safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday 16 January 2003

uitlefstreep

This site will be updated on: 23 January 2003 at 17:00

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Sport


Junior wen 25 Myl

[ Top ]


wpierSOOS daar voorspel is, het die Springbok-ryer, Robbie Dale en sy spanmaats van CVT met taktiek sake beheer in die 25 Myl tydens die Boxing Day byeenkoms en 'n oorwinning vir 'n junior ryer van Wellington verseker.

Dale se kopspeletjies het korte mette gemaak met enige teenstander se planne om 'n voorsprong op te bou tydens dié uitmergelende wedren wat oor 87 rondtes beslis is. Die span van die Kaap se planne het ook gewerk, met die CVT-ryer, Pierre Mouton, wat eerste

oor die wenstreep gejaag het.

"Simon Brown was eintlik die ryer wat ons span (CVT) uitgesonder het om te wen.

DROOM BEWAARHEID. Die lewenslange droom van Pierre Mouton van Wellington is tydens die Boxing Day byeenkoms bewaarheid toe hy die 25 Myl gewen het. Foto: Willie Cupido

"My werk was om sodra daar gebreek word, saam met die ryers te jaag en te keer dat hulle nie wegkom nie. Maar toe ek die gaping sien, het ek dit geneem.

"Toe ons weer by die bondel aansluit nadat ons hulle met 'n rondte ingehaal het, het Robbie-hulle heeltyd voor gaan ry om te keer dat iemand ons probeer inhaal," het Mouton, wat vanjaar 'n matrikulant aan die Hoërskool Hugenote is, gesê.

'n Ryer wat hom egter nie totaal deur die taktiek laat onderkry het nie, was Paul Minnaar.

Minnaar, wat vir die span van BoE ry en eintlik 'n padwedren-spesialis is, het eers op die dag besluit om aan die 25 Myl deel te neem. So onvoorbereid was hy dat hy 'n fiets moes leen om in die wedren te jaag.

Mouton en Minnaar, tesame met die Rhadsport-ryers Verdi Pharo en Durwin Benjamin, het in die 67ste rondte weggebreek. Pharo en Benjamin het vir vier rondtes deurgedruk voordat hulle teruggeval en weer deur die bondel ingesluk is.

Mouton en Minnaar het egter bly hard trap en in die 13de rondte weer by die bondel aangesluit, met 'n een rondte voorsprong.

Teen die einde het Mouton, 'n uithouwedren-spesialis, genoeg woema oorgehad om met die titel weg te ry in 1:01:12.

"Dit is nog 'n lewenslange droom om die 25 Myl op Boxing Day te wen, sedert ek al klein was," het Mouton gesê.

Dié CVT-ryer wat al nege jaar fietsry, het in 2001 vir die eerste keer aan dié item deelgeneem.

Minnaar moes met die tweede plek tevrede wees terwyl nog 'n plaaslike ryer, Nolan Hoffman van Rhadsport, derde klaargemaak het.

'n Ryer wat die toeskouers ook met goeie fietsry getrakteer het, was die jaer van Sentraal-Gauteng Morné Blignaut. Hoewel hy deurgaans hard gery het, kon hy nie vir hom 'n plek in die 25 myl losry nie.

Die Gautenger het egter eerste gekom in beide die 10km puntewedren en 400m ope en was ook die gunsteling in die 1 Myl, maar het geval.

Dale het hier met die louere weggeloop, met Dean Edwards (KZN) tweede en Pieter Jansen (Rhadsport) derde.

In die uitvalwedren het Garth Thomas (Rhadsport) eerste gekom, gevolg deur Dale en Edwards.

Blignaut is as senior ryer van die dag aangewys. Minnaar het die toekenning gekry vir die mees aggressiewe ryer, terwyl Rèniell Matthysen as die beste ryer van Paarl Fietsryklub aangewys is.

Stefan Lombard (CVT) het die Donald Kulsen trofee ontvang vir die beste o.16 ryer tydens die 1500m.

 

Nuwejaarsbyeenkoms

 

Die voorste drie jaers in die 25 myl wat tydens Yorkshire se Nuwejaarsbyeenkoms gery is, was ook plaaslike ryers.

Ashley Kulsen (Paarl) het hier met die louere weggestap.

"Ek het in die 49ste rondte weggebreek. Voor dit het ek gesit en wag vir die regte breekslag. Tydens die Boxing Day se 25 Myl, het ek op die verkeerde tye probeer breek," vertel Kulsen wat sesde geëindig het in dié item op Boxing Day.

Ricardo Heneke (Yorkshire) het Kulsen gevolg toe hy breek en die twee ryers het vir twee rondtes saamgery voor Heneke weer teruggesak het.

