safetop
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost

 

ppostgothic
uitlefstreep

Thursday 17 February 2005

uitlefstreep

This site will be updated on 24 February 2005.

Nuus - News


WINE WALTZ. Corinna Schwarze and Johan Kirsten of Stellenbosch took wine-making to the next step during the annual wine grape "stomp" of the Barefoot Wine Company which was held at Mountain Shadows farm in Paarl on Sunday. Some 100 people got together to press the chenin blanc grapes which will be made into a fortified white wine.   


Groot skade ná inbraak

[ Top ]


SKADE van derduisende rande is aangerig toe 'n brand Saterdagnag in Broadway hardewarewinkel in Huguenot uitgebreek het.

Die brand is vermoedelik deur inbrekers gestig.

Petroljoggies van die vulstasie op die hoek van Jan van Riebeeckweg en Ambagsvalleistraat het later gesê dat hulle 'n man in donker klere die nag so om 04:00 sien weghardloop het van die winkel.

Brandweermanne en die polisie het met hul aankoms gevind dat die slot van 'n oprol veiligheidsblinding gebreek is.

Die blinding is opgelig en die groot vertoonvenster gebreek. Forensiese kenners van die polisie het Sondag die toneel vir leidrade gefynkam. Insp Rodger Dyason (807-4000) ondersoek die saak.

Hoogs ontvlambare produkte, soos verf en terpentyn, was op die rakke in die middel van die winkel, waar die brand vermoedelik begin het.

Erge rookskade is aangerig. Die vlamme het tot teen die hoë dak gelek en ook die dakplate beskadig.

Ahmed Ebrahim het Maandag verslae buite die winkel op die assessors gewag.

"Ons vermis 'n hele kasregister en 'n tweede kleinkas. Rekenaars en 'n faksmasjien het gesmelt en ons voorraad is erg beskadig," het hy gesê.

Forensiese ondersoekers van die versekering sal vandag die puin deursif vir leidrade.

Die onderneming sal eers weer kan besigheid doen wanneer die verwoesting opgeruim is.

Intussen kan klante hul aankope by die Ebrahims se hardewarewinkel op die hoek van Goetham- en Lakaystraat (agter Foodworld in Klein Drakensteinweg) doen.

* A well-known hardware business in Huguenot has been damaged by fire.


Rivier bly vuil

[ Top ]


DIE grootste bron van besoedeling van die Bergrivier is tans ontoereikende rioolplase.

So meen Edie Malan, voorsitter van die Bo-Bergrivier Hoofbesproeiingsraad.

Volgens Malan is daar kommer oor die afloop uit die Wellington rioolplaas, terwyl die Drakenstein-gevangenis se rioolplaas ook 'n bydraende faktor is.

Munisipale ingenieurs het onlangs aanbeveel dat daar 'n moratorium op ontwikkeling op Wellington geplaas moet word, omdat die rioolplaas te klein is en opgegradeer moet word teen 'n koste van miljoene rande.

By Drakenstein-gevangenis is 'n nuwe rioolplaas in aanbou, maar dit sal eers oor vier maande voltooi wees.

Volgens Malan het Korrektiewe Dienste nou opdrag gekry om dringend die kwaliteit van die afloop uit die bestaande rioolplaas te verbeter, omdat die landbou afhanklik is van die rivierwater vir besproeiing.

* Die tydelike keerwal wat oor die Kersseisoen gebou is in die Newton-stormwaterkanaal het dié bron van besoedeling, waaroor in die hof gedraai is, beperk.

Hoewel die wal in Januarie weggespoel het tydens die twee reënstorms, is dit dadelik herbou met sandsakke. 'n Permanente keerwal sal voor die winter daar gebou word.


'Stelsel' het vrou haar lewe gekos

[ Top ]


DIE stelsel het haar lewe gekos, word gesê van die vermoorde Lisbé Smuts-Smith van Wellington.

