|
DIE Wamakersvallei Opleidingsentrum op Wellington bied gratis opleiding vir huishulpe aan. Die sentrum is geleë skuins agter die dorpsbiblioteek in die Breytenbach Sentrum.
Drie gratis dagkursusse word aangebied in was & stryk, kookkuns en huisskoonmaak. Kursusse begin soggens 09:00 en duur tot 16:00.
Geen skoolopleiding word vereis nie, maar kursusgangers moet in diens van 'n huisvrou wees en moet 'n afskrif van haar eie identiteitsdokument verskaf.
Hierdie geleentheid word moontlik gemaak deur die Huishoudelike dienste afdeling van die Dienste SETA en is heeltemal kosteloos.
Die was- en strykopleidingsprogram leer jou die vaardighede van klerewas, stryk, en hantering van linne en beddegoed. Dit sluit in sortering van wasgoed, verwydering van vlekke, die gebruik van 'n wasmasjien en om items korrek op te vou.
Die kookkunskursus sal kursusgangers bemagtig om drie verskillende maaltye vir die daaglikse etes voor te berei. Hulle leer ook om vrugte en groente voor te berei, pasta te maak, slaai en toebroodjies te maak, eiergeregte voor te berei, hoe om kos korrek te hanteer en te berg, vis in 'n beslag gaar te maak, en om skyfies te maak.
Die huisskoonmaakkursus sal konsentreer op die skoonmaak van kombuise. Dit sluit in om die basiese beginsels van skoonmaak te begryp spesifiek met behulp van chemikalieë.
Dit sluit ook die korrekte manier van skoonmaak in van eetgerei en breekware kosprosesseringstoerusting, skoonmaaktoerusting, die identifisering van verskillende soorte vuil en hoe om elkeen te hanteer.
Ná die opleiding sal assessering van die huishulpe in hulle werksplekke gedoen word.
Daar word ook na opleiers gesoek wat teen vergoeding kan help met die opleiding. Skakel Irene voor 13:00 by 873-5942.
* Gratis geletterdheidskursusse word Dinsdae tussen 15:00 en 17:00 aangebied. |