|
DIE begrip "minderheidsgroep" en die feit dat hulle ook "menseregte" het, word sedert 1994 orals gehoor.
Politici en al wat Jan Rap en sy Maat is, het die geleentheid aangegryp om gelyke regte vir minderheidsgroepe te bewerkstellig.
En met reg ook, want daar is en word steeds teen sekere mense of groepe gediskrimineer.
Ek is ook lid van so 'n groep in die Paarl. Ons betaal ook munisipale belasting, dra ook by tot die lewering van dienste, spandeer ook geld by plaaslike besighede, spreekkamers, ontspanningsgeriewe en sportbyeenkomste.
Ons het ook huisdokters, tandartse en oogkundiges. Ons gaan eet ook uit, fliek, doen banksake- en inkopies.
Die verskil egter tussen "ons" en u is die feit dat u die dokter van u keuse spreek, u tande en oë word deur spesialiste van u keuse versorg, u bank waar u wil en doen besigheid waar u wil en kuier waar u wil.
Ons moet die dokter, oogarts, tandarts, eetplek, bank, ensovoorts besoek waar dit vir ons toeganklik is! U sien, ons is mense wat met hulpmiddels loop of in rystoele sit.
Die trappies wat u so rats opdraf en die randsteen wat u nie eens raaksien nie, is vir ons 'n hindernis - in baie gevalle 'n oorkombare een, maar steeds 'n hindernis wat telkens 'n risiko inhou, want indien iets skeefloop, kan ons in die hospitaal beland.
Alvorens ons dus die pad aanpak om iets te gaan doen, moet ons eers deeglike beplanning doen. Die vraag is nie altyd net of ons by 'n plek kan inkom nie, maar ook: "Wat gemaak as ek die toilet wil besoek?" Sommige plekke is net nie ingerig vir gebruik deur 'n persoon in 'n rolstoel nie.
Die "toemaar, hier is net een trappie" is gewoonlik 'n trap wat eintlik drie kon gewees het. Die "kom maar, ons sal u gou gou help" is 'n mynveld op sigself, want as u ons wil help, dan moet u weet hoe, die geringste fout kan die rolstoel laat omkantel of die persoon met die hulpmiddel beseer.
Ons is in die minderheid, maar indien u ons almal bymekaartel, sal u vind dat ons beslis nie min is nie. Ons is die besighede en professionele persone wat wel voorsorg vir ons behoeftes getref het, innig dankbaar. Ongelukkig is hulle in die minderheid.
Doen uself 'n guns en huur of leen 'n rolstoel, kry iemand om u te stoot en vaar die dorp in. Gaan kyk of u u dokter, tandarts, geliefkoosde eetplekkie of bank kan besoek.
U sal vind dat 'n trappie wat meer as vyftien sentimeter is, te hoog is, dat daar randstene in die dorp is, dat "cobblestones" u seer skud, dat onervare hulp gevaarlik is, dat u toegang tot spreekkamers, eetplekke, parkeerplekke, besigheidsplekke en plekke van vermaak skielik drasties verminder het.
Sien die dorp deur ons oë, en vra uself af "Wat van ons?"
Pietlou |