In die 30ste rondte het Kulsen weer die bondel ingehaal en kon hy effens agteroor sit, maar ook nie vir lank nie.

Hoewel hy 'n rondte voor was, moes Kulsen vir Paul Minnaar wat ook weggebreek het en sowat 'n driekwart rondte voor die bondel was, fyn dophou.

Hy wen nietemin die wedren in 1:00:07, met Minnaar tweede en Garth Thomas (Rhadsport) derde.

"Dit is een van my groot drome om 'n 25 Myl te wen. Daarby voel ek dat ek ook opgemaak het vir my swak vertoning tydens Boxing Day," het Kulsen gesê.

Die Paarl ryer het ook derde geëindig in die puntewedren en tweede in die uitvalwedren.

Morné Blignaut wat die uitval, naelry, 1 myl en Kierien wedrenne gewen het, was weer die beste fietsryer van die dag. Hy was ook tweede in die 20km puntewedren en vierde in die 25 myl.

Die 65-jarige veteraan, John Moss, van City Cycles het die jonger ryers op hulle neuse laat kyk toe hy die 20km punte gewen het.

Die beste fietsryers in die onderskeie groepe was o.10/o.12 Avery Arendse (York), o.14 Ashley Daniëls (Rhad), o.16 Rèniell Matthysen (Prl), Jnr/Elite Morné Blignaut (Gau), Vet Greg Botha (York), Vroue Magdelene Nicholson (York).

Ashley Kulsen gaan onder leiding van Gert Koortz, 'n fietsryer van Gauteng, hom vanjaar in Pretoria toespits op padfietsry en poog om plek te kry in 'n geborgde span.


Boland uit eendagreeks

[ Top ]


DIE Boland krieketspan se aanslag op die Standard Bank Eendagreeks titel is Vrydag in die Paarl kortgeknip toe Griekwas die tuisspan met 65 lopies in dié halfeindstryd geklop het.

Die manne van Kimberley het vroeg reeds hul voornemens duidelik gemaak toe die openingspaar, Loots Bosman en Martyn Gidley, 'n vennootskap van 125 gemoker het.

Die tuisspan kon eers in die 23ste beurt die vennootskap breek toe Bosman vir 70 deur Chad Baxter uitgehardloop is.

Boland kon egter vroeër 'n paaltjie in die sak gehad het, as dit nie vir blapse in die veld was nie.

Bosman het met die eerste bal wat hy trotseer het, 'n buiterand bygekry. Con de Lange op eerste glip het egter die vangskoot verbrou en 'n paaltjie vir Henry Williams tussen sy vingers laat glip.

Die manne in swart kon in die 25ste beurt weer die ander groot vis, Gidley toe op 46, haak toe hy 'n aflewering van De Lange luglangs na diepweg dryf.

Jacques van Wyk se oordeel het hom egter in die steek gelaat met die bal wat deur sy hande geglip en een keer hop en oor die grens rol vir 'n bykomende vier lopies.

De Lange het nietemin Gidley (51) se kop geëis in sy volgende beurt toe Henry Williams hom op skerpby vang.

Hoewel daar op dié stadium twee nuwe kolwers voor die penne was, het die besoekers se lopietempo nooit onder vyf lopies per beurt gedaal nie.

Pieter Koortzen (29) en Johann Louw (27) was die ander groot lopiemakers wat Griekwas uiteindelik op 243/6 gebring het in hul toegelate 45 beurte.

Behalwe vir Charl Langeveldt wat vir Brett Tucker en Adrian McLaren in sy agtereenvolgende beurte skoongeboul het en 36 lopies afgestaan het in sy agt boulbeurte, kon die Bolandse boulers nie die Griekwas in toom hou nie.

Boland was gou-gou in die moeilikheid met die telling op 81/5 in die 20ste beurt.

Die openingskolwer Chad Baxter het versigtig gekolf vir sy 85, sy hoogste telling in eersterangse eendagkrieket, terwyl Henry Davids, Louis Wilkinson, Justin Ontong, Vinod Kambli en De Lange almal vir enkelsyfertellings uitgehaal is.

Die kaptein, Ontong, het tog 'n stabiliseringsrol gespeel deur 'n 51-lopie vennootskap, waarvan hy ses aangeteken het, met Baxter te bou.

Steve Palframan het hierna met Baxter kragte saamgespan vir 'n vennootskap van 55 om die sesde paaltjies voordat die paaltjiewagter op 30 agter die penne deur sy eweknie, Wendell Bossenger uitgevang is van die boulwerk van Gidley.

Die tuisspan se laaste paaltjie kantel op 178.


