|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
Die Paarliete het egter nie gaan lê nie. Namate die span besef het dat die Kwaggas nie 'n onoor-winlike krag is nie en die spelers mekaar begin vind het, het stukkies briljante spel die wedstryd gekenmerk. Die Paarlse pak het wel hul bes gedoen in die skrums, maar het eenvoudig nie oor die nodige krag beskik om ten volle met hul Kwagga-eweknieë mee te ding nie. Die tuisspan het egter die beste van 'n ongemaklike situasie gemaak. Hulle kon wel besit behou in die meeste van hulle skrums en die skrumskakel het goed gedoen om onder terugtrappende hakskene die bal na die agterlyn te versprei. En dit is hier waar die speelveld tussen die twee spanne op sy gelykste was. Die Paarlse span wat net twee oefensessies gehad het om hulself vir die wedstryd voor te berei, het puik hardlooprugby opgedis. Ondanks die nadele van 'n onervare span wat mekaar nie ken nie, is dit juis dié faktor wat die spelers genoodsaak het om met inisiatief, talent en aanvoeling vir die spel te laat speel. Vinnige skêraangeë en skielike rigtingverandering in die agterlyn, tikskoppies en al wat truuk is, is uitgehaal om die Kwaggas te flous, met heelwat sukses. Alles het egter nie voor die wind verloop nie, en daar was hanteerfoute en lakse verdediging, maar toe die Kwaggas diep in die tweede helfte al meer strafskoppe begin afstaan en die spelers langer vat om op te staan, het hulle besef dat dié wedstryd nie net 'n Sondagmiddag-wandelinkie deur die wingerde van die Boland was nie. Volgens Gert Smal, afrigter van die Stormers en WP, wat ook op die pawiljoen die wedstryd aandagtig sit en kyk het, moet die Paarl werk daarvan maak op in 'n hoër liga mee te ding. "'n Mens kon sien dat die ouens nog nie baie goed saamspeel nie, maar dit was 'n baie goeie oefening gewees. 'n Paar van die spelers het ons al in die hoër WP-strukture gesien speel, maar die meeste nie. "Ek sal graag wil sien dat die Paarl miskien een span in 'n groter kompetisie inskryf. Dit sal goed wees vir die Paarl en WP Rugby," het Smal gesê. Die afrigter van die Kilotreads-span, Rudolf Paulse, is ook tevrede met sy span sy vertoning. "Ons het baie goed gespeel en as ons meer oefening gehad het, sou ons nog beter gespeel het. Maar dit is duidelik hoe baie talent daar in die Paarl is. "Sewentien van die spelers wat Woensdag in aksie was, het Maandagaand aan die WP Disa-proewe deelgeneem," het Paulse gesê. "Vat die losskakel, Ricardo Cornelissen: hy is een van die beste losskakels wat ek al gesien speel het. As hy die bal in die hand het, is hy bitter gevaarlik. Maar hy speel vir Windmeul United in die Premier C-liga waar niemand hom ooit sal sien nie. "Die ouens moet besef dat ons ons kragte moet saamspan en die spanne in die Kaap moet aanvat," sê Paulse. |
|
|
|
|
"JA, ons het baie houe gevat in die vriendskaplike wedstryde, maar eerder daar waar daar nie punte ter sprake was nie, as in die Curriebeker-wedstryde." So sê Jerome Paarwater, breier van die Boland Kavaliers, op die vooraand van sy span se eerste Curriebekerwedstryd. Die Kavaliers kom Saterdag op Wellington teen Griekwas te staan. Hoewel Boland sleg verloor het in sy oefenwedstryde teen die Arende en die OP Olifante, meen Paarwa-ter dat beserings 'n groot rol gespeel het. "Ons sukkel steeds met beserings, met Jan Acker-man, Hannes de Kock, Pieter O'Niel en Cassie Car-stens wat nie beskikbaar is nie. Lean van Dyk, Wayne Julies, Henley du Plessis, Dale Santon en Carel van der Merwe is egter reg," het Paarwater gesê. 