safetop
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday: 19 June  2003

uitlefstreep

This site will be updated on: 26 June 2003 at 17:00

Sport


Kavaliers kook weer

[ Top ]


wvaartFCDIE Boland Kavaliers se perd bokspring weer danksy die Swarttruie se 33-31 oorwinning oor die Luiperds verlede week.

Dit is die eerste wen vir die span van Wellington dié seisoen en een waarvoor hulle hard en met trots gewerk Vrydag.

In die eerste minute het die Luiperds se Deon Strydom (haker) vanuit 'n dryfbeweging regdeur die middel gebars en gedruk. Ná

NOG 'N GAPING. Piet van Zyl, buitesenter van die Kavaliers skiet deur 'n gaping in hul wedstryd teen die Luiperds Vrydag op Wellington. Van Zyl het met sy vaart op die aanval en onverskrokke verdediging telkens die Bolandse ondersteuners laat juig. Foto: Leon Steenkamp
 

Willem de Waal se doelskop die telling 7-0 gemaak het, was daar sekerlik Boland-ondersteuners wat weer die mismoedigheid aan die hul maag voel knaag het, maar dit is gou in blydskap verander toe Andries Human (stut) vir die tuisspan druk, nadat twee goeie agterlynbeweging die Kavaliers tot in die Luiperds se kwartgebied gebring het.

Piet van Zyl (buitesenter) het hier 'n mooi gaping geslaan. Dit sou die eerste van vele wees. Van Zyl was skitterende in die aanval en wanneer hy die bal gekry het, was daar iets vir die toeskouers om oor te juig. Hy was ewe dodelik in die verdediging en met sy klipharde duikslae het hy menige Luiperd se naels getrek.

'n Doel deur die besoekers en twee strafskoppe deur die Kavaliers se Solly Goosen (losskakel) het die rustydtelling op 14-11 gebring.

In die tweede helfte het die Luiperds met 'n stoomroller-poging 17 punte in 'n vyf minute opgestapel.

Met die telbord op 31-11, sou enige ondersteuner vergewe kon word, as hy getwyfel het in die Kavaliers se vermoë om terug te kom.

Maar 'n karaktervolle terugvegpoging soos lanklaas gesien is, is deur Boland opgedis vir sy kanniedood-ondersteuners wat elke oomblik geniet het.

Die tuisspan het verseg om te gaan lê en drieë deur die flanke Ernst Joubert en Chris Potgieter asook Van Zyl en Melvin Smith (regtervleuel) het Boland kort voor die einde met twee punte laat voorloop.

Die Luiperds het egter 'n gulde geleentheid gehad om die wedstryd in hul guns te beklink toe 'n strafskop net binne Boland se halfgebied aan die Luiperds toegeken word.

Mens kon nie glo dat die noodlot die Kavaliers so wreed van hul eerste oorwinning sou ontneem nie en heelwat skietgebede is sekerlik beantwoord toe De Waal se skop net te kort skiet.

Hoewel die Kavaliers met hanteerfoute en oorgretigheid hulself by tye nog onder druk geplaas het en selfs so punte afgestaan het, was dit beslis 'n groot verbetering op hul vorige vertonings.

Die verdediging was baie goed en die spelers se toewyding in elke faset van die spel het die wedstryd 'n plesier gemaak om te aanskou.

Die Kavaliers lê tans vyfde op die punteleer met sewe punte, agter die SWD Arende (12), Valke (11), Griekwas (11) en Luiperds (9). Hulle pak môre die Griffons in Welkom.

Die span is Antonius Verhoeven, Melvin Smith, Piet van Zyl, Herman Schröder, Ashwell Rafferty, Solly Goosen, Dru Nass, Ernst Joubert, Henley du Plessis, Chris Potgieter (k), Henk Eksteen, Nicky Smit, Andries Human, Gustav Rademeyer, Pieter Terblanche.


Kilotreads-dag weer 'n groot sukses

[ Top ]


HOEWEL die laaste wedstryd van die Kilotreads-rugbydag wat Maandag op Daljosafat gehou is, in die reën gespeel is, het dit nie die aanskoulikheid gekortwiek nie.

Vineyards en Laer Paarl het in dié wedstryd mekaar gepak wat eersgenoemde 17-11 (17-6) gewen het.

Die koue weer en sif-reën het nie gekeer dat die spanne hardlooprugby speel nie en Vineyards is ook dan aangewys as die span wat die aanskoulikste rugby gespeel het.