Langeveldt in WB-span

[ Top ]


DIT was die ene vreugde toe hy sy naam oor die luidspreker hoor, vertel Charl Langeveldt, oor die oomblik toe hy hoor dat hy in die Wêreldbeker-krieketspan opgeneem is.

Die Boland snelbouler was besig om veldwerk te doen in die Standard Bank wedstryd teen WP toe die aankondiging oor die luidspreker gedoen is.

"Dit was groot blydskap en 'n traan of twee toe ek hoor dat ek in die span ingesluit is," het Charl gesê.

Oor sy kanse om in die finale span opgeneem te word nadat hy in die eerste oefengroep van 30 ingesluit is, was Langeveldt skepties.

"Ek het die seisoen swak begin en nie gedink ek staan veel van 'n kans nie, maar toe die eendagwedstryde aanbreek en my boulwerk verbeter, het ek besef daar is 'n klein kansie," vertel hy.

Dié bouler wat vir Young Peoples klubkrieket speel, is tevrede met sy huidige vorm veral ná sy vertoning in die laaste twee eendagwedstryde teen WP en Griekwas met syfers van 3/45 in nege boulbeurte en 2/36 in agt boulbeurte onderskeidelik.

"Dit sal moeilik wees om plek te kry bo spelers soos Makhaya Ntini en Allan Donald, maar as ek vir 'n wedstryd gekies word, sal ek die kans met albei hande aangryp," het hy gesê.

Langeveldt het in 2001/2002 tydens die Victoria Bitter reeks in Australië die laaste keer vir die Proteas gespeel.    


Paarlse aflosspan wys sy staal

[ Top ]


TYDENS die Totalsports Uitdaag afloswedloop waar van die top atlete in Suid-Afrikaanse sport te sien was, het 'n span van die Paarl gewys dat hulle vir niemand hoef terug te staan nie.

Die wedloop het Sondag in Gordonsbaai weggespring en 116,3km later in Kleinmond geëindig.

Die wedloop is verdeel in sewe bene wat elk uit 'n verskillende sport bestaan. Atlete kon individueel of in spanne van twee, vyf of sewe deelneem.

Die Hippo Gear span van die Paarl het uit ses Paarliete en een atleet van Gordonsbaai, Gary Cromie, bestaan.

Dit is dan ook Cromie wat om 6:30 die eerste been van 12km met sy branderski aangepak het. Met die oorgee aan Leonard Symington vir die 1,5km swem was die span van die Paarl vierde.

Paul Minnaar het op sy beurt tydens die 43km padfietswedren tot by die Kogelberg Natuurreservaat, sy span na die derde plek laat opskuif.

Dennis du Toit het op sy bergfiets die berghange trotseer en die gaping tussen die derde en vierde plekke verder vergroot. Hy het 20km verder aan Patrick Klaasen oorgegee.

Tydens Klaasen se 12,8km padwedloop, waar hy deur Kleinmond tot by die voëlreservaat die vaandel gedra het, het die Hippo Gear se naaste teenstander weer begin nader kruip.

Onderweg na die Meer-en-See oord is Herbert Conradie, wat 14km op die K1 kano afgelê het, deur twee roeiers verbygesteek.

Hoewel dit die span terug in die vyfde plek geplaas het, het die lenige Mbekweni atleet, Nkonsana Mponeng weer teruggeveg. Mponeng het slegs enkele honderd meters ver gehardloop tydens sy been van 13km wat oor duine en grondpaaie gestrek het, voordat hy weer die naaste atleet ingehaal en verbygesteek het.

Die skrander atleet het 'n gaping van meer as drie minute opgebou vir 'n versekerde vierde plek. Hy steek die wenstreep in 'n tyd van 6:30:40 oor, agter die wenspan van Simpson/Nissan (6:06:50), naaswenners Men's Health (6:07:18) en die derde plekwenners Totalsports (6:26:27).

Die span van 180º Adventure het vyfde geëindig met 'n tyd van 6:33:55.


Wellington Rugbyklub kry klubhuis

[ Top ]


DIE Wellington Rugbyklub sal binnekort weer 'n klubhuis hê, nadat hy vir die afgelope vier jaar nie 'n tuisveld van sy eie gehad het nie.

Wellington Rugbyklub het in 1974 sy veld en geriewe aan die Boland Rugby Unie verkoop met die verstandhouding dat hul steeds gebruiksreg van die klubhuis en veld het.

Toe Boland in 1998 egter Curriebeker-status kry, het die Unie gevra of hulle die veld kan opgradeer en uitsluitlik kan gebruik indien hulle 'n ander veld vir Wellington Rugbyklub beskikbaar stel.

