|
BOLAND ATLETIEK het onlangs 'n middelafstand-oefengroep van 48 atlete aangekondig wat hoofsaaklik uit junior- en jeugatlete bestaan.
Die middelafstand-oefengroep is aanvullend tot die groep van 88 atlete wat verlede maand aangekondig was.
Die oefengroep sal reeds op 14 en 15 Januarie saamtrek by die Daljosafat Stadion in Paarl, vir 'n inligtingsessie wat daarop gemik
sal wees om die atlete beter voor te berei vir die 2005 Suid-Afrikaanse Atletiek Kampioenskappe.
Ian Harries, nasionale afrigter en tans die afrigter van Mbualeni Mulaudzi, silwermedalje-wenner van die 800m in die 2004 Olimpiese
Spele, sal ook die oefenkamp bywoon om die atlete en hul persoonlike afrigters van raad te bedien.
Die Boland het 'n ryk geskiedenis in die middel-afstande. Atlete soos Elana Meyer, Danie Malan, Johan Landsman, Marius van Heerden,
Tanya Peckham, Ewald Bonzet, Julian Marsay en Shaun Abrahams wat almal al Suid-Afrikaanse of Wêreldrekordhouers was, kom uit die Boland.
Feitlik al die atlete in die groep van 48 is tans, in hul onderskeie items, gelys op die SA top 10 prestasielys. "Met die nodige
hulp en ondersteuning kan die Boland binnekort weer die mekka vir middelafstand atletiek word," sê Harold Adams, president van Boland Atletiek.
Dr Adams, wat ook onlangs die hoofspreker was tydens 'n internasionale mediese opgraderingskursus in Nairobi, Kenia, sal tydens die
oefenkamp die atlete van mediese raad voorsien.
Wilfred Daniels, president van die Boland Sportraad wat self op sy dag 'n SA kampioen in die 800m was, sê dat dit nou tyd is vir
die nuwe generasie atlete om die skoene van hul roemryke voorgangers vol te staan.
Daniels is tans die spanbestuurder van die Suid-Afrikaanse Atletiekspan en sal die atlete tydens die oefenkamp adviseer hoe om te
kwalifiseer vir die nasionale spanne na die Wêreldkampioenskappe.
Vir meer inligting kan Raymond Julies (082-403-0127) of Basil Jantjies (083-653-1090) geskakel word.
Plaaslike atlete in die middelafstand oefengroep is: Nathan Beukes (800m, snr, Klein Nederburg), Pieter Cloete (3000m, jeug,
Wellington Jeugsorgsentrum), Candice Diedericks (1500m, jnr, Groendal), Marius Hendricks (1500m snr, Wellington AK), Charlene Jantjies (1500m, jeug), Henrico Rooi (2000m jeug, hw), Lenton Kalase (800m, snr), Ashley
Mapisa (800m, snr, almal New Orleans), Karin Levack (1500m jeug, Weltevrede), Glen Mpayipheli (1500m jnr, Desmond Tutu), Jacques Pietersen (1500m jnr), Charlton September (2000m hw jeug), Norman Smith (2000m hw
jnr), Merwin Louw (1500m jnr, almal van Bergrivier Sekondêr), en Edward Wessels (800m jeug, Boland Landbou).
* Die keurders van Boland Atletiek het ook 'n oefengroep van 88 junior- en jeugatlete aangekondig wat volgende jaar die medaljes
moet huis toe bring.
Die kies van die groep volg op Boland se drie Talent Identifiseringsbyeenkomste wat in Oktober gehou is en sowat 3000 atlete gelok
het.
Die oefengroep sal reeds op 7 en 8 Januarie saamtrek by die Boland Atletieksentrum vir Uitnemendheid vir 'n reeks toetse en lesings
wat daarop gemik sal wees om die atlete beter voor te berei vir die SA Junior en Jeug Kampioenskappe in April op Germiston asook die Wêreld Jeug Kampioenskappe wat in Julie 2005 in Morokko gehou sal word.
Vir meer inligting kan mnr Raymond Julies gekontak word by 082-403-0127.
Plaaslike atlete in die oefengroep is (Juniors) Odette Olivier (HMS Paarl), Marné v/d Burgh, Alrico Farmer (albei Maties AK), Regan
Julius (Paarl AK), Jason Malgas (Paarl Gim), Ephraim Marsh (Klein Nederburg), Robert Schaaf, Llewellin Adonis (albei HJS Paarl). (Jeug) Janie Coetzee, Maurice Fischer, RJ Kellerman, Johandi Koerse, Joubert Wesson,
Simithandile Sikwata, Louw Smith, Jean Rossouw (almal Paarl Gim), Stacey Gardiner (HMS Paarl), Megan Jackman, Janita Stander (albei La Rochelle), Shirlynn Smith, Richard Murray, Louis Pienaar, Henrico Rooi
(almal New Orleans), Jo-Ann Williams (Charleston Hill), Ricardo Fielies (Klein Nederburg), Dewayne Mouries, Marcelino Davids (albei Groenberg), Charlton September (Bergrivier), Jason September (Paulus Joubert),
Keenan Watson (HJS Paarl), Edward Wessels (Boland Landbou).
* Tydens sy algemene jaarvergadering op 13 November het die vooruitgang wat Boland Atletiek die afgelope jaar gemaak het, duidelik
na vore gekom.
Dr Harold Adams, president van Boland Atletiek, het genoem dat die provinsie die afgelope twee jaar meer as 400% gegroei het.
Die fenomenale groei word toegeskryf aan die effektiewe bestuur, lede wat gereeld op hoogte van sake gehou word en goed georganiseerde projekte wat lede se behoeftes aanspreek.
Adams het in sy verslag ook die borge - die Nasionale Lotery Fonds, SA Wyn Industrie Trust en Peninsula Beverages - vir hul
finansiële steun bedank. Hy het ook die Drakenstein Munisipaliteit bedank vir die beskikbaarheid van die Daljosafat Stadion vanwaar die meeste van Boland Atletiek se projekte gereël word.
Richard Stander, Boland se hoof uitvoerende beampte, het in sy jaarverslag geskryf dat meer as 500 atlete die afgelope jaar die
geleentheid gekry het om die provinsie te verteenwoordig. Meer as 60 kompetisies was gereël waarin meer as 400 000 atlete deelgeneem het. Meer as 20 ontwikkelingsprojekte is gereël om die toekoms en kwaliteit van
die sport te verseker.
Die nuwe bestuur is dr Harold Adams (president), Pieter Lourens (onderpresident), Eric Adams (sekretaris), Godfrey Hammers
(tesourier), Chris Davids (landloop), Karl Liebetrau (padwedlope), dr Emily Pienaar (baan-en-veld), Pieter de Villiers (addisioneel), Wilfred Daniels (addisioneel), Ronel Beukes (addisioneel), Noël Daniels
(addisioneel). Richard Stander as hoof uitvoerende beampte dien ex officio op die Boland Atletiekraad.
|