|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
Van die dertien DA-lede wat nog die vlag hoog hou, is drie van die oorspronklike DP, terwyl die res almal voormalige NNP-lede is. Die AFC (Alliance for the Community) het sy deure in die Drakenstein gesluit, nadat die enigste oorblywende raadslid, Vincent Naidoo, ook van-deesweek oorgeloop het. Sy mede-partygenoot, Herman Bailey, het reeds verlede week by die NNP aangesluit. "Ná die oorlopery is die DA van Drakenstein gesuiwer van dwarstrekkers, oneffektiewe elemente en swak leierskap," sê Koos Louw, waarnemende voorsitter van die DA koukus. "Op enkele uitsonderings na, is die DA baie bly om van hierdie elemente ontslae te wees, en daar kan nou doelgerig voortgebou word om die gemeenskap in alle aspekte te dien," het hy gesê. Heelwat gerugte van tjekboek- en sitplek-politiek doen vandeesweek die rondte. Só is een DA-raadslid blykbaar R18 000 aangebied om oor te loop, nog een se persoonlike skuld is betaal en die res staan tou vir posisies. Met die vooruitsig van voltydse poste vir tien uitvoerende raadslede kan dit vir die oorlopers tot groot finansiële voordeel strek. Verskeie DA-raadslede kla dat hulle geteister word met telefoonoproepe en ontydige besoeke van oorlopers wat hulle wil saamneem. Deetlefs du Toit (DA) het dié optrede as immoreel en ondemokraties beskryf: "Dit is skokkend, dit is die laagste politiek wat ek myself kan voorstel." Intussen het die NNP-oorlopers laer getrek en LP Johnny Schippers as hulle amptelike woordvoerder aangestel. Tot dusver het hy nog geen verklaring aan die pers gemaak nie. André de Villiers het sy oorlopery na die ACDP beskryf as "weens geloofsoortuiging." "Ek het met van my kiesers gepraat en verduidelik dat ek as Christen nie 'n ander keuse het nie." Herman Bailey sê hy het die AFC verlaat omdat hy graag wil deel wees van besluite wat tot ontwikkelingsgeleenthede kan lei. "As ek gebly het, sou ek myself doodgewoon in 'n hoekie toegeverf het, en dit net oor posisie." Die AFC het nou net een lid oor, dr Norman Kahlberg, wat op die Boland Distriksmunisipaliteit sit namens Stellenbosch (sien ook bl 3). * The DA has lost two more town councillors, while the AFC has closed its doors in Drakenstein. The ANC/NNP has 40 of the 58 seats. |
|
|
|||||||||||||
|
MOTORISTE hoef nie te vrees dat hulle deur uitlaatgasse oorval sal word in geval van 'n verkeersopeenhoping in die Hugenote Tonnel nie. 'n Swaar vragmotor het verlede Woensdagmiddag onklaar geraak in die tonnel, maar tonnelbeamptes was binne 'n paar minute op die toneel, asook provinsiale verkeersbeamptes en voertuie kon binne dertig minute weer hul normale gang kon gaan. Volgens Andries Mars, algemene bestuurder van Tuncor, is daar 'n noodprogram van internasionale standaard in plek vir wanneer daar byvoorbeeld 'n ongeluk in die tonnel gebeur of 'n brand uitbreek. "Verkeer sal slegs opgehoop word, wanneer daar iets regtig ernstig gebeur het. Wanneer 'n vragmotor byvoorbeeld probleme gee in die tonnel, sal ons tonnelbeamptes so gou as moontlik na die toneel haas, om verkeer te reguleer. "As die drywer nie self die probleem kan herstel nie, sal ons sy tegnici laat inroep. So nie, sal insleepdienste deur Tuncor self aangevra en die voertuig uit die tonnel verwyder word," het hy gesê. Hy het ook gesê dat ventilasie in die tonnel op 'n hoë standaard is. Varslugwaaiers word geaktiveer wanneer die koolstofdioksied 'n sekere vlak bereik en daar is ook luidsprekers in die tonnel wat motoriste inlig oor die situasie. In sekere situasies sal motoriste aangeraai word om liewer hul enjins af te skakel. "Daar is ook nege voetgangeruitgange en drie voertuiguitgange, wat na die ongebruikte Noord-Tonnel lei. SOS-hokkies met telefone en brandblussers is ook aangebring om motoriste by te staan." * Emergency services acted swiftly when a truck broke down in the Huguenot Tunnel on Wednesday last week blocking traffic. |
