safetop
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 
ppostgothic
uitlefstreep

Thursday 19 August 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 26 August  2004 at 17:30

Aida

Nuus - News


wpayFC

GEEN SKUILING. Daar was vandeesweek chaos in Du Toitstraat, Paarl, toe besoekers aan Allpay se uitbetalingspunt  vir staatstoelaes by die Ontspanningsaal, oor versperrings geklouter het om op voorstoepe van huise teen die reën te skuil. Inwoners en die bestuur van die saal het die uitbetalings-kontrakteur, die polisie, verkeersafdeling en die munisipaliteit gekontak om die probleem te ontlont sonder sukses. Daar word nou na 'n alternatiewe uitbetalingspunt gekyk.


Gegrom oor geld

Malané Bosman

[ Top ]


GROOT ontsteltenis het hierdie week geheers tydens die uitbetalings van maatskaplike toelaes in Du Toitstraat, Paarl.

Terwyl begunstigdes die saal binnegelaat is, het diegene wat hulle te voet vergesel het, op die stoepe van wonings in die straat skuiling gesoek teen die reën.

Wanneer die mense uit die saal gekom het, het hulle die getalle op die stoepe soos geblikte sardyne laat swel terwyl hulle op rygeleenthede gewag het.

Inwoners het ontsteld by die munisipaliteit, die polisie en die verkeersafdeling gekla. Die situasie het egter nie verbeter nie.

Drie duisend mense het oor die twee dae hul toelaes by die Ontspanningsaal kom afhaal.

Dié betalings is tot April in die Nasionale Saal in Fabriekstraat gedoen. Toé is die gebou in 'n skryfbehoeftewinkel omskep.

By die Ontspanningsaal is daar geen skuiling teen wind en weer nie. Daar is geen rolstoeloprit nie en gestremdes moet deur sekuriteitswagte opgetel word tot op die stoep.

Verkeersopeenhoping in die nou straatjie het Maandag en Dinsdag inwoners en motoriste tot raserny gedryf, terwyl 'n verkeersman doodluiters boetekaartjies vir motors op geel strepe in die stiller systrate uitgeskryf het.

Blokkeer

Inwoners het gekla oor die stalletjiehouers wat hul opritte blokkeer het, en toe hulle uiteindelik die area verbied is, was die smouse weer erg ontevrede oor die verlore sake wat sonder probleem by ander betaalpunte gedoen mag word.

"As die munisipaliteit en die polisie net hul samewerking gee, en hul werk reg doen, sal hier geen probleem wees nie," sê Schalk Fourie van die Ontspanningsklub.

"Allpay se gebruik van die saal is vir ons 'n kwessie van oorlewing nadat ons vroeër vanjaar ons besprekings vir danse gekanselleer het nadat inwoners van die straat gekla het."

"Ons wou dat die mense die syingang gebruik, so sou hulle uit die pad en uit die ergste reën wees, en by die smouse verbyloop."

Allpay was nie daarmee tevrede nie. Dit sou hul sekuriteitsopset belemmer.

Die besoekers kon ook nie deur die modder aan die sykant van die gebou ploeg nie, nie voordat die munisipaliteit soos deur die Paarl Ontspanningklubbestuur versoek, die oppervlak met gruis bedek nie.

"Dis die vierde maand dat tweedaagse uitbetalings gedoen word," het Fourie gesê.

"Ons het met die munisipaliteit en die verkeer vergader en per brief bystand en monitering versoek. Daar was geen reaksie nie.

"Nou is almal ontevrede."

Allpay het hierdie week te kenne gegee dat hulle na 'n alternatiewe uitbetalingspunt in sentraal-Paarl soek.

"Ons wil probeer om almal gelukkig te hou," het areabestuurder Reduaan Abrahams gesê.

"Laat ons dan ons toelaes by die Gemeenskapsaal in Huguenot afhaal," het die skare uit een asem gesê.

* Residents of Du Toit Street in Paarl are up in arms over the overcrowding at government grant payouts at a local hall.


Politieke harwar

Susan Botha

[ Top ]


DIE stof het nog glad nie gaan lê nie, ná die onlangse aankondiging van die NNP dat hulle gaan saamsmelt met die ANC. Verskeie Paarliete sê die NNP moet weer opstaan.

"Ons weier om die NNP-leier te volg," was Elizabeth Windvogel, voorsitter van die NNP Vroue-aksie in die Paarl, se besliste uitspraak.

Sy en 'n klompie van die ontstelde NNP-lede het met die Paarl Post gesels na afloop van die vergadering met André Gaum (LP) en hoofsekretaris Darryl Swanepoel.