Abbas Hendricks, Adam Moerat en Adli Moerat het die wenspan se drieë gedruk, met Tino Prins wat met 'n doelskop geslaag het.

Vir Laer Paarl het Germaine Clayton met 'n drie en Dawid Pieterse en Theysie Pieterse elk met 'n strafskop geantwoord.

Die dag, wat deur die Paarl Rugbykode gereël is (danksy die borgskap van Kilotreads Paarl, Leadertread en Dunlop), is afgeskop met 'n afrigtingsessie vir junior spelers onder leiding van oud-Springboksenter Thinus Linee.

"Die afrigtingskliniek was 'n groot sukses en die rugby self het bewys dat ongeag in watter ligas die spanne speel, hul grotendeels van gelyke sterkte is. Ons voel ons het in ons doel geslaag ," het Thomas du Plessis, voorsitter van die Paarl Rugbykode gesê.

Leon van der Merwe van Kilotreads het die ondersteuners en spelers bedank vir hul bydrae tot die sukses van die dag.

"Volgende jaar wil ons die toernooi groter maak en verder bydra tot die bevordering van rugby in die gemeenskap," het Van der Merwe gesê.

* Riverstones 21 (7) Paarl Rangers 3 (3): Driedrukkers vir Riverstones was Ashley Abrahams, John Adams, Anthony Henderson. Manfred Hendricks slaag met drie doelskoppe.

Vir Rangers het Leswin Baron met 'n strafskop geslaag.

* Young Peoples 44 (27) Mbekweni Black Vultures 0 (0): Alwyn Lategan, Jacques Lategan, Ivor Petersen, Kurt Martin 2, Sam Titus en Justin Fortuin 2 het Peoples se drieë gedruk. D Cornelissen het met twee doelskoppe geslaag.

* Allandale 26 (0) Landelike Unie 26 (7): Vir Landelikes het Japie Aggenbag 2, Jeremy Koukom en Klaas Fortuin gedruk. Koukom het ook met twee strafskoppe geslaag.

Allandale se drieë is gedruk deur Louis Rank, Rashied Isaacs, Lesley van Schoor en Peter Lackay. Rank was suksesvol met drie doelskoppe.

* Paarl 23 (11) Violets 0 (0): Vir Paarl het Huntie Maass, Johan Buckle en Jaco du Plessis gedruk. Jacques Hendricks het met 'n doelskop geslaag en Mark Kruger met twee strafskoppe.

* Albions 19 (12) Young Standards 23 (8): Morné Goetham, Ashley Manuel en Ju-Wayne Cyster het Albions se drieë gedruk, met John Adriaanse en Selvin Isaacs wat elk met 'n doelskop geslaag het.

Brendon van Schoor, Bradman Arendse en Linton Lewis het Standards se drieë gedruk. Enrico Davey het 'n doel- en twee strafskoppe oorgesit.

* Windmeul United 24 (8) Young Gardens 22 (5): Die skopvoet van Jan Williams het vir Windmeul 'n oorwinning besorg nadat hy met vier strafskoppe en 'n doelskop geslaag het.

Drieë is gedruk deur André Andreas en Lionel van Vuuren.

Gardens se Jeremy September, Clinton Cupido en Garth Lewis het die doellyn oorgesteek.

Randall George het met twee doelskoppe geslaag en Anwar Daniels met 'n skepdoel.

Die Kilotreads-span wat na afloop van die dag aangewys is, speel voorlopig sy eerste wedstryd op 27 Junie om 19:30 op Faurestraat Stadion teen Kuilsrivier wat in die WP Superliga meeding.


Leraar herstel waardes met rugby

[ Top ]


IN 'n poging om weer morele waardes by vandag se jeug in te boesem, het 'n leraar van Wellington na-ure sy preekstoel vir 'n rugbyfluitjie verruil.

Ds James Mac Kay van die Verenigde Gereformeerde Kerk Bergrivier het sowat 'n maand gelede begin om kannetjies van Wellington by 'n afrigtingsprojek te betrek.

"Ek fokus nou eers op o.7, o.8 en o.9 spelers en leer hulle rugby om hulle uit die kwaad te hou.

"Deur die afrigting probeer ons weer waardes by hulle tuisbring soos om nie te vloek nie. Dit is 'n opvoedingsproses," vertel ds Mac Kay.

Beide die Boland Rugby Unie en die Suid-Afrikaanse Rugby Voetbal Unie (Sarvu) het die projek verwelkom.

"Boland het vir ons hempies geskenk terwyl Sarvu weer balle en afrigtingstoerusting voorsien het," sê MacKay.

