|
GEDURENDE Septembermaand word 'n baie unieke uitstalling by die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl gehou - 'n groep Matiestudente se kreatiewe plakkate wat die praat van Afrikaans bevorder.
As opdrag moes eerstejaars in prof Dorothea van Zyl se mediakundekursus by die Universiteit van Stellenbosch elkeen 'n plakkaat ontwerp wat die publiek sou aanspoor om Afrikaans te gebruik.
Slagspreuke wissel van "Ek smaak Afrikaans", "Afrikaans laat jou tong op jou tande dans", tot "Daar's 'n tintel in 'n Afrikaanse tong" - met lekkerproe beelde van 'n toffie, 'n bottel brandewyn, 'n yslike, groot tong of heerlike lekkernye.
Strokiesverhale, pensketse en rekenaargemanipuleerde beelde word ingespan om Afrikaans se erfenis uit te beeld - met sêdinge soos "Gaan op reis met Afrikaans - en los die bagasie!"
Op 'n ander plakkaat beveel 'n yslike skoen sonder veters: "Ryg Afrikaans in jou lewe in!"
Híér spring 'n Afrikaanse hart op 'n konsertinapapiertjie uit een van die plakkate en dáár spog 'n dame met 'n laehalsrok wat sê: "My bra, praat Afrikaans uit volle bors!"
Besoek die museum gerus by Pastorielaan 11 in die Paarl. Die plakkate word in die Historium, die gebou langs die museum, uitgestal.
Die museum is oop weeksdae van 09:00 tot 16:00 (naweke en vakansiedae slegs vir bespreekte toere). Vir meer inligting, skakel 872-3441. |