|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
DIE SA baanfiets-rekordhouers, Stephan Herholdt en Marius Louw, is twee van die groot name wat Saterdagoggend op die Faurestraat stadion tydens die Boland Fietsrykampioenskappe vir Gestremdes in aksie sal wees. Herholdt en Louw was albei deel van die SA Fietsryspan wat in Augustus tydens die Wêreldfietsrykampioenskappe in Duitsland presteer het. Eersgenoemde het hier die rekord in die 3000m agtereenvolging na 4:02 verbeter. Hy hou ook die SA-rekord in die 1000m tydtoets van 1:17,26. Louw, die Paralimpiese bronsmedaljewenner in die 5,4km tydtoets in Sydney 2000, is ook die SA rekordhouer in die 3000m met 4:20,65. Hy het vanjaar in die 3000m agtereenvolging 'n vierde plek behaal met 'n tyd van 4:22,64. Die Yorkshire Fietsryklub sal Saterdag vanaf 14:00 'n baanbyeenkoms by die Faurestraatbaan aanbied. Alle wedrenne vir alle ouder-domsgroepe sal gehou word en deelnemers kan vanaf 13:00 inskryf. * Ricardo Heneke van Yorkshire is gekies om saam met 'n Matie-fietsryspan, van 24 tot 28 Oktober aan die Tour de Windhoek, 'n vyfdaagse padwedren, in Namibië deel te neem. Heneke benodig R1600 vir die toer. Borge kan Howard, skakel by 072-136-0881. |
|
|
|
|
IN 'n spannende en klipharde wedstryd, het Young Peoples Vrydagaand op Daljosafat nouliks daarin geslaag om 'n heldhaftige poging van Paarl Rangers af te weer, om só die Super 4-titel sy eie te maak. Dit was veral 'n soete oorwinning vir Peoples se kaptein, Attie Pietersen. Dié groot flank het besluit om sy rugbystewels op te hang en het Vrydagaand die laaste keer vir die Tiere uitgedraf. Die twee spanne het mekaar van die staanspoor af aangevat, maar van die begin af was dit duidelik dat Rangers se pak nie op hul gemak was nie. Die Groentruie het nietemin redelik besit gekry, maar 'n gebrek aan vloeiende agterlynbewegings het die Tiere se verdediging genoeg kans gegee om die spel te smoor. Sowat 15 minute in die wedstryd in, kry Peoples se Andrew Victor (2) kans om na die pale te mik, ná 'n Rangers-hoogvat op Sammy Titus (15). Die skop is in die kol. Vyf minute later, is dit weer Peoples wat vir 'n gevaarlike duikslag gestraf word, en Rangers se Mark Adams (9) maak sake gelyk. Kort daarna kry Peoples weer hul neuse voor toe Victor met 'n strafskop slaag. Kort voor rustyd word beide die heelagters en Peoples se Davids afgestuur. Rangers moes hier die verswakte Peoples agterlyn uitgebuit het, maar pleks daarvan is dit Victor wat met sy skopskoen weer drie punte byvoeg om die rustydtelling 9-3 te maak. Die eerste punte in die tweede helfte word deur Rangers se Claude Swartz (12) aangeteken nadat hy met 'n strafskop slaag. Peoples se stut, Irvin Williams, word met 'n rooikaart beboet vir trap in die skrum, en Swartz maak dinge gelyk met die strafskop. Rangers se swak hantering het hulle egter duur te staan gekom toe Adams die uitgee na sy losskakel verbrou en die bal op die grond val. Die skop wat inderhaas geneem word, word deur Titus afgestorm en Giezler Sitzer, Peoples se plaasvervanger-senter, val op die bal vir die drie. Victor doen die nodige en Peoples neem die voortou 16-9. Rangers val verbete aan en slaag om oor die doellyn te val, maar die Peoples-slot, Anvil Fredericks, hou die bal in die lug en verseker die skrum. Rangers behou egter die voordeel, en Mark Adams druk. Swartz se skop is mis en Peoples wen 16-14. Young Gardens het Albions in die plaatfinaal met 19-10 geklop. |
|
|
|
|
DIE eerste krieketspan van Young Peoples het Saterdag Coronations op Pniel oortuigend geklop. Peoples se goeie gedissiplineerde boulwerk het die tuisspan tot 157 beperk. J November (45) het die meeste lopies vir Pniel geslaan. Die besoekers se boulaanval is gelei deur Mark Borchards (4/45) en Edwin Jacobs (4/38). Die Paarliete moker die wenlopies in die 42ste beurt met nog drie paaltjies staande. Elrich Jansen (49) en Mark Borchards (47) het met goeie beurte gespog. Peoples se tweede span het op Stellenbosch ook 'n goeie oorwinning oor Van der Stel II gehad. Die tuisspan teken 262 aan in hul 60 boulbeurte, met David Gabriels (2/60) wat die beste met die bal vaar. Peoples se Leonard Paulsen (133) het skitterend met die kolf ingeklim, met Alec Dyssel (34) en Wade Anderson (33) wat ook goed voor die penne gevaar het vir 'n ses paaltjie oorwinning. Peoples II het hul goeie vorm voortgesit en Van der Stel III met 127 lopies geklop. Die Paarliete kolf eerste en teken 298/6 aan, met Danton Darries (75nun), Mark Moses (53), Ryan Carolissen (47) en Marlin Carolissen (37) wat die lopies ingeryg het. Peoples volg dit op met 'n ewe goeie boulvertoning en haal die tuisspan uit vir slegs 171. Werner Cupido (3/12) en Carolissen (3/31) het die paaltjies laat kantel. * Die eerste span van Wellington het die naweek nie teen Victoriane gespeel nie weens 'n nat kolfblad. Wellington II het Saterdag teen Maties III gespeel. Wellington kolf eerste en sukkel aanvanklik maar teken tog 236/10 aan danksy Warren Groeneveld (98 nun) en Derick Bollman (51). Maties III steier op 96/7, maar herstel goed en slaan die wenlopies sonder die verlies van nog 'n paaltjie. Die Wellingtonse bouler, Jaco Conradie, het die beste met die bal gevaar (6/61 in 16 bb). |
|
|
|
|
'n GROEP van 20 junior ryers wat onlangs 'n weeklange ontwikkelingskamp van die Boland Fietsry Unie in die Paarl bygewoon het, het weer bewys hoeveel talent daar in dié provinsie is. Ryers tussen die ouderdomme van 14 en 19 afkomstig van die WP, Griekwaland-Wes en Boland het afrigting ontvang in die basiese voorbereiding van baanfietsryery. Aan die meer ervare ryers is ook wenke gegee oor hoe om die beste na vore te bring in Madison-wedrenne. "Hoewel die reën by tye die afrigtingsessie gekortwiek het, was die kamp 'n groot sukses. Dit is egter belangrik dat 'n opvolg-kamp gehou word om te sien of die ryers die oefenprogramme gevolg het en hul fietsry verbeter het," het Elrick Kulsen, voorsitter van die Boland Fietsry en aanbieder van die kamp, gesê. 'n Groep van 11 talentvolle ryers is geïdentifiseer wat beslis die opvolgkamp in Januarie volgende jaar moet bywoon. Die Bolanders wat uitgewys is, is Anton Wynand, Nolan Hoffman, Lucien Adonis, Webster Jacobs, Reginald Benjamin en Arthur Benjamin. |
|
||||