Die spannetjies het Vrydag voor die kragmeting tussen die Boland Kavaliers en die Luiperds op Boland Stadion wedstryde teen spanne van Laerskool Hugenote gespeel.

Ds Mac Kay rig ook dié laerskool se o.8 rugbyspan af.

Mac Kay hoop dat die projekte die voorbeeld sal stel vir ander dorpe en dat soortgelyke projekte ook daar sal posvat, en die spanne dan oor en weer teen mekaar kan speel.

"Dit is opwindend om te sien hoeveel ouers ook betrokke is. Ons wil hulle ook laat sien waarmee die kinders besig is, sodat ons ook hul ondersteuning kan kry," het Mac Kay gesê terwyl ouers Vrydag die pawiljoen begin toepak het.

Hoewel ds Mac Kay se outjies nie heeltemal opgewasse was teen die spelertjies van Hugenote nie, was daar geen tekort aan entoesiasme nie - op en van die veld - met ouers en afrigters wat luidkeels raad uitgedeel het en hul aangemoedig het.


Paarl-atleet in SA Jeugspan opgeneem

[ Top ]


DIE Paarlse atleet, Regan Julius, is een van drie Bolanders wat in die SA Jeugspan opgeneem is wat van 9 tot 13 Julie aan die IAAF Jeugspele in Kanada gaan deelneem.

Julius is in dié o.17 groep ingesluit nadat hy 'n kwalifiserende sprong van 7,23m behaal het.

Volgens Raymond Julies, Regan se pa en afrigter van die SA-span, was nog 'n belowende Paarlse atleet, Stacey Gardiner, ongelukkig om nie die span te haal nie.

"Die aanvanklike groep wat gekies is, het uit 27 atlete bestaan. Dit is na 17 verminder moontlik weens finansiële redes. As deel van die nuwe kriteria is atlete gekies wat onder die top sewe atlete op die Wêreldranglys is," sê Julius.

Gardiner, 'n o.15 atleet wat vroeër vanjaar al gekwalifiseer het, moes die 100m in 12,40m aflê vir 'n plek in die span.

Hoewel sy 'n tyd van 12,37s gehard-loop het tydens 'n onlangse byeenkoms op Stellenbosch het tegniese probleme met die outomatiese tydleser verhoed dat dié tyd aanvaar is.

"Die feit dat sy so jonk is, het ook in 'n sekere mate teen haar getel. Sy is in haar ouderdomsgroep onder die top drie atlete op die wêreldranglys, maar in die o.17 groep lê sy laer af," sê Julius.

Volgens Raymond, wat ook die naelloper van La Rochelle by die Paarl Atletiekklub afrig, is daar nog 'n goeie kans dat sy wel die Jeugspan in die volgende twee jaar sal haal.

"Ons wil volgende seisoen konsentreer om haar tyd in die 100m af te bring na 11,80s," sê Julius van Stacey, wie se persoonlike beste tyd 12,13s is wat sy by vanjaar se SA Jeugkampioenskappe afgelê het. 


Paarl Rangers ongelukkig

[ Top ]


'n VERBROUDE strafskop vlak voor die pale in die laaste minuut van speeltyd het Caledonian Roses die rugbywedstryd op hul tuisveld gekos en Paarl Rangers hoop gegee om nog die eerste ronde van die Premierliga B te wen.

Met nog een wedstryd oor het Rangers vier ligapunte minder as die huidige ligavoorlopers Franschhoek United wat reeds die eerste ronde voltooi het.

In 'n wedstryd wat deur geniepsige spel gekenmerk is, het Rangers eerste punte aangeteken toe Butch Green (stut) in die 20ste minuut gedruk het.

'n Drie en strafskop het die tuisspan egter met rustyd 8-5 laat voorloop.

Vleuel Roger Ruiters se drie en 'n strafskop deur Green gee Rangers 'n twee punt voorsprong, maar onkantspel in hul kwartgebied gee Roses 'n maklike kans om die wedstryd te beklink.

Die skop is egter mis en Rangers slaak 'n sug van verligting om 13-11 te wen.

Young Peoples was Saterdag ongelukkig om op Faurestraat 20-19 teen Primrose te verloor. Die be-soekers was rustyd 12-10 voor.

Peoples was aan die ontvangkant van heelwat verdagte beslissings, en een hiervan het hulle 'n versekerde drie in die doodsnikke gekos.

Die Peoples-agterlyn was op pad na die doellyn toe die senter Justin Fortuin, hooggevat word. Die skeidsregter beslis dat die bal vorentoe verloor is en Primrose kry die skrum.

