|
DIE Wellington Sakekamer bedank graag mnr Jacques Carstens (uittredende Munisipale Bestuurder) vir sy jarelange
professionele diens aan Wellington en in die onlangse verlede, die Drakenstein Raad.
Die Wellington Sakekamer het soos enige ander belastingbetaler oor die jare verskeie kere met mnr Carstens
gekonsulteer, besluite bevraagteken en soms ook verskil.
Ons is egter altyd hoflik abehandel en die basis vir besluite was deursigtig en gebaseer op werklikhede wat
bestuur moes word. Daarom 'n woord van dank en ons goeie wense vir sy toekomspad.
Die meriete van die Drakenstein Raad se besluit om miljoene rande se pakkette aan amptenare aan te bied voor
verstryking van hul dienstermyn moet egter bevraagteken word.
Burgemeester Herman Bailey se verklarings tot hede dui daarop dat hy sy bes gedoen het om aan mnr Carstens 'n
billike skeidingspakket aan te bied en ons beskou dit niks minder as reg nie, gegewe sy lojale prestasie oor jare heen.
Die belangrikste vraag bly egter steeds hoekom hierdie besluit juis nóú geïmplimenteer moes word. Bekwame
amptenare gaan sit nou tuis teen volle betaling en nuwe aanstellings word in hul plek gedoen (waarskynlik teen min of meer dieselfde terme en voorwaardes) vir 'n nuwe termyn.
Die tydperk en koste aangegaan vir die periode waarmee die nuwe aanstelling en die afgelegde amptenaar se termyne
oorvleuel, is die werklike koste vir die belastingbetaler en in ons opinie 'n onnodige uitgawe. Dit is hierdie syfer wat die Raad moet publiseer en wat ons aan belastingbetalers moet verduidelik.
Kon die Raad werklik nie net 'n jaar of twee gewag het totdat die kontrak verstryk het nie?
Die ANC by monde van Minister Lekota het in Oktober verlede jaar dit duidelik gestel dat hul nie alleen 'n
behoefte het aan kundige amptenare nie, maar het mense selfs aangemoedig om hul terugkeer te maak tot die Staatsdiens om hul patriotisme te bewys.
Pieter Bezuidenhout Wellington Sakekamer
|