|
ONDANKS 'n karaktervolle terugvegpoging moes die eerste span van Paarl Rugbyklub Saterdag met 'n 29-26 nederlaag in hul wegwedstryd teen Primrose tevrede wees.
Die besoekers verdien beslis 'n klop op die skouer vir die wyse waarop hulle van hul 21-3 agterstand met rustyd teruggeveg het, en met twee bonuspunte terug huis toe is.
Die omgesukkelde Paarl span het dan ook vier drieë gedruk in die tweede helfte toe Philip van Staden, Morné Kershoff, Marco Martin en Jacques Hendricks agter die doellyn gaan kuier het.
Hendricks was ook in die kol met drie doelskoppe.
Die wedstryde is egter in 'n gespanne atmosfeer gespeel, met geniepsige spel wat handuitgeruk het in aldrie wedstryde.
In die tweede span wedstryd is die Paarl-haker, Heinrich Foster, se oogvlies geskeur nadat 'n Primrose-speler sy vinger in Foster se oog gedruk het. Hy moes Saterdagaand steke ontvang.
In 'n doktersverslag aan die WP Rugbyunie skryf dr Edwin Jordaan: "Ek sien die geval as aanranding met die doel om ernstig te beseer."
Die kaptein van die tweede span, Dawie Aggenbag, het vroeg in die tweede helfte sy span van die veld gelei nadat die Paarliete nie meer die vuilspel kon hanteer nie.
In die derde span wedstryd is daar ook twee Paarl-spelers beseer weens ontoelaatbare spel.
Die eerste span wedstryd het ook heelwat strafkaarte opgelewer.
Paarl se tweede en derde spanne het 24-5 en 32-10 verloor.
Die bestuur van Paarl Rugbyklub sou gisteraand vergader om te bespreek of die klub 'n klag by die Westelike Provinsie Rugby Voetbalunie gaan indien.
"Die spel wat gespeel is, was nie 'n openlike bakleiery nie, maar was definitief geniepsig, veral in die losskrums," het Bertus Valentyn, bestuurslid van Paarl Rugbyklub gesê.
"Die eerste span wedstryd het in dieselfde trant verloop. Die gees waarin die wedstryd gespeel is, was verkeerd met veral seker spelers wat doelbewus té geniepsig gespeel het," het Valentyn wat die wedstryd aanskou het, Woensdag gesê.
Ten opsigte van die belangrike kragmeting en laaste ligawedstryd teen Young Peoples Rugbyklub wat Saterdag op Faurestraat gespeel word, kan die Tiere 'n harde stryd te wagte wees.
"Dit is net nog 'n wedstryd wat ons wil wen om ons doel te bereik en dit is om in die boonste helfte van die eerste liga punteleer te eindig," sê Valentyn.
In antwoord op of die Tiere enige gunste van hul Paarlse bure te wagte kan wees, sê Valentyn: "Ons gaan nie die wedstryd gooi nie. Ons benader dit soos enige ander wedstryd. Ons wil die seisoen afsluit met dieselfde toewyding as waarmee ons dit begin het." |