Sedertdien het Wellington sy tuiswedstryde op die velde van die ou Onderwyskollege Boland gespeel as 'n tussentydse reëling van Boland.

Op 5 Desember 2002 is bouwerk begin aan 'n klubhuis langs die Boland B-veld wat voortaan die tuiste van Wellington Rugbyklub sal wees.

Die struktuur sal in totaal 624m2 beslaan met 'n klubhuis wat bo-op twee kleedkamers, twee stoorkamers, 'n noodhulpkamer en 'n skeidsregterskleedkamer sal rus. Daarby sal daar ook 'n pawiljoen gebou word wat onderdak-sitplek vir sowat 350 toeskouers sal bied.

Die sinkplaat aan die agterkant van Boland Stadion se oostelike pawiljoen sal ook weggehaal word om 'n uitsig oor die A-veld te gee.

Die B-veld self is ook sowat 10m oorgeskuif in die rigting van Hugenote Hoërskool om plek te maak vir die konstruksie. Die hele perseel sal ommuur word.

Die projek wat deur Boland gefinansier word, beloop sowat R1 miljoen.

Volgens die voorsitter van die WRK, Dolf Stemmet, sal die klubhuis vroeg in Maart afgegee word, met die eerste klubwedstryde wat op 29 Maart gespeel word.

"Die bykomende geriewe is 'n goeie ding vir Wellington en vir Boland Rugby. Veral met die oog op die o.18 rugby Cravenweek wat vanjaar hier gehou word en waartydens meer as 20 spanne hier sal speel.

"Geleenthede soos die Stokkiesdraaifees sal ook voordeel daaruit trek met die fees wat op die veld aangebied kan word," het Stemmet gesê.

Hy het bygevoeg dat wedstryde in nat toestande tussen die twee velde verdeel kan word wanneer die Boland o.19, o.21, Meriete en Kavaliers die slag almal moet tuis speel.

* Die Wellington Rugbyklub begin op 21 Januarie om 18:30 met oefen by die Boland B-veld. Alle belangstellendes is welkom.  


Min tyd vir Paarl Post prettrap inskrywings

[ Top ]


DAAR is nog sowat 'n week oor voor die Paarl Post Wynroete Prettrap plaasvind, maar dit is nog genoeg tyd vir 'n bietjie skaafwerk aan die voornemende deelnemers se fiksheid. Veral vir diegene wat oefen vir die Argus.

Volgens Dennis du Toit van Hugenote Fietse is dit nou tyd om die pas aan te draai om te verseker dat jy nie agterweë gelaat word op die 22km en 38km bergfietsroete of die 78km en 38km padfietsroete nie.

Dit is belangrik om nie te vinnig te begin oefen nie, maar om stadig die afstand wat jy per week aflê, te vermeerder. Tien persent per week is die norm, bv, 150km x 10% vir week 2 = 165km.

Die oefenprogram hieronder is net 'n riglyn, laat jou lei deur jou fiksheidspeil en tyd tot jou beskikking. 'n Tipiese week lyk so: Maandag is gewoonlik 'n rusdag ná 'n prettrap of wedren die Sondag.

Dinsdag ry jy tussen 30km en 40km, trap so dat jy genoeg aerobiese oefening kry, maar nie uitasem is nie.

Woensdag is dit tyd vir 'n harde sessie oor dieselfde afstand, maar kry 'n pad met 'n paar steil bulte. Trap hard teen die bulte uit teen 85% van jou krag.

'n Stadige, rustige rit van tussen 30km en 40km is op Donderdag se oefenprogram. Dit moet ook met dieselfde intensiteit as Dinsdag se oefensessie gedoen word.

Vrydag moet jy vir een uur ry en drie of vier naelritte teen volspoed aflê. Dit is meer ter voorbereiding op 'n fietswedren wat die naweek kan plaasvind as wat dit 'n oefening op sy eie is.

As daar die naweek geen prettrappe is nie, is lang rustige ritte wat van een tot drie uur duur of 'n groeprit saam met vriende net die ding.

Die dae van die oefenprogram kan omgeruil word en hoef nie in 'n spesifieke volgorde te wees nie. Luister na jou liggaam - as jy moeg is, rus 'n dag.

Inskrywingsvorms vir die Paarl Post Wynroete Prettrap is beskikbaar by Hugenote Fietse en Kroff Fietswinkel. Vir meer inligting, skakel Luc of Marcia by 863-3333.

* Daar is elke Dinsdag 17:45 'n rit op na die bo-punt van Du Toitskloof wat by die Paarl stadsaal begin. Belangstellendes kan Dennis skakel by 872-4354.      


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za