|
MEVROU, ons kan nie dat jou kind verder seerkry nie. Kom ons praat nou rustig oor hierdie saak. Dis 'n kind se lewe, haar toekoms.
Insp Gert Louw, die groot polisieman wat meer soos 'n predikant of selfs 'n plaasboer lyk as 'n speurder, lei die senuagtige ma na
'n kantoor en laat haar gemaklik sit.
Die vrou se tienjarige dogter is deur haar man verkrag. En nou plaas die skoonfamilie druk op haar om die saak terug te trek. Doen
sy dit nie, dreig hulle dat sy nie net haar broodwinner kwyt is nie, maar ook die dak oor die kop van haar en haar kinders.
Maar wat van die dogtertjie? Wat van haar pyn en haar nagmerries, benadruk insp Louw.
Die versoeke om sake terug te trek is die grootste kopseer vir lede van die polisie-eenheid wat vroue en kinders beskerm teen
gesinsgeweld en seksuele misdrywe.
Dit, en om te sorg dat die beskuldigdes nie op borgtog vrygelaat word om dag en nag grootmeneer in die geselskap van die
getraumatiseerde slagoffer te pronk nie.
"Ek gee nie in nie," sê insp Louw vasberade. "Ek bestry die borgaansoek met alles tot my beskikking."
Elke naweek word gemiddeld twee kinderverkragtings in die Paarl-vallei aangemeld.
'n Tienjarige is verkrag, 'n vyfjarige is gemolesteer, 'n baba is onsedelik aangerand, 'n boetie en sussie word al maande lank in
hul eie huis deur hul stiefpa misbruik.
En daar is nog net soveel sake wat nie aangemeld word nie, sê die bevelvoerder van die eenheid, kapt Maresa Gordon.
Ernstige seksuele misdrywe teen kinders styg teen 'n kommerwekkende tempo.
Verlede jaar was daar meer as 1000 kindermoorde en meer as 6000 kinderverkragtings in Suid-Afrika, is in die parlement
aangekondig.
Die Wes-Kaap staan eerste in die ry met vergrype teen kinders.
In die meeste gevalle is die kinder-slagoffers óf te jonk óf te getraumatiseer om te getuig.
Die enigste leidraad na die skuldige is DNA, en dit duur ten minste 84 dae om een monster te analiseer. Daar is tans meer as 16 000
DNA monsters in forensiese laboratoriums.
Polisie en aanklaers wat klaers oorreed om nie met sake voort te gaan nie, se optrede is net so kommerwekkend as die getal
vermeende verkragters wat vry op straat is as gevolg van swak polisiewerk, is in die parlement beweer.
"Dit gebeur nie by ons nie," kap insp Louw terug.
"Inteendeel, ons sal die ouers en voogde ondersteun en nie toelaat dat sake teruggetrek word nie.
"En al moet ons dag en nag werk, oortyd en enige tyd, ons sal die sake deeglik ondersoek en 'n sterk saak voor die hof bring."
Nie soos die saak van 'n beskuldigde aan wie in Maart borgtog toegestaan is nadat hy van verkragting aangekla is nie.
In April is hy weer aangekeer vir verkragting, en weer is hy op borg vrygelaat. Skaars 'n week later is hy weer vir verkragting
aangekeer. Die man is nou agter tralies.
'n Man van Franschhoek is onlangs in die Paarlse streekhof gevonnis tot agt jaar gevangenisstraf omdat hy 'n sewe-jarige meisietjie
onsedelik aangerand het.
Die beskuldigde het al vantevore 'n ses-jaar vonnis vir 'n soortgelyke oortreding uitgedien.
Die eenheid is op 1 September op die been gebring om gesinsgeweld en misdrywe teenoor vroue en kinders hok te slaan.
Sedert die totstandkoming van die eenheid is daar al 250 klagtes van verkraging, onsedelike aanranding en poging tot verkragting
aangemeld.
Die grootste probleem lê in Paarl-Oos, sê kapt Gordon, gevolg deur Mbekweni, Wellington, Franschhoek, dan Klapmuts en Groot
Drakenstein.
Die kantore van die eenheid is in die SPE-gebou te Hoofstraat 53, Suider-Paarl.
Die mure is vol kunswerke van die baie kinders wat al daar hul seerkry kon deel het met simpatieke ooms en tannies vir wie hulle
nie hoef weg te kruip nie.
Ook van die leerders by skole wat deur die lede besoek is om die kinders van gevare asook beskikbare bystand bewus te maak.
Kapt Gordon se span is inspekteurs Gert Louw, Pollie Apollis, Coby van Neel, Anthea Jacobs en konst Luvuyo Mgandela.
Die kantoortelefoonnommer is 863-1040, en die 24-uur nommer vir aanmelding van sake is 082-334-9753.
Sodra die saak klaar ondersoek is, word dit voorgelê aan die aanklaer van die streekhof vir seksuele misdrywe, Anita Potgieter.
Saam met welsynswerkers en vrywilligers sorg sy daar dat kinders op hul gemak is, en dat ouers en gesinslede die seer met die
minste trauma verwerk.
Drank speel beslis die grootste rol in gesinsgeweld en seksuele oortredings, sê Anita.
Nie net by die skuldiges nie, maar gereeld ook by die slagoffers - die jong meisies wat by smokkelhuise drink in veral Fairyland,
Smartietown en die OR-woonbuurt.
Daar is die geval van die tienjarige wat saam met haar aanvallers gedrink het en toe sy dronk was, dwelms ingejaag en herhaaldelik
verkrag is.
"Ons moet die vroue en die kinders beskerm, en ons sal," belowe die polisieman wat nie soos 'n polisieman lyk nie.
* The Paarl police unit for the protection of women and children against family violence and sexual abuse is determined to make
a difference.
|