|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
DIE groep 'Angels' tree môre en Saterdag om 19:30 in die Ou Meulteater, Paarl op met hul nuwe program, 'Music of the Night'. Dié program bied iets vir almal - ou musiek, nuwe musiek, humor en liefde. Die 'Angels' is einde 2000 deur Vianca Adams gestig, as deel van 'n fondsinsameling vir die Wêreld Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste. Die groep het aanvanklik bestaan uit haarself, haar broer Starlon, suster Collette en vriende Sidwell Biziek en Desmé Pietersen. Desmé het intussen 'n kontrak in Dubai losgeslaan en is deur Bianca Daniels vervang. Margaret van Rooyen het haar ook voltyds by die groep aangesluit. Die uniekheid van die 'Angels' lê daarin dat verskeie fasette van die uitvoerende kunste gekombineer word - dans, drama en sang. Hulle hoofdoel is om plaaslike talent te ontwikkel en bekend te stel. Die gaskunstenaar die naweek is Donovan 'Sober' Solomons. Môreaand se kaartjies is R35 (kaas en wyn vooraf) en Saterdag R15. Bespreek by Starlon (083-2333-168) of Vianca (083-277-1040). |
|
|
|
|
EK is baie tevrede. Ons wou 'n platform skep waar kunstenaars hulle kuns kan uitleef en dit geniet - miskien ook 'n prys wen. En dit het ons honderd persent reggekry. Só sê Andrew Strauss, direkteur van die Global Spotlight-kompetisie en ook die La Musique Skool vir Uitvoerende Kunste, van die eerste kompetisie wat die naweek in die Paarl ten einde geloop het. "Die standaard was baie hoër as wat ek ooit gedroom het," beskryf hy die kunstenaars wat uit die hele Wes-Kaap ingeskryf het. Die kompetisie het afdelings vir sang, drama, dans, instrumente en modelwerk gehad. Kontantpryse van R20 000 en vyf demo CD's was op die spel. 'n Totaal van 29 goue (plus R100 kontant), 28 silwer en 29 bronsmedaljes is toegeken. Alle deelnemers het ook 'n sertifikaat ontvang. Die eerste prys van R5000 het aan Madeleine Abrahams van Gordonsbaai gegaan. Sy het poprock gesing. Tweede was die dansgroep 'Little Flames' van die Paarl, met mede-Paarliet Sidwill Beziek in die derde plek met 'n gospel-nommer. Nog 'n dansgroep van Paarl, 'Exclusives', het die vierde plek geneem. Werner de Wit, wat ingeskryf het vir die vrystyl dans, was vyfde. Sesde was 'n sangeres van Worcester, Nelmaré Reyneke, met 'n gospel-liedjie. Sewende was nog 'n Paarliet, Christelene Dampies, wat in die afdeling R&B meegeding het. Die kompetisie gaan 'n jaarlikse instelling word en met die voorsmakie wat ons reeds gehad het , kan 'n mens 'n rooskleurige toekoms voorspel. |
|
|
|
|
DIE Paarl Moslem Jamaa en Stem van die Kaap radiostasie se jaarlikse Boland Fees vind vanjaar van 26 tot 28 April op die Dalstadion plaas. Almal is welkom by die fees wat die Vrydag om 16:30 begin en duur tot Sondag laat. Daar sal soos gewoonlik lewendige vermaak wees, vuurwerkvertonings, radio-uitsendings en 'n honderd kos- en ander stalletjies om van te kies. Vir die jongspan is daar springkastele en ook 'n spesiale tent waar karaoke en ander pret aangebied sal word. Die Saterdag is daar 'n talentkompetisie en kunstenaars kan 862-4885 skakel om in te skryf. Vir die sportgeesdriftiges is daar atletiek en rugby Saterdag en krieket Saterdag en Sondag. Sondag sal daar talle busse beskikbaar wees vir die Kaapse besoekers. Toegang tot die fees is R5 (kinders R3). |
|
|
|
|
OOR die hele wêreld heen word George Zukerman "die Pablo Casals van die fagot" genoem. Hy word daarvoor geroem dat hy man-alleen die fagot vanaf die orkes se agterbanke verhef het tot 'n solo-instrument. Op Saterdag 27 April om 19:00 tree hierdie buitengewone musikus op in die ou wynkelder op La Motte Wynlandgoed in Franschhoek. Hy word begelei deur die pianis Virginia Fortesque. Sy uitvoering op La Motte sluit verskeie transkripsies vir fagot en klavier in, sowel as oorspronklike werke vir hierdie kombinasie. Op die program is Portuguesa, 'n fantasie deur Henri Busser op Portugese melodieë, en die Sonate opus 168 deur Camille Saint-Saëns. Die uitvoering word gevolg deur 'n ligte aandete waar konsertgangers die kunstenaars kan ontmoet. Kaartjies beskikbaar by Angela, 876-3119. |
|||
|