As die tronkowerhede hulle werk behoorlik gedoen het, en die vermeende moordenaar nie op parool vrygelaat het nie, het sy nog gelewe.

So voel ontstelde inwoners oor die dood van die begaafde akademikus wat verlede Maandagoggend in haar woning Twistniet in Burgstraat, vermoor is.

Elton John Lourens (27), die verdagte, was kaalvoet en het 'n T-hemp en slaapbroek van Lisbé se seun Timotheus (17) aangehad toe polisie hom kort na die moord op die Boland sportterrein in hegtenis geneem het.

Sy eie wit kniebroek en geruite hemp is in die kombuis van die moordhuis weggesteek. Hy het dié nat klere uitgetrek nadat hy uit die swembad geklim het waar Lisbé se liggaam op die water bly dryf het.

Nog van sy klere, asook 'n byl en 'n slagtersmes, is in tuine in Tweedelaan gevind, by huise waar daar die oggend voor die moord ingebreek is.

Lourens is bekend daarvoor dat hy sy langbroek en skoene uittrek om geruisloos deur huise te kan beweeg terwyl die eienaars slaap.

Hy dra ook tot drie kortbroeke oormekaar, om van sy klere langs die pad ontslae te raak en so agtervolging te bemoeilik.

Lourens het 'n misdaadgeskiedenis  vandat hy tien jaar oud was, met 25 veroordelings vir huisbraak en diefstal.

Toe hy in Mei verlede jaar op parool uit die gevangenis gelaat is, was dit nadat hy 'n vonnis uitgedien het vir 'n oortreding gepleeg tydens 'n vorige paroolvrylating.

Lourens is nou in aanhouding in Allandale gevangenis tot die volgende hofverskyning op 1 April.

Verbetering

* Intussen is daar  verbetering in die toestand van Alexa Kirsten (52), die buurvrou wat Lisbé te hulp gesnel en toe aangeval is.

Alexa is uit die intensiewe eenheid van die Groote Schuur Hospitaal geskuif na 'n private kamer. Sy het nie meer die suurstofmasjien  nodig nie.

Alexa begin gevoel in haar linkerhand en voet terugkry nadat sy deels verlam was.

Die aanvaller het haar 'n gapende wond teen die kop toegedien en  herhaaldelik in die skouer gesteek met 'n skroewedraaier.

'n Trustfonds is gestig om te help met die lang rehabilitasie wat voorlê vir die vrou wat bekend is vir haar geverfde lappe en handvlyt.

Bydraes kan inbetaal word by die prokureurs Ingwersen, Feenstra & Marais, te Absa Wellington 3334510 (taknommer 4040633095) met die verwysing "Kirsten".

* The "system" cost a woman who was allegedly murdered by a parolee, her life, say local residents.


Motorsaak draai ver

[ Top ]


VERDAGTES in die Wellingtonse motordiefstalsaak het verlede week in die Strand landdroshof verskyn.

Borgtog is tot die volgende verskyning op 6 April verleng. Danye Louw (28), voormalige eienaar van Boland Trade Centre in Kerkstraat, is die hoofverdagte in die diefstalsaak.

Die klagtes wissel van die ontvang en besit van gesteelde voertuie, voertuigdiefstal en moontlike bedrog.

Die mede-beskuldigdes is sy pa Herman Louw (50) ook van Wellington, sy swaer, wynmaker Johannes de Jongh (25) van Koelenhof, Quin Hough (32), die oud-Boland rugbyspeler en nou motorverkoopsman op Wellington, verkeersbeampte Arrie Cloete (51) van die Paarl en Wellingtonse motorhandelaars Bennie Wiggins (59) en sy broerskind, Deon Wiggins (33).

Die saak spruit uit Danye se arrestasie in Oktober verlede jaar nadat 'n gesteelde Pajero by sy woning in Berg-en-Dal ontdek is. Beslag is toe ook gelê op gesteelde voertuie by sy sake-onderneming.