'n Bolander wat geensins dié seisoen vir die Kavaliers beskikbaar sal wees nie, is die vleuel, Ashwin Willemse, wat tydens die o.21 Wêreld-beker rugbytoernooi die oog gevang het. Die 20-jarige Willemse het 'n liesbesering opgedoen in die wedstryd teen die OP op Saldanha en moes 'n operasie ondergaan om die breuk te herstel. Hy is vir drie maande buite aksie. Die ander o.21 Bokkie wat Saterdag vir Boland in sy eerste Curriebekerwed-stryd sal uitdraf, is Enrico January. Die 20-jarige boorling van Hopefield, het reeds in die Vodacombeker-reeks uitgeblink met sy ratse voetwerk en flink diens aan die agterlyn. "Ek sien baie uit na die wedstryd en is bly vir die kans om te wys waartoe ek in staat is," het January Woensdag gesê. Sy plan om die Griekwas uit te oorlê, sê January, is om "vinnig en aanhoudend te speel en om die gapings te vat wanneer hulle op-duik". Oor hul kanse om die Curriebeker-seisoen met 'n oorwinning af te skop, is Paarwater positief. "Ek glo die tuisveld-voordeel en nat weer tel in ons guns. Ons het die afgelope week in dié toestande geoefen en daar bo by hulle is dit nou redelik droog." Volgens die Kavaliers se prestasie in die vorige jare se Vodacom en Curriebeker kompetisies, moet hulle vanjaar in die vyfde plek eindig om vir volgende jaar se Top Ses kompetisie te kwalifiseer. Die wedstryd skop om 15:00 af op Boland Stadion en word op TV uitgesaai. |
|
|
|
|
'n GROEP van 31 Paarlse rugbyspelers is in die WP Disa-oefengroep opgeneem wat gekies is om Maandag in twee proefwedstryde te speel. Hoewel die wedstryd tussen die Premier A en B ligas op Kraaifontein plaasgevind het, is die tweede wedstryd tussen spelers van die Premier C en Soneligas uitgestel weens die slegte weersomstandighede. Volgens die Disa-keurder, Kattes Kruger, sal dié wedstryd asook die finaal Maandagaand gespeel word, waarna die finale Disa-groep van 25 spelers aangekondig sal word. Sestien Premier A- en B-liga rugbyspelers van die Paarl is reeds deur na die finale proewe. Volgens Kattes is L Benjamin van Riverstones in die Premier A oefenspan opgeneem om 'n gaping te vul. Hy is dan ook een van die spelers wat na die finaal deurgedring het. Die 16 spelers is Ju-Wayne Cyster, G Poggenpoel, Adam Moerat (almal Albions), Charles Booysen, Jacques Lategan, Giezler Sitzer (almal Young Peoples), Eugene Herklaas (Violets), G Lambert, C Carolissen (albei Paarl Rangers), Werner Visagie, John Claassen, Huntie Maass, Riaan Ehlers, Jacques Hendricks, Len Bester (almal Paarl), Lance Benjamin (Riverstones). |
|
|
|
|
DIE Boland netbalspan is vir die tweede agtereenvolgende jaar die SA netbalkampioen nadat hulle verlede week hul titel suksesvol verdedig het by die SA Kampioenskappe in Kemptonpark. Boland, wat die week onoorwonne afgesluit het, het Gauteng-Noord in die finaal 47-44 geklop. Boland het sedert Augustus 2000 nog geen wedstryd verloor nie en is sonder twyfel die top streekspan in die land. Die span het hulle soms onder onnodige druk geplaas om nie van die beginfluitjie beheer oor die wedstryd te neem nie, maar het puik karakter getoon en altyd in die laaste kwart van die wedstryd onbetwiste beheer geneem. Geen individuele speler kan in 'n spansport op sy eie sukses behaal nie, en die MTN Bolanders het die kuns vervolmaak om met gebalanseerde en gestruktureerde spel as span resultate te behaal. Die Paarliete in die span was weliswaar staatmakers. Rose Wolmarans het saam met Julene Meyer en Nicolene Wassenaar 'n gedugte verdedigingskombinasie gevorm terwyl Dianthea Thyssen en Sandra Conradie op die aanval hulle opponente aan die raai gehou het. Conradie het met konstante akkurate doelwerk die punte vir haar span opgestapel. Leana Lourens het as impakspeler telkens 'n groot verskil op die aanval gemaak. Dianthea Thyssen is uitgesonder en in die SA Oefengroep opgeneem saam met Julene Meyer, Nita van der Westhuizen en Nicolene Wassenaar. Die Proteaspan vir 2003 sal uit dié groep gekies word. Rose het 'n skitterende toernooi beleef en kan haarself ongelukkig ag om nie in die groep te wees nie. |
|
|
|
|
