|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
EEN besering is een te veel en moet ten alle koste vermy word. So sê Deon Roux, president van die Meesterbouersassosiasie (MBA) Boland. "Die veiligheid van werknemers op bouterreine is van groot belang vir werkgewers en daar moet voortdurend aandag gegee word aan veilige werksommstandighede. Die MBA Boland het onlangs vir Johann Rossouw as Veiligheidsadviseur aangestel wat werkgewers in die konstruksiebedryf gratis bystaan en adviseer met die nakoming van die bepalinge van die Wet op Beroepsveiligheid en Gesondheid asook die Konstruksieregulasies wat in Julie in werking getree het. Die Konstruksieregulasies vereis onder meer dat die boukontrakteur sowel as sy kliënt 'n veiligheidsplan sal opstel wat gedurende die konstruksieproses nagekom moet word. Rossouw het 'n beveiligingsplan wat ongeveer 60 bladsye beslaan, opgestel wat op alle tipes bouprojekte van toepassing sal wees. 'n Eendag-seminaar oor die regulasies word ook binnekort in Paarl aangebied. Geakkrediteerde veiligheidsopleiding soos eerstehulp en veiligheidsverteenwoordigers word na gelang van behoefte, aangebied. Frans Vorster is aangestel as vaardigheidsopleidingfasiliteerder. MBA Boland is verbind tot en hou tred met die nuwe opleidingsbedeling soos bepaal deur die Wet op Vaardigheidsontwikkeling. Hierdie gratis fasiliteringsdiens word gelewer ten einde opleiding in die bedryf te bevorder en sluit in die opstel en implimentering van werkplek-opleidingsplanne en sal daartoe bydra dat gestruktureerde opleiding in die Boland gevestig word. Vennote in hierdie proses is onder meer Tjeka Opleiding en Boland Kollege. Roux is opgewonde oor die nuwelinge en is van mening dat die boubedryf baie baat gaan vind. "Nie alleen sal werknemers se vaardigheid ontwikkel word nie, maar die Bolandgebied sal baat vind daarby deur beter produkte te lewer. "Dit is 'n inspuiting vir ons ekonomiese toekoms en 'n proses wat ons werknemers en hulle gesinne sal ophef. "Ons gebied van dienslewering sluit ook die Overberg en 'n gedeelte van die Weskus in wat beteken dat 'n groot aantal werkgewers en werknemers baat gaan vind." * The Boland Master Builders Association has made new appointments to assist local builders. |
|
|
|
|
BAIE belastingbetalers wat in die afgelope 18 maande 'n huis gebou of gekoop het, se munisipale rekenings is in 'n chaotiese toestand. Mense is woedend omdat hulle aangeslaan is vir eiendomsbelasting vir die volle 12 maande van 1 Julie 2002 tot 1 Julie 2003 in gevalle waar hulle eers enkele weke voor die einde van dié boekjaar oordrag gekry het. In die meeste gevalle is waardasies vir nuwe eiendomme te laat gedoen, en is geen belasting gehef voor 1 Julie 2003 nie. Nou moet kopers van nuwe eiendom 24 maande se eiendomsbelasting in 12 maande afbetaal (rentevry) asof hulle die eiendom vir die volle tydperk besit of bewoon het. Die kopers word nou ingevolge die jongste ordonnansie verplig om die belastingskuld self te verhaal van die verkoper of ontwikkelaar vir die tydperk wat hulle nie die eiendom besit het nie. Een van hulle, raadslid Deetlefs du Toit, kry rekenings vir belasting asof hy reeds van 1 Julie 2002 in sy nuwe huis gewoon het, wat toe nog nie eens gebou was nie. Hy het eers in 2003 ingetrek. Hy bevraagteken die Munisipaliteit se reg om belasting terugwerkend te hef, daarom betaal hy tans slegs die belasting van die lopende maand (die rekening onderskei nie tussen die huidige en vorige jaar se belasting nie). "Ek weet tot vandag toe nie wat die belasting is wat gehef word van 1 Julie 2002 tot 1 Julie 2003 nie." Omdat Du Toit weier om die dubbele belasting te betaal, is hy ook aangeslaan vir laat-betaling. Nadat hy gekla het, is die heffing later teruggeskryf. Volgens Du Toit lyk dit asof die tesourie nie al die klagtes van die publiek kan hanteer nie en nie in staat is om 'n korrekte rekening te lewer nie. "Elke belastingbetaler is geregtig op 'n rekening wat duidelik uiteengesit en gemotiveer is." Hy moet nou boonop bewys lewer dat hy nie reeds op 1 Julie 2002 in die huis gewoon het nie, omdat water en krag destyds aangesluit is om die bouwerk te begin. "Wat my pla, is dat die niksvermoedende publiek - heelwaarskynlik honderde huishoudings - elke maand in goeder trou te veel belasting betaal en dus in effek beroof word." |
|||||
|
|||||