Albei spanne het egter konstruktiewe rugby probeer speel.

Jacques Lategan (vleuel) en Melvyn Hermanus (heelagter) het Peoples se drieë gedruk terwyl Hermanus met twee strafskopppe en Sam Titus met 'n skepskop geslaag het.

Die Rooi Rose van Young Gardens was ná hul goeie oorwinning oor Weermag verlede week, weer aan die wenkant toe hulle vir Stellenbosch Coronations 12-10 op Gardens Park geklop het.

Nico Fertyn en Richard Abrahams het vir Gardens gedruk, en Chesley Theo slaag met 'n doelskop.

Dié oorwinning het Gardens tot in die tiende plek van die Premierliga B laat opskuif.

Die vroue- en veteranespanne van Gardens oefen Dinsdae en Donderdae om 18:00 op Gardens Park vir hul derby teen Paarl Rangers op 28 Junie op Gardens Park. Navrae: Chrisbin Meyer 082-713-5973.

Albions het Saterdag weer alles verkeerd gedoen, met te veel hanteerfoute wat hulle die wedstryd teen Paarl gekos het.

In die eerste helfte het sake nog goed gelyk desondanks vier strafskoppe wat John Stevens nie deur die regop-pale kon jaag nie.

Die spanne het voorlangs mekaar opgeweeg en sake was teen rustyd nog baie gelyk op 8-8.

Paarl druk nog twee drieë en slaag met 'n doelskop en strafskop om 23-8 te wen.

Vir Paarl het Riaan Ehlers, Marco Martin en John Claasen gedruk, met Mark Kruger wat met 'n doelskop en twee strafskoppe geslaag het.

Albions se drie is deur Ju-Wayne Cyster gedruk en Marius Claasen het met 'n skepskop geslaag.


Hoopvolle Bokke pak Poemas op Wellington

[ Top ]


DIE Suid-Afrika A-rugbyspan sal Woensdag op Wellington alles in die stryd werp in hul wedstryd teen Argentinië om 'n moontlike plek in die Wêreldbeker-groep te verseker.

Die wedstryd beloof rugby van hoë gehalte, met sterk aanspraakmakers soos Wayne Julies, Bolla Conradie, Jannes Labuschagne en Hanyani Shimange wat die keurders sal wil wys wat in hul steek.

Wellingtonner Francois Davids, sameroeper van die Springbokkeurders, sal verseker die spelers kom deurkyk en die spelers sal hard swoeg om 'n regmerkie langs hul naam te kry.

Die Argentyne behoort 'n goeie toets vir die amperse Bokke te wees en sal die beste in hulle na vore bring, veral aangesien die Poemas in hul eerste toets vanjaar met die Franse afgereken het.

Die Boland o.18 Cravenweek-span sal met hul eweknieë van die Westelike Provinsie in 'n voorwedstryd kragte meet. Hierdie wedstryd beloof om aantreklike hardlooprugby te lewer en sal as voorskou dien vir die komende o.18 Cravenweek wat van 7 tot 12 Julie op Boland Stadion gehou word.

Daar word gehoop dat die weer sal saamspeel om 'n dag van goeie rugby-opwinding te verseker.

Kaartjies is reeds beskikbaar en die publiek moet woel om teleurstelling te voorkom. Kaartjies beloop R5 (skoliere), R20 (studente met studentekaarte), R30 (toegang), R50 (hoofpawiljoen).

Die SA A-span is: (Agterspelers) De Wet Barry, Johannes Conradie, Neil de Kock, Robbie Fleck, Thinus Delport, Eddie Fredericks, Butch James, Conrad Jantjes, Wayne Julies, Anton Pitout, André Snyman. (Voorspelers) Pat Barnard, Christo Bezuidenhout, Geo Cronje, Daan Human, Piet Krause, Jannes Labuschagne, Dale Santon, Hanyani Shimange, John Smit (k), Juan Smit, Shaun Sowerby, Albert van den Berg, Luke Watson.


Roses United speel al beter

[ Top ]


DIE eerste span van Roses United vaar al beter, ná 'n aanvanklike wankelrige begin in die Boland Superliga A1.

Roses het Saterdag op Wellington vir Moorreesburg 18-12 geklop, met sy gevaarlike agterlyn wat oorheers het.

Die tuisspan se vleuels, Edward Jansen en Virgil Frans, het uitgeblink terwyl John Arnoldus (haker) en Ignatius Korabi (agsteman) voorlangs die pap dik aangemaak het.

