|
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
VAKANSIETYD is hier! Dit is dié beste tyd van die jaar, waar jy jouself kan geniet en nie bekommerd hoef te wees oor skool (en huiswerk) nie. Die kinders gee ouers kopsere noudat hulle by die huis is en studente koel af na hul harde jaar onder die hande van dosente en lektore. En ja, moenie vergeet van die werkende persoon wat ook nou 'n blaaskans kan geniet nie. Die Paarlse middedorp is oorlaai van mense, en die Paarl Post het gaan hoor wat die jongklomp te sê het. Sisanda Samente geniet die vakansie voluit en sien uit na Kersdag. "Ek gaan koop en hoop dat ek baie presente sal kry - ek weet nog nie wat nie, maar enigiets sal doen. "Vakansies is baie lekker en ek mis die skool net so 'n klein bietjie." Nie almal voel so oor hulle skool nie. Die meeste van die kinders mis hul skoolmaats en kan nie wag vir volgende jaar nie - veral nie dié leerders wat na die hoërskool toe gaan nie. Heinrich Volschenk en sy vriendin Lize Slabbert sien uit na volgende jaar se "Groenwees". "Dit is vir my iets baie groot en alhoewel ek die laerskool sal mis, sien ek meer uit na die hoërskool," sê Heinrich. Hy het alreeds sy geskenk ontvang, 'n selfoon en 'n stel dromme. Hy is 'n man wat weet van musiek maak saam met sy vriende! Lize wil net by die huis bly en uithang in eetplekke en die bioskoop. "Dit is vir my baie lekker, maar ek sal natuurlik die meeste van my tyd saam met Heinrich-hulle wees en daarna wil ek rond baljaar in die see." Die meerderheid van kinders sal baie graag by die see wil gaan baljaar - maar Kersdag is ook 'n groot dag op die kalender wanneer hulle hul geskenke gaan oopmaak. Porchia Gertse geniet haar vakansie ook, maar vrees sy gaan haar ou vriende en laerskool baie mis. "Ek sien uit daarna om volgende jaar hoërskool toe te gaan, maar my laerskool sal altyd vir my die beste plek wees." Stephanie Mettler sien baie uit na Kersfees. "My vakansie is baie lekker, maar ek kan nie wag om te sien wat Kersvader vir my gaan bring nie. Ek was soet deur die hele jaar, so ek hoop ek gaan 'n groot geskenk ontvang. "Ek sal graag 'n Playstation 2-speletjie wil kry," waag sy. Sy geniet dit vreeslik om inkopies te gaan doen - natuurlik net as daar iets vir haar ook in die mandjie is. Carlo Cornelissen geniet dit om in die vakansie te speel. "Ek speel saam met my vriende en is altyd besig met iets nuut. "Natuurlik mis ek skool, maar ook net omdat ek na 'n hoër graad gaan. Ek het geslaag en hoop dat daar 'n groot geskenk op my wag, onder die Kersfeesboom." Jordan Hanekom meen dat net omdat jy klein is, beteken dit nie jy mag nie laat op straat speel nie. "Ek speel laat saam met my maatjie Porchia en dan geniet ons ons gate uit. Ek weet ek gaan 'n groot geskenk kry, omdat ek baie soet was deur die jaar." Een ding is seker, die kinders van die Paarl-streek weet hoe om hulself te vermaak tydens die vakansie en ly nie aan verveling nie. Maar vir menige ouer kan die vakansie nie gou genoeg end kry nie. Een ouer sê dat sy haar hare uit haar kop wil trek, met dié dat die kinders nou elke dag om haar voete draai. 'n Ander ouer meen dis die beste tyd om saam met jou kind te spandeer, al wil jy soms die "oogappels" beetkry as hulle begin stout raak. * Local youngsters are enjoying their holiday and the excitement of Christmas. |
|
|
|||||||||||