|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
hulle die nodige punte kan insamel. Klop hulle vir Elsiesrivier en Young Peoples met bonuspunte bring dit hulle ook op 79, maar dan sal hulle met 'n groter punteverskil as Primrose moet wegkom om dié span uit die tweede plek te skouer. Young Peoples en Albions lê onderskeidelik vierde en vyfde met 54 en 49 punte. Vir Peoples lê daar nog net die wedstryd teen Korrektiewe Dienste voor, terwyl Albions nog twee geleenthede het om punte in te oes. Young Gardens, wat tot dusver nog net vier uit 21 wedstryde kon wen, sal volgende jaar in die Premierliga B moet speel. Gardens lê laaste op die punteleer met 26 punte en al verdien hulle maksimum punte in hul laaste wedstryd, sal dit nie genoeg wees om Polisie wat reeds 34 punte het en nog twee wedstryde moet speel, verby te steek nie. Die Paarl Rugbyklub onder leiding van Rudolf Paulse het vanjaar 'n bobaasvertoning gelewer en lê tans gemaklik bo-aan die Premierliga B punteleer met 82. In die tweede plek lê Harlequins van Milnerton met 77. Al wen laasgenoemde hul laaste wedstryd met 'n bonuspunt, moet die Paarliete slegs een punt in hul oorblywende wedstryd inpalm om hul eerste plek en bevordering na die Premierliga A te verseker. Paarl Rangers is tans sesde op die ranglys met 43 punte. Paarl Violets wat tweedelaaste lê met 39 punte kan dalk relegasie na die Premierliga C ontduik as hulle volpunte kry in hul laaste wedstryd en mits Hamediehs, met 40, nie ook hul wedstryd met 'n bonuspunt wen nie. In die Premierliga C is Franschhoek, Windmeul en Young Standards onderskeidelik in die vierde, vyfde en sewende plek, met Standards wat die beste kans staan om nog 'n plek te spring. Die Paarl sal sterker verteenwoordig wees in die Premierliga C in 2003 nadat Riverstones en Laer Paarl vanjaar albei in die Paarl/Franschhoek-liga gekwalifiseer het vir bevordering. Beide spanne het 34 punte in hul 10 wedstryde opgestapel, maar Riverstones se punteverskil van 106 was beter as die 36 van Blues. Paarl Vineyards eindig vierde met 26 punte, terwyl Allandale in die sesde en laaste plek eindig met 8 punte. |
|
|
|
|
"ONS gaan die wêreld aan die brand speel. Wanneer ons in die Diamantstad land gaan daar 'n aardbewing wees en gaan daar 'n paar huise skud." So het die waarnemende kaptein van die Boland krieketspan, Henry Williams, Dinsdagaand tydens die amptelike loodsing van die 2002/2003 seisoen gesê. "Daar moet nie vanjaar weer gepraat word van die Boland as die kleinboetie van die WP nie. "Ons het in die afgelope paar jaar die groot spanne in eendagwedstryde geklop en gaan vanjaar dieselfde doen in die vierdagwedstryde," het die veteraan-naatbouler van Boland gesê. Williams se entoesiasme word beaam deur afrigter, Deon Muller. "Ons het 'n baie goeie voorseisoense oefenprogram agter die rug en sien uit na die nuwe seisoen. "Ons wedstryd teen Griekwas op Kimberley is 'n goeie inleiding tot die seisoen eerder as wat ons eers teen 'n groter provinsie moes te staan kom. Maar dit beteken nié dat ons hulle onderskat nie. "Ek dink die groter provinsies sal spanne soos Boland, Griekwas en die Vrystaat as maklike prooi' beskou en ons sal juis die teenoorgestelde wil bewys," het die breier gesê. Muller het die volste vertroue dat sy top vyf kolwers die lopies kan inryg op die vinnige blad van die De Beers Stadion. "Hulle noem dit 'n kolwersparadys met die bal wat lekker deurkom. Dit sal egter ook beteken dat ons boulers met groot dissipline moet boul." Vinod Kambli, die Indiese kolwer wat Boland gekontrakteer het om vanjaar sy kolflinie te versterk, is net so gretig om sy vernuf op die SA kolfblaaie ten toon te stel. "Die weer speel 'n groot rol in die toestand van 'n blad maar ek sien daarna uit om op 'n goeie, lewendige kolfblad te speel," het Kambli gesê. Dat hy reeds op sy gemak is by Boland, is duidelik. "Daar is heelwat jong spelers in die span en ek geniet dit om my kennis en ondervinding met hulle te deel." Behalwe vir die praktiese wenke, gee hy ook raad oor die sielkundige sy van die spel. Boland se eerste Supersport wedstryd teen Griekwas skop môre om 10:00 af in Kimberley. Die span is Henry Williams (k), Gerhard Strydom, Henry Davids, Louis Wilkinson, Benji Hector, Vinod Kambli, Steve Palframan, Con de Lange, Charl Langeveldt, Jacques van Wyk, Willem du Toit, Wallace Albertyn. |
|
|
|
|
