat my bloed kook

[ Top ]


DIE foto op die voorblad van die vorige uitgawe van Paarl Post en die artikel daarby oor die besoedeling van die Bergrivier laat 'n mens se bloed kook.

'n Paar jaar gelede het ek met die Departement van Waterwese kontak gemaak oor presies so 'n probleem.

Drie keer het ek die probleem van besoedeling onder hulle aandag gebring. Die besoedeling is vandag nog erger.

Die Bergrivier se besoedeling is 'n nasionale ramp, maar nou word gesê die mense het nie huise nie, nou kan hulle maar mors en ons kan niks daaraan doen nie.

Hierdie is net die punt van die ysberg. Wat van Tafelberg (wat deur misdadigers oorgeneem word), ons skaaptroppe in die Wes-Kaap wat verdwyn het, en hordes ander voorbeelde van hoe standaarde daal omdat niemand optree nie.

Pro-standaarde


Hoekom so aanvallend?

[ Top ]


EK verwys na die oprigting van 'n Checkers Supermark op die ou Renato's perseel in Groenvlei, Noorder-Paarl.

Voordat anonieme briefskrywers beledigend en aanvallend raak teenoor die betrokke inwoners van Groenvlei om die oprigting van die nuwe Checkers te regverdig, moet hulle dink aan die implikasies van die nuwe winkel.

Hiérdie winkel van 2000 vierkante meter sal gepaard gaan met voete, trollies, groot trokke, geraas en verkeer. Volgens algemene standaard moet 'n parkeerplek per motor geallokeer word vir elke 25m2 onder dak dus moet daar 80 staanplekke wees.

Verkeer is reeds 'n probleem en sal toeneem, met afleweringsvoertuie wat 'n gevaar inhou vir skoolkinders.

Ons as omliggende inwoners het 'n aksie-groep gestig om ons belange te beskerm. As ons langs Checkers wou bly, sou ons beslis nie ten duurste 'n woning in Groenvlei gekoop het nie.

Welona du Plessis


Kom veilig daar

[ Top ]


DIE vakansie het skaars begin en reeds het twee jong kinders van Drakenstein hul lewens in padongelukke verloor.

In plaas van 'n vreugdevolle en sorgvrye vakansie, sit hierdie families nou met die hartseer en verdriet wat hierdie verlies meegebring het.

Dikwels is ongelukke buite ons beheer, soos 'n band wat bars of padtoestande.

Maar daagliks stroom daar ook berigte in van spoedvrate en dronkbestuurders op die land se paaie en hier plaaslik gaan dit nie juis veel beter nie.

Stopstrate is plekke om vinniger te ry, dit is 'n doodsonde om by 'n oranje verkeerslig te stop en spoed is 'n moet.

Meneer Jaagduiwel, Mevrou Spoedvraat, het julle al ooit vir 'n oomblik gedink aan die gevolge van julle gedrag.

Dit help ook nie ons leer ons kinders verkeersreëls as ons grootmense se roekelose en nalatige padgedrag die teendeel bewys nie.

Dit is onaanvaarbaar dat 'n kind sy pa moet vra hoekom bestuurders nie vir hom stop by 'n wettige voetoorgang nie.

Kom ons maak seker ons motors is regtig padwaardig, lig ons voet so effe van die petrolpedaal, dink so dan en wan aan die verkeersreëls, en geniet 'n ongelukvrye vakansie.


[Top]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@paarlpost.co.za  

[ Top ]

[ Top ]