|
DIE eerste skote in 'n ernstige geskil oor die voorgestelde herstrukturering van die KWV tussen die direksie en van sy aandeelhouers het verlede week geklap en gelei tot die uitstel van die jaarvergadering tot einde November.
Die betrokke aandeelhouers voer aan dat die voorstelle van die direksie van die KWV, wat vir alle praktiese doeleindes ook die direksie van die KWV Koöperasie is, aandeelhouers benadeel, terwyl dit die koöperasie bevoordeel.
Na mislukte pogings om deur onderhandelinge tot 'n vergelyk te kom, het die aandeelhouers vir die eerste keer in die 84-jarige bestaan van die KWV 'n alternatiewe voorstel vir die geskeduleerde jaarvergadering einde vandeesmaand ter tafel gelê, sodat aandeelhouers 'n keuse sou hê of hulle die direksie of die aandeelhouers se voorstel tot herstrukturering steun.
Die direksie se reaksie hierop was om die jaarvergadering met 'n maand uit te stel en alle dokumentasie wat toe reeds aan aandeelhouers uitgestuur is, insluitende die aandeelhouers se voorstel, eensydig terug te trek en streekvergaderings te begin hou.
Die aandeelhouers se aanval op die direksie se voorstelle is gelei deur 'n groep sterk aandeelhouers, insluitende GT Ferreira (voorsitter van die FirstRand Groep en eienaar van Tokara Wynlandgoed, Stellenbosch), Thys du Toit (besturende direkteur van Coronation Batebestuur met ander wynbelange), Paul Meaker (vennoot van Cluver Markotter en eienaar van Kleinfontein Landgoed, Klaasvogds), Pug Roux (besturende direkteur van Brandknew en eienaar van Groenhoek plase, Vredendal) en Hannes van Niekerk (eienaar van Knorhoek Landgoed, Stellenbosch.
Die groep het gesamentlik uitgebreide belange in druiweboerdery en die wynbedryf.
"Die direksie dra hier die hoed van die koöperasie, terwyl die belange van die eienaars van die KWV Groep, die A-aandeelhouers, geïgnoreer word," het Van Niekerk gesê.
"In kort beteken die direksie se voorstel dat elke KWV aandeelhouer 15% van sy aandele of gesamentlike R170 miljoen teen 'n realistiese netto tasbare waarde van R2,50 per aandeel, aan die koöperasie sal moet weggee.
"Met ons voorstel sal die befondsing van dienste aan wyn- en druiweboere op 'n baie meer gesonde grondslag geplaas word, terwyl dit ook daartoe sal bydra dat die KWV sy volle potensiaal bereik." |