WEKELANGE depressie weens die een nederlaag na 'n ander, het Saterdag plek gemaak vir verligte vreugde toe Young Gardens in 'n spannende wedstryd met Young Peoples afgereken het. Gardens kon in sy afgelope tien wedstryde nie uit die wennersbeker drink nie. Dat dié span oorgehaal was om 'n punt te bewys teen Young Peoples, was van die opdraf al duidelik. Die groter spelers van Gardens het met been-kraak-stormlopies die People-verdedigers op die veld verwelkom en gewys dat hulle nie weer van plan is om met die kous oor die kop huis toe te gaan nie. Gardens sit dan ook die eerste punte op die bord, nadat Randall George met twee strafskoppe slaag. In die skrums het die Tiere swaar geleef met die swaarder Gardens-pak wat kwaai druk uitgeoefen het. Gevolglik het die aangeë tussen skrumskakel Barry Williams en Titus gereeld ten gronde gegaan en staan-staan aangeë het Gardens genoeg tyd gegee om die Peoples agterlyn te neutraliseer. Peoples het ook in die lynstane gesukkel om konsekwent balbesit te verseker, met die haker Franklin Mitchell wat gesukkel het om sy slotte te vind. Dinge het later in die tweede helfte verbeter toe daar agter in die lynstane ingegooi is, en Francois Manuel (slot) die bal goed raakgevat het. Albei spanne het gereeld bal op die voet gesit en met groot sukses die spel van die een kwartgebied na die ander verskuif. In die 20ste minuut open Sam Titus (10) Peoples se rekening met 'n skepskop. Minute later kry Gardens weer kans om na die pale te mik en George maak geen fout nie. Titus se skopskoen kon met drie verdere strafskoppogings nie die kol tref nie en rustyd breek aan met die telling steeds op 9-3. In die begin van die tweede helfte was dit duidelik dat daar hard gepraat is in die Peoples-kamp. Die Tiere het met meer beslistheid gespeel en Gardens moes dadelik hul doellyn met mening verdedig. 'n Strafskop deur Titus het Peoples 9-6 laat nader kruip. Peoples het vir die eerste keer die voortou geneem toe Charles Booysen (14) oorgaan vir 'n drie ná 'n mooi breekslag deur senter, Justin Fortuin. Die doelskop was mis. 'n Kwartier voor die einde is Peoples se ander senter, Giezler Sitzer, koelkas toe gestuur ná 'n vuishou op Gardens se stut, Jeremy September. 'n Onkantbeslissing in die doodsnikke van die wedstryd in Peoples se kwartgebied het George geleentheid gegee om Gardens se neuse weer voor te kry. 'n Sierlike inkrulskop het die wedstryd 12-11 vir die Rose beklink en die eindfluitjie is met toejuiging deur die Gardens-ondersteuners begroet. |
|
|
|
|
HEELWAT talentvolle o.18 rugbyspelers het tydens die onlangse Cravenweek op Pietermaritzburg gewys waartoe hulle in staat is en wat daar oor 'n paar jaar op die rugbyveld te wagte kan wees. Die WP het vanjaar met die louere weggestap deur in die nie-amptelike eindstryd 31-16 met Vrystaat af te reken. Een van die uitblinkers van die toernooi was die WP heelagter Hennie Daniller. Dié Gimmie en boorling van De Doorns is dan ook die enigste speler van die Paarl wat in die SA Skolespan opgeneem is, terwyl Etienne Duvenage (Paarl Gim) en Pieter Louw (HJS) vir die SA Akademiespan gekies is. Die Akademiespan speel Saterdag teen Frankryk se o.18 span in 'n voorwedstryd (13:30) vir die Curriebeker wedstryd tussen Bo-land en Griekwas op die Boland Stadion op Wellington. Die jong Hane pak die Skole-Bokkies op 27 Julie in Durban. Die Akademiespan speel op 10 Augustus teen Wallis in 'n voorwedstryd vir SA en die Kiwi's in Durban, terwyl die Skolespan die volgende naweek Wallis speel wanneer die Springbokke en die Aussies op Ellispark kragte meet. |
|
|
|
|
VIER vroue van die Paarl het die afgelope tyd groot sukses behaal in toutrek en is reg om Suid-Afrika in dié sport te verteenwoordig. Laura van Schoor, Lizanne Visser, Ansie de Wet en Juanita de Wet het as lede van die Valsbaai Toutrekklub met die louere weggeloop in beide die 520kg en 560kg afdelings tydens die SA Klubkampioenskappe wat in Mei in Kuilsrivier gehou is. Al vier het in Julie as deel van die WP vrouespan aan die Jakaranda Ope in Pretoria deelgeneem en weer goud gekry in albei dié afdelings. "Nou is dit die SA Kampioenskappe wat voorlê, waarna die SA span aangekondig sal word," sê Ansie. |
|
||||