|
Dit dien ook om die breër gemeenskap bewus te maak van die werk wat daar gedoen word om gesiggestremde leerders waardige lede van die gemeenskap te maak.
Die spreker by die geleentheid was dr William Rowland, uitvoerende voorsitter van die Nasionale Raad vir Blindes, en self 'n oud-student van die Pionierskool.
Hy het in sy toespraak klem gelê op die belangrikheid van opvoeding om positiewe gesindhede rondom gesiggestremde mense te verbeter.
Die spoggerige driegang-ete het gepaard gegaan met 'n uitvoering van die Pionierskool se skoolkoor, 'n blokfluit-ensemble wat 'n werk van Vivaldi met oorgawe uitgevoer het, en 'n demonstrasie van hoe mense wat geen sig het nie, geleer word om met hulpmiddels soos witkieries meer mobiel te wees.
'n Veiling van skilderye en handwerk wat deur gesiggestremde leerders gemaak is, het ook plaasgevind om broodnodige fondse vir die skool in te samel.
Die hoogtepunt van die aand (vir sommige die mees skrikwekkende) was egter die bediening van die hoofgereg, wat galant deur leerders van die skool bedien is.
Daar is van die gaste verwag om hul hoofmaal in algehele donkerte te eet, sodat hulle iets van die leefwêreld van die blinde kon ervaar, en ook weer 'n dankbaarheid kon ervaar vir al hul sintuie.
"Eet jou kos van die kante af, benader die uitleg van jou bord soos 'n horlosie, en moenie jou arms wild swaai op soek na jou wynglas nie," was van die raad wat Anlo van Heerden van die Pionierskool aan die gaste gegee het voordat die kos bedien is.
Soos wat die ligte al donkerder gestel is, het die gaste 'n laaste kykie na die gesigte van hul metgeselle gegee, glase vol gemaak en vinnig probeer loer wat op die belaaide borde was.
Opgewonde, maar tog senuweeagtige gegiggel het opgeklink toe die ligte uiteindelik afgeskakel is.
Gasvrou Erika het dit gewis nie maklik vir haar gaste gemaak nie - die roosmaryn wat vir versiering op die borde gesit is, het in vele kele gaan dwarssteek, terwyl die gaste eers voel-voel moes uitwerk hoe om die lamsvleis in filodeeg te benader sonder dat dit van die bord afgly.
Dit was elke keer 'n raaisel presies wát jy volgende op die vurk sou kry (as jy dit kon regkry!).
"Dit was nie maklike dinge om te eet nie, maar is presies die tipe situasie waarin blinde persone hulself bevind wanneer hulle genooi word na funksies soos hierdie en gekonfronteer word met eksotiese geregte," het dr Petrus Botes, skoolhoof van die Pionierskool, opgemerk.
Hy het die gemeenskap van Wellington bedank vir hul welwillendheid teenoor die skool.
Vir talle gaste was die donkerte net een te veel. Die skynsel van selfone wat skielik as flitse ingespan is, is hier en daar deur die saal gesien.
Ander weer het die sluier van donkerte goed gebruik om draak met hul tafelgenote te steek.
Een wynmaker het rose tussen sy gevulde hoenderborsie en pampoenkoekies ontdek, terwyl 'n ander onderwyseres se bord én wynglas voete gekry het.
Die verligting was behoorlik groot toe die ligte aangeskakel is na afloop van die ete.
Talle dasse en tafeldoeke het egter sleg tweede gekom, met kolle en vlekke wat gewys het wie nie eintlik die donkerte kon baasraak nie.
Talle skietgebedjies om dankie te sê vir hul sig, is gewis opgestuur.
Soos wat daar tereg op die program deur 'n onbekende skrywer neergepen is: "And yet, there is only one great thing; to live to see the great day that dawns, and the light that fills the world." |