|
|
||||||||||
|
CHICAGO se dae as bendehoofkwartier van die Paarl is getel. Daarvoor sal polisiehoof Ganief Daniels sorg "Genoeg is genoeg. Die bendes en die smokkelhuise sal nou vasgevat word," het kommissaris Daniels die boodskap duidelik gemaak. 'n Uitgesoekte taakspan is aangestel en optredes sal sewe dae van die week gehou word. Ook lugondersteuning sal aangewend word. "Hoe kan 'n mens dit verduur wanneer bendes oor en weer skiet, mekaar aanval en met dwelms handel dryf? "Hoe kan 'n mens dit uithou met die smokkelhuise, die moorde, rooftogte en verkragtings?" het Daniëls gevra. Ook die gemeenskap word voor stok gekry. "Wanneer polisiebeamptes in Chicago optree, moet dubbeld soveel personeel ontplooi word, sodat die een groep die gemeenskap kan beheer terwyl die ander die misdaadoptrede loods. "Ons sal ongenaakbaar optree teen lede van die publiek wat ons in die optredes hinder of the polisie aanval. Dis soveel makliker as ons nie met die publiek ook hoef te baklei nie." Strate in en om Chicago gaan blokkeer word en voetgangers sal gestop en deursoek word - met verdagtes, onwettige vuurwapens en dwelms die teiken. "Dit sal beslis ongerieflik wees vir die publiek, maar ek vra dat hulle ons help en nie hinder nie. Dit is 'n stap na die normalisering van Chicago," sê Daniels. "Ek het nou Chicago persoonlik aangeneem." * Police are to clean up the crime-ridden Chicago neighbourhood of Paarl. |
|
|
||||||||||
|
Koos Louw, waarnemende koukusvoorsitter, sê die DA van Drakenstein bly by die verkiesingsmanifes en beleidsverklarings soos wat in Desember 2000 deur alle lede van die DA (ook die huidige oorlopers), onderskryf is. "Die DA glo onwrikbaar in die |
|
|
|
'n sterk opposisie in die demokratiese proses, sodat die kiesers teen die vergrype en magshebsug van beginsellose en gewetenlose politici beskerm kan word. "Derhalwe nooi die DA die gemeenskap om die DA te ondersteun en om met ons in verbintenis te tree indien hulle enige bystand en ondersteuning nodig het in enige munisipale aangeleentheid. "Die publiek is welkom om, soos in die verlede, enige ongerymdhede wat plaasvind of plaasgevind het, onder die aandag van die DA te bring. Die DA sal voortgaan om enige wanaanwending van openbare fondse en bates met alle mag te bestry." Die DA hou vanaand om 19:00 'n inligtingsvergadering in die Huguenot gemeenskapsaal, waar dr Kraai van Niekerk (LP) teenwoordig sal wees. Inligting oor inligtingsvergaderings in die verskillende wyke sal ook gegee word. "Met die oog op die volgende nasionale en munisipale verkiesings rig die DA 'n uitnodiging aan alle mense wat by die DA wil aansluit om met ons in verbinding te tree. "Dit is vir die DA belangrik om goeie kwaliteit mense met integriteit, eerlikheid en eerbaarheid as lede in te skryf uit welke geledere toekomstige kandidate aangewys moet word." Die DA-kantoor te Hoofstraat 299 (Dwars-in-weg), Paarl kan gekontak word by tel/faks 872-3743. * The DA is not going to lie down after losing half its Drakenstein municipal councillors, says acting caucus chairman Koos Louw. |
|
|
|
|
