|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
LUISTER: hierdie ou aarde ritsel onder ons voete - asof iemand deur 'n ou boek blaai die eeue omblaai, jare, seisoene: vergeelde blaaie soos herfsblare... Dit word tyd dat ons vertrek! Ou bome is skelette: vingers weerloos in die greep van die koue aarde wat sy rug vir die son gedraai het; kyk, selfs die maan dobber soos 'n stukkie ys... Dit word tyd dat ons vertrek! Laat ons opvlieg voor die môre, soos trekvoëls opvlieg na 'n sonland, weg van hierdie kreupel hout en wildernis waar ons woorde bros en weerloos is.
Dié gedig kom uit George Weideman se bundel, "Klein manifes van 'n reisiger". Ken jy 'n gedig oor somer, of wil jy graag na gedigte daaroor luister? Dan is hierdie net die geleentheid vir jou: Saterdag om 18:00 gaan al wat gedigte-vraat in die Vallei is by Squirrels in Hoofstraat, Paarl, saamtrek om te kuier rondom gedigte met die tema somer. Daar gaan buite onder die bome gekuier word en daar is wyn, sap en quiche op die spyskaart. Die gedagte is dat elkeen wat wil, gewapen kom met 'n gedig, of selfs liedjie, oor 'n spesifieke tema en dit voorlees of speel. Dit kan in enige taal wees. Belangstellendes moet bespreek by 872-2781. |
|
|
|
|
DIE FAK beskik oor enkele musiekbeurse wat jaarliks aan belowende leerders en studente toegeken word en dit is nou weer tyd om aansoek te doen vir hierdie onderskeie beurse. Daar is twee beurse van R4000 en twee van R2000 by die Universiteit van Stellenbosch en vier beurse van R6000 by die PU vir CHO. Dan is daar nog die FAK/Gawie Cillié Junior Musiekbeurs van R500, die FAK/Gawie Cillié Hoërskoolbeurs van R1000 en die Bill Venter/FAK Musiekbeurs vir verdere oorsese studie van R20 000. Die sluitingsdatums vir die onderskeie beursaansoeke is 31 Oktober, maar grasie sal gegee word tot 15 November. Die sluitingsdatum vir die PU vir CHO Musiekbeurse is 30 April 2003. Volledige inligting en aansoekvorms is op die FAK-webwerf www.fak.org.za beskikbaar, of andersins van die FAK-kantoor (Bets Koen, Musiekbeursaansoeke, tel 012-326-8646, faks 012-326-9171, e-pos: fak@mweb.co.za). |
|
|
|
|
'n TONEELSTUK, "Anderkant die Yard", word vanaf 21 tot 24 Oktober deur Hoër Jongenskool Paarl se toneelgroep in die Ou Meulteater op die planke gebring. Dié aktuele jeugdrama is geskryf en geregisseer deur André Bester, 'n onderwyser aan Boishaai. "Anderkant die Yard" is gebaseer op die vreugdes, groeipyne en krisisse van leerders wat Bester deur die jare onderrig het. Dit weerspieël 'n werklikheid wat nie misgeloop moet word nie. Die drie Blomerus-broers is talentvolle manne Daantjie (16), die jong bokser en aspirant Idol-ster, Nick (18), rugbykaptein wat sukkel om sy ongemotiveerde spanmaats te inspireer en Ouboeta (19) wat glo sy King Ghekko-strokieskarakter gaan Hollywood oorweldig en sodoende 'n einde maak aan al die booswigte wat van die aarde so 'n siek plek maak. Dit bied 'n deernisvolle blik op die proses van manword. Terselfdertyd is dit die aangrypende verhaal van verskeurde gesinsverhoudinge en drie seuns se hunkering na liefde, begrip en die opeis van hul plekkie in die son. Kaartjies is teen R30 (leerlinge R20) beskikbaar by die skool by 872-2875. |
|||
|
|||