|
DIE tweejaarlikse Onnerikoppi rock band festival word Woensdag op die skoolterrein van die Hoër Jongenskool Paarl in Auretstraat aangebied van 16:00 tot 22:30.
Hierdie sal die derde fees wees en trek belangstellendes van die noordelike voorstede en Stellenbosch.
Die gaskunstenaars vanjaar is Akkedis, Zinkplaat en Antipathy. Die bekende Empire Down wat verlede jaar 'n finalis in die Jong Burger-kompetisie was, tree ook op.
Die voorprogram word behartig deur belowende skoolbands van DF Malan (Trompie is dood), Hugenote (Five minutes famous), Paul Roos (Something for nothing) en twee Boishaai-bands, No Go-Go en Buitestaander.
Daar sal heelwat te ete aangebied word by die veldkombuis. Toegang is R20 (R30 vir volwassenes en studente) van 15:30 by die hekke. |