AGT aanvallers het 'n taxi-eienaar met byle aangerand en sy vriendin verkrag nadat die voertuig Vrydagnag in Klein Drakenstein onklaar geraak het. Die vrou het Saterdagoggend om 05:00 'n boer aan die Stokkiesdraaipad opgeklop en hulp is ontbied. Sy het aan die polisie vertel hoe die wit Nissan minibus om 03:00 gaan staan het. Nadat twee jeugdiges aangebied het om die voertuig te stoot, het 'n bende mans skielik die minibus omsingel en die ruite met byle uitgekap. Die man is op die teerpad uit sy skoene en valstande getrap, geskop en met byle aangerand. Toe die aanvallers ligte van 'n aankomende voertuig opmerk, is die vrou oor 'n heiningdraad gegooi. Vier van die mans het haar verkrag voordat hulle in die rigting van die nuwe woonbuurt, Spooky Town, ver-dwyn het. * Eight men attacked a couple when their vehicle broke down on Friday night. |
|
|
|
|
WASGOED wat deur haweloses op die oewer van die Bergrivier en tot aan heinings om begraafplase aan die Bergrivier Boulevard gehang word, het al 'n alledaagse verskynsel geword. Maar dat opgevoede kursusgangers van die Paarl polisiekollege ook hul wasgoed aan die heiningdraad teen Sanddriftstraat hang, laat verbygangers na hul asem snak. "Het die mense dan geen skaamte nie?," wil 'n motoris weet. "Die drade hang vol hemde en broeke en dinge, en uit byna elke venster van die koshuis hang daar onderklere. "En hulle het wasgoedpennetjies. Ek het gesien hoe 'n kaptein met drie sterre op sy skouers klere aan die draad vaspen," sê 'n geskokte vrou. "Watter indruk maak dit op verbygangers? Dis nou die mense na wie ons moet opkyk as wetstoepassers, wat so onbeskaafd optree." Snr/supt Johan Miller, hoof van die polisiekollege, sê die kwessie word onder die aandag gebring van kursusgangers wat in die Paarlberg koshuis tuisgaan. "Daar is reeds addisionele wasgoedlyne in die son aangebring. Ons probeer mense oorreed om dit te gebruik, maar dit lyk asof sommige kursusgangers nie gehoor gee nie. "Ek neem aan dat die wasgoed vir sommige inwoners onooglik is, en vir ander weer nie. Dit hang af van hoe jy dinge sien." * Neighbours have not taken kindly to the fence of the police college being used as a washing line. |
|
|
|
|
PRAGTIGE volkleur-boeke is beskikbaar in die Paarl se Meulstraat-biblioteek, maar as jy dit oopmaak, is blaaie uitgeskeur en prente uitgeknip of versnipper. Die biblioteek het dié skok-ontdekking onlangs gemaak. Op die toonbank lê ses boeke wat onherstelbaar beskadig is. "Dit is maar dié waarvan ons weet - 'n mens weet nie wat nog in die rakke wag nie," sê 'n ontstelde Amaré du Toit. Die beskadigde boeke wissel van duur kunsboeke tot kinderboeke en slapband-liefdesverhale. Veral die kunsboeke het duidelik onder lemmetjies deurgeloop - skêre word lankal nie meer in die biblioteek toegelaat nie, juis as gevolg van vandalisme. Van die kinderboeke lyk of kleuters dit bloot gesit en skeur het en dit toe in die rak terug gesit het. 'n Boek oor Jennifer Lopez het nog net die eerste agt bladsye oor. Die boeke is alles die eiendom van die Provinsiale Biblioteekdiens en dit beteken dat die Munisipaliteit die skade sal moet betaal. "Die boeke is almal onherstelbaar beskadig en die aankoopprys sal nou van ons verhaal word," verduidelik Du Toit. Sommige van die boeke is reeds 'n paar jaar in die stelsel en sal waarskynlik nie meer teen die oorspronklike aankoopprys beskikbaar wees nie. As die skuldiges betrap word, sal daar streng opgetree word teen hulle. "Hulle sal beslis nooit weer in Drakenstein mag boeke uitneem nie en sal waarskynlik in die hele provinsie verbied word." * Library books in Paarl are being targeted by vandals. |
|
|||||