|
KOERANTOPSKRIFTE 'n jaar of wat gelede oor slenters in die olyfoliebedryf het platinum-kenner prof Klaus Koch genoop
om twee van sy passies - kosmaak en die wetenskap - te kombineer om 'n vinniger metode te ontwikkel wat nie net die suiwerheid en gehalte van olyfolie kan toets nie, maar ook namaaksels kan uitwys.
Die koerante was op daardie stadium vol berigte oor sogenaamde ingevoerde, Italiaanse "extra-virgin" olyfolie wat ten
duurste op die winkerakke beskikbaar is, maar eintlik net gekleurde sonneblomolie in 'n slim Mediterreense verpakking was.
Anders as die ware Jakob, het hierdie namaaksels glad nie dieselfde gesondheidsvoordele ingehou nie.
Prof Koch, 'n analitiese chemikus verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch se Departement Chemie en
Polimeerwetenskappe, het sy kennis gebruik om 'n kwantitatiewe spektroskopie-metode te ontwikkel, waardeur olyfolie getoets kan word.
Sy navorsing, saam met kollega Jean McKenzie, het onlangs in die Suid-Afrikaanse Wetenskaplike Joernaal verskyn.
Met net 0,4g olyfolie kan hulle binne 20 minute die belangrikste vetsure in Suid-Afrikaanse olyfolies analiseer.
Daarvoor word 'n Kern Magnetiese Resonansiespektrometer (KMR) gebruik wat danksy kragtige magnetiese golwe 'n beeld
van die samestelling van stowwe kan vorm. Dit is standaard-toerusting in die meeste chemie-laboratoriums wêreldwyd, maar is baie duur.
Alhoewel dit beteken dat olyfboere nog nie self hul eie olie kan toets met 'n sakpas-grootte apparaat nie, sou hulle
van die US se fasiliteite gebruik kon maak.
Anders as in die Europese Unie (EU) en die VSA, is daar plaaslik nog geen gesertifiseerde standaard waaraan plaaslike
produsente hul produkte moet meet nie.
Die streng voorgeskrewe EU-toetse neem tot 'n halwe dag om onder meer die chemiese samestelling, die hoeveelheid vrye
vetsure en die peroksiedwaarde van die olies te toets.
Die meeste toetse meet die kwaliteit en komponente van olies, maar kan nie almal tussen 'n vervalste en 'n egte
olyfolieproduk onderskei nie.
Prof Koch het met talle produsente in die Paarl-omgewing gesels oor die dreigende krisis, en met hul toestemming hul
olies getoets.
Daarby is sommige ingevoerde produkte wat op die Suid-Afrikaanse winkelrakke as "egte" olyfolie beskikbaar is, ook
getoets, en bevind dat enkeles in der waarheid gebottelde sonneblomolie gedokter met kleursel is.
"Om kwaliteitskontrole te verseker binne Suid-Afrika se groeiende industrie raak riglyne en 'n regulerende raamwerk
vir die kwaliteit van olyfolie al hoe noodsaakliker," glo prof Koch.
"'n Vinnige metode soos hierdie, gemeet aan die voorgeskrewe metodes van die EU, kan so 'n sertifiseringsproses
vergemaklik," glo prof Koch.
Veral invoerders kan by so 'n standaarde-raamwerk baat, aangesien hulle die invoerproduk kan toets.
Die duo se metode kan ook gebruik word om 'n databasis van alle plaaslike olyfolieprodusente saam te stel, waardeur
'n ondubbelsinnige "vingerafdruk" verkry kan word van 'n spesifieke produk om die outentiekheid van 'n olie vas te stel.
In 'n kleiner studie het die Matie-span ook gekyk na die belangrikste vetsuur-komponente van 'n seleksie van
olyfolies uit verskillende streke in die Wes-Kaap, en vasgestel dat daar definitiewe verskille tussen verbouingsgebiede en kultivars is.
'n Databasis wat olyfolies "geografies plaas", soos wat reeds in die wynbedryf beskikbaar is, kan verdere kanse op
vervalsing uitskakel.
|