Jansen, Frans en Charl Williams het drieë gedruk. Warren Apollis het met 'n strafskop geslaag.

Die manne van Wellington Rugbyklub stoomroller steeds hul weg voort bo-aan die punteleer en het Saterdag op Worcester vir Worcester Villagers 27-17 gewen.

Pieter Wium (haker) en De Wet Neethling (slot) het in die besoekers se pak uitgeblink, terwyl Jan Rautenbach (losskakel) ook goed vertoon het.

Vir Wellington het Tiaan Burger, Paul Bester, Riaan Nel en Danie le Roux gedruk. Arthur Snyders was suksesvol met twee doelskoppe en 'n strafdoel.


Junior liga 'n voedingsbron vir Boland Rugby

Gerhard Roux

[ Top ]


TIEN spanne speel vanjaar in die o.21-liga van die Boland Rugby Unie (BRU). Daar is vier spanne van Worcester (Boland Kollege, Rekenaarskool, Worcester Villagers en Young Hamiltons), drie uit Wellington (Kaap Technikon Wellington Kampus A en B, en Wellington-dorp), en een elk uit die klubs van Wesbank (Malmesbury), Bredasdorp en Robertson.

Die liga is pas verlede jaar ingestel en volgens Ivan Pekeur, bestuurder van klubrugby by BRU, pluk klubs reeds die vrugte van rugby op juniorvlak.

"Die o.21-spanne word afgerig deur manne wat geskool is in afrigtingskursusse en steeds deurlopend aan opvolgkursusse deelneem.

"Die o.21's word dus geslyp om ons senior spanne te versterk met nuwe vaardighede en spelbekwaamhede," het Pekeur gesê.

Hy wou nie spelers uitsonder nie, maar meen dat 'n hele aantal spelers wat Woensdae in die o.21-liga speel en Saterdag in die Superligas uitdraf, 'n nuwe dimensie aan Boland se klubrugby verleen.

Pekeur is veral in sy skik met die totstandkoming van Kaap Technikon Wellington as klub, met twee spanne in die o.21-liga.

"Studente kan toenemend die kragbron van ons rugby word. Met die twee Technikon-spanne is daar nou vier studente-spanne - twee van Wellington en die Rekenaarskool en Boland Kollege op Worcester.

"Hulle kan vanjaar se liga ook die toon aangee, maar moenie enige van die ander spanne buite rekening laat nie," sê Pekeur.

Hy het die hoop uitgespreek dat senior klubs wat nie vanjaar o.21-spanne ingeskryf het nie, reeds sal beplan om dit volgende seisoen te doen.

"Finansies om reisgelde te dek, is 'n probleem, maar met die nodige aanvoorwerk glo ek dat plaaslike borge gevind kan word."

In afdeling A speel Boland Kollege, KTWK B, Rekenaarskool, Bredasdorp en Robertson.

In die B-afdeling meet KTWK A, Worcester Villagers, Young Hamiltons, Wesbank en Wellington kragte.

Die liga se eerste ronde het op 11 Junie klaargemaak, met Rekenaarskool bo-aan die A-afdeling punteleer en KTWK A eerste in die B-afdeling.

Die tweede ronde begin eers weer einde Julie wanneer die studente van hul vakansie af terugkeer.

Die kragmeting tussen KTWK A en Wellington is reeds as 'n wedstryd geidentifiseer wat in die toekoms 'n groot derby-gees onder die studente sal laat posvat.

In hul eerste wedstryd vanjaar, het Wellington met die louere weggestap en KTWK in dié taai stryd 7-5 geklop.


Paarl Brodiespan in semi-finaal

[ Top ]


DIE Brodie Ligaspan van Paarl Gholfklub is verseker van 'n plek in die semi-finaal na 'n uitmuntende vertoning in die sesde ronde op Kuilsrivier waar hulle vir De Hoek B en Weermag B elk met 6-2 geklop het.

Johan Neethling was verwoestend in sy sege oor Louis Nthane (7-6) en Willie Marneville (6-4). Renso Nel, nog onoorwonne na tien wedstryde, het vir Theuns Kotze (5-4) en Arrie Louw (3-2) uitgeskakel.

Karel Cupido het vir Koos de Villiers (4-3) en Trevor Daniels (2-1) geklop, terwyl Erik Troost vir Danie Adams (3-2) en Willem Torela (2-1) laat les opsê het.

Met nog een ronde oor is dit onmoontlik om die Paarl span in te haal. Hul teenstanders in die semi-finaal sal waarskynlik die onoorwonne De Hoek A wees.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za