|
'n BEKENDE Paarliet, afgetrede prokureur Hodgson Louw (79), is Vrydag na 'n lang stryd teen kanker oorlede.
Louw het feitlik sy lewe lank in die Paarl gewoon en word beskryf as 'n nederige man vol lewensvreugde.
Hy is op die familieplaas Picardie in Suider-Paarl gebore as jongste seun van Louis Louw, befaamde Springbok-rugbyspeler van die twintigerjare.
Na matriek aan die Hoër Jongenskool Paarl het hy aan die Universiteit van Kaapstad in die regte studeer.
Daarna het hy agt jaar vir die diplomatieke diens gewerk, eers as sekretaris vir die Suid-Afrikaanse konsulaat in Kenia en daarna as vise-konsul in Mosambiek.
Met sy terugkeer na die Paarl het Louw by die Paarl Trust (voorloper van Boland Bank) in diens getree.
Later het hy hom by die prokureursfirma Van der Spuy en Vennote aangesluit, waar hy tot met sy aftrede in 1989 'n senior vennoot was.
Louw, wie se liefde vir die natuur, buitelewe en reis wyd bekend was, was tot vroeër vanjaar ook voorsitter van die Stigting Paarl 300, wat hom vir die bewaring van die Paarlse kultuurerfenis beywer.
Hy word oorleef deur sy vrou, Reinette, met wie hy in 1981 getroud is nadat sy eggenote Roelene, hom ontval het, asook vyf kinders.
Hulle is drs De Wet Louw en Roelf Louw van die Paarl en Joanie Enslin van Onrus en stiefkinders dr Stephan van Dyk van Worcester en Susan Roux van Kaapstad, asook twaalf kleinkinders en sy broer, Herold Louw.
'n Gedenkdiens is gister uit die Strooidakkerk, Paarl, gehou. Louw word privaat veras.
* Sonia Schneider, weduwee van gesondheidsinspekteur Neels Schneider, is ook gister ter ruste gelê nadat sy Maandag oorlede is aan kanker. |