|
STERK kompetisie vir 'n plek in die span en die streng toewyding van 'n nuwe kaptein, sal vanjaar die groot dryfvere agter die sukses van die Boland Krieketspan wees.
Die jong Con de Lange, Boland se speler van die jaar vir 2002/2003 sal vanjaar die provinsie aanvoer. Justin Ontong, wat verlede jaar saam met Henry Williams die span gelei het, het nee dankie gesê vir die kapteinskap om op sy spel te fokus.
"Ons het nie groot name in die span nie, maar ons het jeug. Ons is totaal onvoorspelbaar. As nuwe kaptein gaan ek daardie werketiek en toewyding van die manne saamvat en gebruik om onverskrokke te wees in alles wat ons doen, op en van die veld af," het De Lange Saterdag gesê tydens Boland Krieket se loods van die seisoenfunksie.
"Soos Graeme Smith (Proteas-kaptein) gesê het, ons moet ruthless wees."
Volgens De Lange sien hy uit na die uitdaging van die kapteinskap.
"Ek was die kaptein van meeste van dié spelers op skool (Boland o.18) en in een wedstryd verlede seisoen.
"Om nou dieper oor die wedstryd te dink en jou eie denkwyse by die span tuis te bring, gaan lekker wees," het hy gesê.
Die span se breier, Deon Muller, beaam die goeie gees onder die spelers.
"Con se selfversekerdheid en sy absolute vertroue in al die spelers is 'n groot bate. Hy weet wat hy uit elke speler wil hê, sonder om die speler persoonlik na te kom. Hy geniet ook almal se aansien en ondersteuning," sê Muller.
Volgens hom werk sewe van die gekontrakteerde spelers reeds sedert Mei aan hul fiksheid en basiese vaardighede. Willem du Toit, Jacques van Wyk, Gerhard Strydom, Chad Baxter, Rashaad Majiet en Con de Lange het in Engeland klubkrieket gespeel, terwyl Henry Davids na die nasionale akademie genooi is.
Davids het verlede jaar nie na verwagting vertoon nie, maar volgens Muller het hy "uitstekende vordering" gemaak by die akademie.
Hy bevestig dat daar sterk geleun sal word op spelers soos Justin Ontong, Con de Lange en Henry Williams.
"Daar is al lank gepraat oor Gerhard Strydom, Henry Davids en Willem du Toit. Dié seisoen is die waterskeiding waar hulle hulself moet bewys," sê Muller.
"Die verrassingselement die seisoen gaan dié individu wees wat met 'n goeie beurt of goeie boulsessie vorendag gaan kom.
"Dit word verwag van manne soos Justin, maar die ander het die potensiaal en dit sal 'n bonus wees wanneer hulle goed vertoon," sê Muller oor die span se onvoorspelbaarheid.
Dit is juis die groot potensiaal waarop die breier reken om die beste in sy spelers uit te bring.
"In die verlede was die ouens verseker van hul plek in die span, maar nou is daar 'n uitdaging vir elke plek. Vir geen speler is dit 'n uitgemaakte saak dat hy sal plek kry nie."
Die Boland speel drie opwarmingswedstryde voor die begin van die SuperSport meerdaagse reeks. Van 26 tot 28 September speel hulle OP in Port Elizabeth, van 30 tot 2 Oktober Griekwas in Kimberley en van 7 tot 9 Oktober vir WP.
Dit sal Muller die kans gee om met sy kolwer-kombinasies te eksperimenteer.
Boland het 'n geskiedenis van gebrekkige kolfwerk en die probleem is aangespreek met die kontraktering van Rashaad Majiet (WP) en Mark Sanders (KZN). Sanders het verlede jaar vir Natal se B-span vier honderdtalle aangeteken en hopelik sal hy vanjaar dieselfde vir Boland kan doen.
Magriet wat periodies vir WP gespeel het, maar tot dusver meestal in dié provinsie se B-span gekies is, sal ook hoop om sy merk in die Boland te maak.
Die leemte wat deur die uittrede van paaltjiewagter, Steve Palframan, gelos is, sal deur die nuwelinge Wesley Euley (WP, linkerhandse kolwer) en Graeme Marais gevul word. Albei dié spelers is ook ewe behendig met die kolf.
Onder die boulers sal die ervare snelbouler, Henry Williams, die Boland arsenaal lei. Hy sal bygestaan word deur die ewe vinnige Jacques van Wyk en Willem du Toit. Die regterhandse swaaibouler, Wallace Albertyn, wat verlede seisoen weens 'n dyspierbesering buite aksie was, sal vanjaar weer homself in die span wil vestig.
Die draaibalboulers, De Lange en Ontong, rond die Boland se boulaanval af. |