|
OUTENTIEK was nog nooit so outentiek soos Skottie Smit se twee veertigjare Fiats nie.
En hy is nie bietjie trots op sy twee motortjies nie, waarvan die een uit 1961 en die ander uit 1962 dateer.
En sowaar, dié tweetjies, tesame met 'n 1968 3.8S Jaguar, kry voorkeur bo Skottie se ander hedendaagse voertuie in die motorhuis!
Wanneer jy begin vra oor die herkoms van die ou motortjies, neem Skottie jou sonder huiwering na waar hulle spesiaal vir die besoek onder die bome geparkeer staan.
"My eerste motortjie was 'n 1100 Fiat 1962 model. So 'n blou enetjie met 'n wit dakkie. Na vyf jaar het ek hom toe van die hand gesit.
"Toe trek ek in 1980 Paarl toe. En toe sowaar, toe is hier 'n Mattei-gesin in die Paarl wat 'n identiese motor het.
"Vir elf jaar lank het ek toe by mnr Mattei gesmeek om tog sy motor aan my te verkoop en hy het uiteindelik ingegee," vertel hy laggend.
Destyds het dié motortjies 'n skrale R1500 nuut gekos en kon jy vir R3 sy tenk vol brandstof maak.
Dan wys hy vir jou hoe dié deure destyds andersom oopgemaak het, hoe die spoedmeter in plaas van 'n naald met 'n rooi bandjie jou spoed aandui en die vloerhandrem en ratte digby die stuurwiel.
Daar was ook geen syspieëltjies nie en jy moes maar die nekwerwels behoorlik inspan om te kyk of alles agter veilig is.
"Ek beskou nie my karre as museummotors nie. Hulle staan nie net hier en mooi lyk nie. Hulle is daar vir elke dag se gebruik.
"My motors is nie só heilig vir my nie. Vir my gaan dit meer oor die sentiment."
Dan is dit tyd om hulle vernuf ten toon te stel. Die pad word gevat en boeta, kan hierdie knapie vir jou vinnig ry, met 'n topspoed van 82 myl (130 km) per uur.
En so af en toe spog hy ook met hulle by motorskoue.
Maar soos Skottie sê: hulle staan nie net daar vir mooi lyk nie, en word feitlik elke dag gebruik. |