|
HOFORDONNANSE in die Paarl lewe in vrees vir hul lewe.
Verlede week is 'n ordonnans in die Paarlse jeughof aangeval, gewurg en geskop.
Die hof is die volgende dag lam gelê toe ordonnanse verseg het om in die onveilige toestande te werk.
Ná 'n vorige aanval in die Paarl landdroshof is ordonnans insp John Massen medies ongeskik verklaar.
Insp John Coetzee werk steeds as hofordonnans, al is daar gepoog om sy keel met 'n skerpgemaakte tandeborsel af te sny.
Landdros Robert Lewis het waarskynlik Coetzee se lewe gered toe hy oor die hofbank gespring en die aanvaller vasgegryp het.
Insp Anthony Gouws is verplaas nadat sy duimsening in 'n aanval in die jeughof afgesny is.
In 'n ander voorval in die hof is 'n polisiebeampte se vuurwapen van hom afgeworstel.
Verlede Woensdag is insp John Wagner voor die beskuldigdebank teen die vloer geslaan, gewurg en in die gesig geskop.
Die aanval was vermoedelik 'n ontsnappingspoging. Jeugdiges het uit die gehoor gespring en ook die ordonnans getakel.
Die aanklaer en 'n prokureur het uitgestorm om hulp te ontbied, waarna insp Wagner se kollegas die aanvallers oorrompel het.
"Ek het skoon die bewerasie gehad. Dit is net genade dat ek nie 'n oog verloor het nie," het insp Wagner (58) gesê ná mediese behandeling. Hy kry nou ook sielkundige berading.
Insp Wagner sal hierdie jaar met 30 jaar diens aftree.
"In die ou tyd het die skollies respek gehad, maar nie vandag nie," sê hy.
Volgens die pligstaat van ordonnanse moet hulle die gevangenes uit die selle na die hof begelei met 'n duikweg.
Hulle moet die hof beveilig en die landdros, aanklaer en die getuies beskerm.
Hulle moet die hof behulpsaam wees met die aangee van bewysstukke en die hof tot sitting roep.
Weens 'n mannekragtekort maak die departement Justisie nie voorsiening vir klerke in die hof nie en verrig ordonnanse ook administratiewe dienste.
Hulle skryf lasbriewe uit, roep getuies en beskuldigdes uit die hofgange, skryf skulderkenningsboetes uit en verlaat die hof om per telefoon getuies te kontak en reëlings vir borg te tref.
Wanneer hulle die hof verlaat om klerklike dienste te verrig, is die hofsaal sonder hul beskerming.
Ná die aanval verlede week het die ordonnanse besluit: "So kan dit nie langer aangaan nie."
Hulle het Donderdag verseg om te werk en het direkteur Deon Hagen van die Boland areakantoor gaan spreek.
Dir Hagen het twee lede van die Paarlse Misdaadvoorkomingsdiens na die hof afgevaardig om dié dag uit te help.
Elf ordonnanse werk by die streekhof in Hoofstraat en die landdroshof in die Bergrivier Boulevard, met nege hofsale en aanhoudingselle by elke hofgebou.
Daar word byna daagliks 'n saaglem, skerpgemaakte eetgerei of messe afgeneem wat prisoniers insmokkel. Verlede maand het meer as 1000 gevangenes deur die Paarl landdroshofselle gegaan.
Insp Andy Solomons is die enigste polisiebeampte aan diens by dié selle.
Ordonannse en aanklaers is dit eens, die gevaarlikste deel van die polisiebeamptes se werk by die hof is om alleen met beskuldigdes te wees.
Dit is veral die gang en trappe uit die landdroshofselle, waarlangs die ordonnans alleen saam met die beskuldigdes na die hofsale moet stap, wat hare laat rys.
Die gang is lank en donker. Gevangenes skakel gereeld die ligte af.
"Ons weet elke keer as ons die gang afloop dat ons oorval kan word," het ordonnanse erken.
Hulle het vanjaar aangetree met die belofte van twaalf addisionele polisiebeamptes vir die hof.
Dié lede is nog nie by die landdroshof nie.
Volgens dir Moses Mamela van die Paarl polisie is 18 polisielede op 'n vier-maande kursus waar hofprosedure behandel word.
"Die hof is vir ons 'n prioriteit," het dir Mamela Dinsdag gesê.
"Teen die einde van Oktober kan verligting vir die hofordonnanse verwag word."
Samesprekings word intussen gereël met verteenwoordigers van Justisie oor die kwessie van die klerklike dienste wat polisie-ordonnanse nou verrig.
* Court orderlies in Paarl fear for their lives following attacks by prisoners. |