|
DIS matriekafskeid-tyd, die tyd van die jaar wat seuns maar tevrede moet inval by hul metgeselle se keuse van uitrustings - wat in elk geval die meeste aandag trek.
Dis duidelik dat die tieners vasbeslote is om vir een aand te vergeet van die eindeksamen en hul vere regskud vir 'n groot makietie.
Vanjaar is daar 'n duidelike meningsverskil onder mode-ontwerpers.
Volgens die bekende kleremaakster Bessie van Zyl, is oop magies en effekleurige rokke uit.
"Tabberds met 'n lae rug en vloeiende punte, asook blomme en skoenlappers is gewild.
"Min seuns dra 'n formele pak - 'n hemp wat pas by die metgesel se uitrusting is in aanvraag.
"Ouers moet maar net inval. Baie leerders gee nie om wat hulle betaal nie, maar hulle moet in gedagte hou dat nie almal soos 'n model kan lyk nie.
"Jy moet aantrek wat by jou figuur en persoonlikheid pas."
Ontwerper Warren Sitzer meen dramatiese ontwerpe en kleure soos wit, swart en rooi is baie gewild by beide geslagte.
"Pastelle is uit en die Bollywood-styl is in. Mans kan uitsien na strepiespakke, gepunte stewels en uitklokbroeke. Diamante-sandale en handtassies is in."
Hy meen min leerders het oorboord gegaan met die finansies en hul ouers se sakke in gedagte gehou by hul keuse van uitrusting.
Dit bly egter 'n tyd van groot opwinding vir matrikulante, al slaan dit hul ouers se sakke hard.
Die groot vraag is: wat word gedra?
Interessante haarstyle bly gewild, so ook duur motors om die paartjie in styl by die afskeidsparty af te laai.
Volgens Wendall Botha, 'n leerling by Klein Nederburg Sekondêr, is informele drag hoogmode.
"Denim en leer, gekombineer met wynrooi, vat die koek. Formele drag en skoene is uit vir die seuns.
"Leerders wat soos narre probeer lyk het, sal ook nie die kollig steel nie. Prakties is die woord.
"Alhoewel die matriekafskeid 'n groot dag in 'n jongmens se lewe is, is die eindeksamen die grootste hekkie wat ek moet oor," voeg hy by.
Fabian Pietersen, eerste span rugbykaptein van Klein Nederburg Sekondêr en sy spanmaat Lorenzo Jacobs, meen 'n mens moenie afskeep met jou uitrusting nie.
"Ons het glad nie by 'n begroting gehou nie, aangesien dit 'n groot geleentheid is.
Gcobani Makumsha, van Noorder-Paarl Sekondêr, voel dat die kleurvolle uitrustings wat baie seuns verkies, nie wenslik is nie.
"Dit is 'n formele geleentheid en ek verkies swart en wit, in Italiaanse styl."
Ryno Fillis, Paulus Joubert Sekondêr, sê dat denim-drag in en aandpakke uit is: "Jy en jou metgesel se uitrustings moet min of meer bymekaar pas."
'n Gimmie, Enrico Lategan, meen dat swart pakke en Chinese styl in is, en uithang met spoggerige vervoermiddels is onnodig.
Justin Johannes, hoofseun van Paulus Joubert Sekondêr, waarsku: "Die afskeid is 'n groot geleentheid, maar dit sal jou definitief nie dra tot na jou matriekjaar nie."
Astrid Prins, hoofdogter van Paulus Joubert Sekondêr, meen weer helder kleure en informele drag is vir die meisies 'n moet.
"Maar die dae van oorboord gaan en uitlokkende kleredrag te dra, is uit. Dit is ons laaste jaar en ons wil dit op 'n goeie noot afsluit."
Klein Nederburg Sekondêr se Vichelle Sampson vrees ook dat sommige mense oorboord gaan met hul uitrustings.
"Ek is baie opgewonde oor die afskeid, maar steeds 'n bietjie op my senuwees, aangesien enigiets verkeerd kan loop."
Lisinda Wanza van Klein Nederburg Sekondêr voel dat semi-formele drag gewild sal wees.
"Ek hoef nie eens baie te spandeer nie, maar dit is net vir een aand wat jy die kollig sal tref," sê sy.
Leandra Pretorius van Hoërskool Gimnasium, meen treffende kleure en lae rûe het 'n groot voorsprong bo balrokke hierdie jaar.
"Ek weet nog steeds nie wat die tema is nie, maar dit en die ander leerders se uitrustings, is waarna ek uitsien."
Wesaal Gaidien van Hoër Meisieskool Paarl, meen dat 'n eenvoudige A-lyn rok 'n "statement" maak.
"Maak nie saak hoe die ander lyk nie, die eerste vyf minute wat jy uit die motor klim, en almal se oë is op jou, dis die ongelooflikste."
Plaaslike modewinkels doen vanjaar goed sake met matrikulante wat van die rakke af aankoop.
Hulle stem saam dat denim vanjaar gesien sal word, gekombineer met wit, oranje en pienk. Rokke met lae halse en sagte, vloeiende lyne is hierdie jaar 'n moet - maar gedempte kleure is uit.
Ouers het gewoonlik nie 'n sê in hul kinders se smake nie, maar stem saam dat hulle tog net die beste wil gee vir die groot aand.
Urshila Botha sê ouers moet maar opdok, al is dit duur, maar Nazlee Gaidien meen jy hoef nie oorboord te gaan nie.: "Minder is baie keer beter."
* The main topic of conversation is matric dance fashions. |