|
AS die weerdokters hul feite agtermekaar het en die reënwolke wel teen vanaand verdamp, sal die Boland se eerste SuperSport wedstryd môre tuis teen die KwaZulu-Natal Dolfyne sonder probleme begin.
"Dinge lyk maar triestig en die span is geforseer om binnenshuis te oefen, maar die spelers is almal positief," was Dinsdag die kommentaar van die Bolandse afrigter, Deon Muller.
Volgens Muller het die Boland se drie opwarmingswedstryde teen die OP, Griekwas en WP "redelik goed" verloop.
"Dinge het stadig begin, maar die kolwers het in elke wedstryd met groter selfvertroue begin speel. Mark Sanders, die nuweling van Natal, lyk goed en het twee tellings in die 40's en 'n 54 aangeteken, terwyl Chad Baxter teen die WP 79 aangeteken het. Gerhard Strydom se fokus blyk ook reg te wees en hy het 'n vyftigtal, 36 en 40 aangeteken. Die ander nuweling, Graeme Marais spog met 'n gemiddelde van 102 na twee vyftigtalle en nog 'n telling in die hoë veertigs."
Dit is nog nie groot-groot tellings nie, maar die tekens is daar dat die spelers reg is."
Muller het bygevoeg dat die nuwe aanwins van WP, Wesley Euley, 97 teen die WP en 85 teen Griekwas gemoker het.
Daarby het die Boland se veteraan-snelbouler, Henry Williams gewys dat hy nog baie vuur in hom het, en in die eerste wedstryd vyf paaltjies platgetrek.
Op 36 bring Williams die ervaring na dié jong span met 'n gemiddelde ouderdom van 24, en is hy om dié rede vir die orige twee wedstryde gerus.
Wallace Albertyn is ook goed op dreef, maar 'n vroeë teleurstelling is Jacques van Wyk wat las het van 'n lae-rugbesering.
"Dit is 'n klein besering wat hy êrens in die voorseisoense program opgedoen het, en wat hy in die vooraf-wedstryde vererger het. Hy sal dus nie in die eerste wedstryd speel nie," het Muller gesê.
Justin Ontong was deel van die SA A-span wat in Pretoria teen Sri Lanka gespeel het, en sou gister weer in die Paarl aangekom het.
"Justin is nog nie in die vorm wat ons hom graag sou wou hê nie," het Muller van die Boland-staatmaker gesê nadat hy 31 van 86 balle in die eerste beurt van die SA A se vierdagwedstryd aangeteken. Die Suid-Afrikaners se oortuigende oorwinning van nege paaltjies het beteken dat dit nie vir hom nodig was om in die tweede beurt voor die penne stelling in te neem nie.
Die Bolander is ook min kans gegee met die bal maar het in sy twee beurte 1/12 behaal.
In die eerste beurt van die tweede toets het Ontong 39 (van 56 balle) aangeteken en ook hier was die tuisspan so in beheer dat hy weer nie 'n tweede kolfbeurt gekry het nie.
Die Bolanders sal môre aan die ontvangkant wees van 'n uitgehongerde Lance Klusener wat op omstrede wyse sy plek in die SA span verloor het.
Zoeloe, wie se arbitrasiesaak teen die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika (VKSA) einde November aangehoor word, sal vir baie wil bewys dat hy nog heelwat vir die Proteas kan beteken.
Volgens Muller, sal sy spelers nie geïntimideer word deur die groot name van Klusener en Dale Benkenstein nie.
"Dis die voordeel wat ons het, die jong spelers is honger en wil presteer."
Muller het bevestig dat die nat toestande dalk 'n bouler-vriendelike blad tot gevolg kan hê, met heelwat beweging van die bal vir die naatboulers.
Die span is Mark Sanders, Chad Baxter, Gerhard Strydom, Justin Ontong, Graeme Marais, Con de Lange (k), Wesley Euley, Wallace Albertyn, Willem du Toit, Ryan Groeneveld, Henry Williams en Rashaad Magiet (12de man). |