Hulle staan, gewapen met plakkate, agter die Huguenot gemeenskapsaal.

Eenkant, buite sig van die kamera, staan 'n groepie raadslede. Net een, Miriam Adriaanse, voeg haar by die Windvogel-groep.

"Ek is ten gunste van samewerking," stem sy met die omstanders saam.

"As ek saamwerk om 'n tafel, kan ek 'n verskil maak. Maar as ek onder hulle (ANC) val, moet ek die koukusbesluite volg."

Windvogel sê hulle eis 'n kongres: "Ons is nie tevrede nie, Van Schalkwyk moet bedank dat ons 'n ander leier kan kies."

Die ander mense het geesdriftig saamgestem: "Die hele federale raad kan ook maar stap, dan kan ons 'n nuwe raad ook kies.

"Ons wil die party se naam ook verander, terug na die NP."

Daar is groot ontevredenheid oor die manier waarop Marthinus van Schalkwyk sy besluit aangekondig het.

"Ons moes in die media hoor daarvan," vertel hulle en voeg by dat partyleiers op Vrouedag hulle net ingelig het dat die besluit reeds geneem is.

Oor oud-pres FW de Klerk se aankondiging dat hy bedank uit die NNP was die reaksie: "Hy is nog lekker jonk, hy kan maar weer 'n party begin en dan kan hy maar weet - al ons NNP-mense staan agter hom".

Stuk-stuk kom die raadslede ook 'n stuiwer in die armbeurs gooi.

"Ons moet maar versigtig wees, veral dié op die burgemeesterskomitee, hulle skop ons sommer maklik uit."

Die grappies bly nie uit nie: "Julle kan maar sê hy gaan oorloop DA toe," beduie hulle na 'n raadslid.

"Nee, wag nou," skerm dié persoon, "ek sal self die kiesers laat weet wat ek besluit."

Intussen kom die oorloopperiode, 1 tot 15 September, vinnig nader en daar kan sekerlik heelwat veranderinge in die politieke samestelling van die Drakenstein stadsraad te wagte wees.

* NNP members in Paarl are furious over their leader's decision to join the ANC.


Konsternasie oor wegloop-korkodil

Malané Bosman

[ Top ]


DAAR is meisies én meisies - dié wat tevrede is om tuis te bly en dié wat avontuur op die langpad soek.

Katryn is een van laasgenoemde. Al is dit winter en behoort sy soos haar krododilbroers en -susters haar winterrus te rus by die Le Bonheur krokodilplaas in Simondium, bly die hongerpyne knaag.

En die avontuurlus. Dis dié dat Katryn vroeër vandeesmaand vir groot konsternasie gesorg het.

Gaste by die baie-ster Santé Winelands Hotel met luukse-gesondheidspa het tot hul verbasing een oggend vir Katryn in een van die landgoed se damme sien ingly.

Dit was juis dié oggend dat Radus Beukes, 'n professionele  duiker, die dam sou aandurf op soek na 'n lekkasie op die bodem.

Nee, Radus kan beslis nie duik nie, het die hotelbestuur gemaan. Hier is 'n krokodil.

Navraag by die krokodilplaas het die vermoede bevestig.

'n Driejarige krokodil van 1,2m het ontsnap. Maar dis koud, en krokodille eet nie dié tyd van die jaar nie. Radus is heel veilig.

Die volgende oggend was Radus al in sy duikpak toe sy vriende weet  te vertel die krokodilplaas het 'n fout gemaak, dis nie 'n jongetjie nie, maar 'n allemintige 3m lange dierasie wat weggeloop het.

Net daar besluit Radus dié kans vat hy nie.

Met toestemming van Natuurbewaring is daar 'n dag lank gejag, maar sonder sukses. Die nag was net te koud vir wagstaan, dus moes die lekkasie maar wag.

Twee weke later, op Vrouedag, het 'n Winelands bestuurder vir  Katryn yskoud op die damwal kry lê.

Miek Prins van Le Bonheur kon die 1,2m lange Katryn sonder seremonie optel en terugvat na haar huis toe.

Krododille klim soos katte as die gier hulle beetpak,verduidelik  Frances Cloete van die krokodilplaas.

Maar dit gebeur nie baie nie, want hulle is tevrede waar hulle woon, met genoeg kos en water en lekker bakplek in die son.

Net so nou en dan is daar een wat so 'n effe meer avontuurlustig is, soos Katryn.

* A crocodile caused consternation when it escaped from a croc farm and landed up in the grounds of an upmarket Paarl hotel.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@paarlpost.co.za  

[ Top ]