|
VEERTIG is 'n mylpaal in enige mens se lewe. Vir Elmaré le Roux van die Paarl is Maandag 23 September ook 'n mediese wonderwerk.
Sy is op 23 September 1962 in die Voortrekker Hospitaal op Carnarvon gebore met Myelomeningocele ('n oop ruggraat), die ernstigste vorm van Spina Bifida.
Op veertig jaar is sy die oudste vrou in Suid-Afrika wat dié siekte oorleef het en die tweede oudste persoon, naas 'n man wat nou vyftig is.
Spina Bifida is waar 'n baba gebore word met 'n gedeelte van die rugmurg oop as gevolg van 'n opening in een of meer van die werwels. Die rugmurg bult dan deur die opening en vorm 'n sakkie wat serebraal-spinale vloeistof bevat.
Elmaré is 'n maand ná haar geboorte in Johannesburg geopereer.
"Dit was 'n baie delikate operasie en vir drie ure het ons as ouers vreesbevange gesit en wag," vertel haar ma, Beulah.
Die dokter het verduidelik dat die laaste drie rugwerwels 'n entjie oop was. Hy het die vloeistof in die sakkie uitgetrek en vasgestel dat daar net een senuweee in was.
Hy het die senuwee en die vel waaraan dit vasgesit het, teruggeplaas in die opening en die sakkie afgesny. Hierna is die groot gat in haar rug toegemaak en 'n veloorplanting gedoen.
Hy het die ouers meegedeel dat die babatjie net 'n 50% kans het om te bly leef.
Sewe dae later is Elmaré ontslaan en die volgende nege maande is haar groei en ontwikkeling onder 'n vergrootglas dopgehou.
Op die oog af was alles normaal, maar in 1994 het sy nierprobleme opgedoen.
Deur die jare moes sy heelwat operasies ondergaan, onder meer vir nierpypies wat vernou is en probleme met haar voete.
Maar met diep geloof en die ondersteuning van haar ouers en broers, het Elmaré in 'n regte vegtertjie ontwikkel.
Op sewejarige ouderdom het sy op Carnarvon begin skoolgaan tot in 1978, toe sy na die Elizabeth Conradie Skool in Kimberley is.
In 1980 verloor sy haar pa, Willem (Boeta Konka), in 'n tragiese vragmotorongeluk. Vyf jaar later trou haar ma weer en hulle verhuis Paarl toe.
"Aan die begin van 1988 het 'n nuwe fase in my lewe ingetree," vertel Elmaré van haar aanstelling by die ACVV se Wielie-Walie versorgingsoord as kinderversorger.
Die afgelope 15 jaar doen sy dieselfde werk by Trompie Versorgingsoord en hier het 'n hegte band tussen haar en die kleuters deur die jare gevorm.
Soos ene Careltjie se ma skryf: "Jy's 'n juffrou duisend".
Elmaré loseer by haar broer Maansie en sy vrou, Liana. Sy geniet goeie gesondheid, behalwe vir voetprobleme van tyd tot tyd.
Sy is baie betrokke in haar gemeente, die NG-gemeente Paarlberg, en vertrek Maandagnag vir 'n uitreik na Makatini in KwaZulu-Natal.
Mense wat Elmaré wil kontak, kan haar skakel by 872-5240 of 072-202-0047. |