Danya is op borg van R2 500 en die ander mans R2 000. Geen aanklagte is aan hulle gestel nie, en hulle is nie gevra om te pleit toe die saak vir verdere ondersoek uitgestel is nie.

* Local residents are appearing in court in the Strand on alleged car theft charges.


Tjoepstil na hulle twee sien verdrink

[ Top ]


TWEE seuns het drie dae lank verswyg wat hulle die naweek gade geslaan het - hoe 'n vrou en kind in 'n plaasdam in Agter-Paarl verdrink het.

Randall Swartz en Elethu Mabutya (13-jariges) het Sondag saam met Thobeka Solomons (20) en Petro Sabat (9) van die plaas Uitsig in 'n modderdam op die buurplaas Olifantsfontein gaan swem.

Thobeka het met klere en al in die water ingestap en die meisie na haar toe geroep. Die seuns het ook tot in die middel geswem, waar hulle in die modderwater gespeel het.

Toe Petro begin spartel en sê sy is moeg, het Thobeka haar aan die arm gehou. Randall het skielik besef het hy kan nie in die gladde modder staan nie, en hy en Elethu het na die rand geswem.

Die seuns het gesien hoe Thobeka ook onder die water begin insak. Hulle het weer ingeswem en haar aan die arms bo die water probeer uitlig.

Hulle kon haar neus in die lug kry, maar toe word die seuns moeg en moes hulle haar los en uitswem.

Die seuns het later vertel hoe hulle om die dam gehardloop het om iets te kry om na die vrou te gooi, maar hulle kon niks opspoor nie.

Toe hulle weer kyk, het net Thobeka se hare bo die water uitgesteek.

Die seuns het gesê hulle het so geskrik, en was so bang dat hulle beskuldig sou word, dat hulle besluit het om stil te bly.

Maandag is hulle na hul onderskeie skole, by Kersboslaagte en Noorder-Paarl. Dinsdag kon Randall dit egter nie meer hou nie.

Hy het besef Thobeka se vriend soek haar al sedert die Sondag en daardie oggend het Petro se gesin ook na haar begin vra.

Randall het 'n vriend van die verdrinking vertel, wat 'n onderwyseres ingelig het.

Polisieduikers het nog dieselfde dag die twee lyke uit die plaasdam gehaal.

* Teenagers who witnessed the drowning of two people on a farm, told no-one for three days for fear they might be in trouble.


Wielloos op straat

[ Top ]


MIN dinge is meer frustrerend as om op 'n bra blou oggend uit die huis te kom en te sien dat jou motor sonder wiele staan.

Motorbanddiewe het die afgelope paar weke 'n hele paar Wellingtonners rooi laat sien.

Terwyl sommige voertuie wat op straat geparkeer was, oornag beroof is, was die diewe in een geval arrogant genoeg om sommer helder oordag twee wiele van 'n BMW in Jan van Riebeeckstraat af te steel.

Terwyl hul makkers verbygangers se aandag afgelei het deur onder die enjinkap van hul voertuig te loer, het die diewe vinnig aan die sypaadjie se kant gewerk om die twee kantwiele af te skroef en die pad te vat.

"Dis asof die diewe op bestelling werk," sê kapt Leon Laubscher van die Wellington SAPD, aangesien daar nog nie 'n patroon gevind kon word tussen die verskillende groottes bande wat gesteel word nie.

In Malanstraat het die bande van 'n rooi Golf, wat net die vorige week 'n nuwe eienaar gekry het, oornag verdwyn, terwyl selfs 'n sleepwaentjie deur die diewe ontspoor is.

Kapt Laubscher het inwoners gevra om liefs hul voertuie saans in 'n motorhuis of agter 'n tuinhek te trek, eerder as om hulle onbeskermd op straat te los.

Mense met inligting kan kapt Laubscher kontak by 873-1141.

* Tyre thieves have hit hard in Wellington during the last few weeks.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@paarlpost.co.za  

[ Top ]