DIE huidige voorlopers in die Super 4-kompetisie, Korrektiewe Dienste, sal nie vanjaar 'n aanslag kan maak op dié beker nie. Die Super 4 is die inisiatief van Young Peoples rugbyklub, en behels 'n interne toernooi tussen die vier Paarlse rugbyklubs wat tans in die WP Premierliga A rugby speel. Die klubs is Peoples, Korrektiewe Dienste, Young Gardens en Albions. Die bewaarders se probleem is dat hul reeds genooi is om in 'n feeswedstryd teen Belhar te speel op 4 Oktober, die datum waarop die halfeindstryde van die Super 4 op Daljosafat beslis word. "Ons sal baie graag in die halfeindstryd wil speel, veral omdat ons bo-aan die punteleer lê. Maar ons het 'n baie goeie verhouding met Belhar en sal dus eers ons verpligtinge teenoor hulle nakom," het Davey Simonse, klubkaptein van Korrektiewe Dienste rugbyklub, gesê. Volgens Trevor Davy van Young Peoples, sal Paarl Rangers in plek van Korrektiewe Dienste speel. Tydens 'n komiteevergadering Dinsdagaand is bepaal dat Young Peoples en Young Gardens in een halfeindstryd sal speel, terwyl Rangers en Albions in die ander wedstryd sal kragte meet. Die halfeindstryde word op 4 Oktober om 19:00 en 21:00 op die A-veld van Daljosafat gespeel. 'n Week later sal die plaat- en bekerfinaal op dieselfde tye weer op die Dal beslis word. |
|
|
|
|
STAPPE is goed onderweg om 'n oplossing te vind vir die sportgrense-dispuut rakende sekere skole in die Paarl en Stellenbosch wat by Boland Ussasa geaffilieer is, maar hul rugby in die Westelike Provinsie speel. Volgens Cliffie Booysen, hoofbestuurder van jeug- en klubrugby by Sarvu, het verteenwoordigers van die SA Rugbyvoetbalunie (Sarvu) en Ussasa Nasionaal op 5 September vergader om finaal tot 'n vergelyk te kom in watter gebied die betrokke skole hul rugby moet speel. "Die notule van die vergadering (van 5 September) sal Woensdag aan die bestuurskomitee van Sarvu voorgelê word, waarna daar amptelik gesê sal word wat die volgende stap vorentoe is," het Booysen gesê. Hy wou geen aanduiding gee van wat tydens die vergadering besluit is voordat die Sarvu-bestuurskomitee vergader het nie. |
|
|
|
|
DIE bal tref die blad en gaan lê doodstil. "Op hierdie blad sal daar nie volgende week krieket gespeel kan word nie," merk Julie Abrahams, president van die Bergrivier Krieketklub, droogweg op en buk om die bal op te tel. Die kolfblad lyk asof dit deel van 'n oorlogsone is. Dit is afgesper met rolle lemmetjiesdraad, "nie dat 'n mens weet wie uitgehou moet word nie - dalk die werkers," weet iemand te sê. Daar is nie gras op die blad nie, net gate en droë poeier-grond. Voorsitter Patty Abrahams meen dit kan tot drie maande neem om die blad speel-gereed te kry. "Behalwe die toestand van die veld is daar nog die probleme met die water en toilette ook." Hy beduie na die klubhuis wat verlate en verniel staan, 'n stille getuienis van die komitee se frustrasies. Bergrivierklub het tien jaar gelede ontstaan en sommer in die eerste jaar het die klubhuis afgebrand. Daarna is die gebou herstel, maar vyf jaar gelede het inbrekers die alarmstelsel uitgeruk en sedertdien is daar net diefwering om skelms uit te hou. Verlede seisoen het inbrekers een nag die plafon oopgebreek en toe teruggekeer om alles binne weg te dra of te breek. Die toilette en wasbakke is beskadig, beddens en skuifdeure is weggedra en alles wat kon, is gebreek. Volgens die Munisipaliteit is die Sportraad verantwoordelik vir die binnekant van die klubhuis. Daar is nie begroot vir herstelwerk nie. "Op die oomblik is hier nie krag of water nie. As ons besoekers kry, moet ons die swembad se toilette gebruik of water aandra," verduidelik Julie Abrahams. Hier het die vandalisme ook nie gestop nie. Die krieketnette is stuk-stuk weggedra, gesigskerms is afgesaag en die advertensieborde gesteel. Klagtes by die Munisipaliteit het nie veel vrugte afgewerp nie. "Vir tien jaar word daar gesê daar is nie begroot vir verbeterings nie en van die beloofde opsigtershuis kom daar ook niks nie." Die Munisipaliteit is ook verantwoordelik vir die instandhouding van die veld. "Hier word nie aandag aan ons velde gegee nie. Gaan kyk maar hoe lyk die velde in die dorp en dan besef jy hoe word ons afgeskeep." Die Munisipaliteit sê hulle het probleme met kinders wat die blad gebruik as speelplek en skaatsbaan. Die baan sou al gereed gewees het, maar die kinders beskadig dit feitlik daagliks. Nog 'n kopseer is die sokkerspelers wat onwettig op die krieketveld oefen. "Tot sewe groepe speel hier en ons spelers moet maar pad gee. Ons het al samesprekings gevoer met hulle en 'n stadsraadslid, maar sonder enige resultate." Die Munisipaliteit is besig om sokkervelde aan te lê, wat dié probleem sal aanspreek. Wedstrydbepalings word deur Boland Krieket gedoen. "Ons het reeds vir hulle laat weet van ons probleme en ons wag nou dat hulle moet kom kyk na die veld. Dan sal ons maar moet besluit wat om te doen," sê Patty. Van die moontlikhede is dat wedstryde op die Wellington-veld of in die Paarl gespeel word, soos daar plek beskikbaar is. "Wat ook al besluit word, die tyd is min, want ons eerste wedstryd is volgende week." Die Munisipaliteit sê hulle beskik nie oor 'n spelrooster nie, hoewel hulle reeds verskeie kere daarvoor gevra het. |
|
|
|
|
ALBIONS het Saterdag met 'n 15-10 oorwinning oor Young Gardens op Gardens Park gesorg dat hy van die sewende tot die vyfde plek opskuif op die punteleer van die Premierliga A. Albions het eerste punte aangeteken toe Mark Kruger ná sowat tien minute met 'n strafskop geslaag het. Gardens se losskakel, Chesley Theo, mik daarna na die pale. Sy derde poging in die aangesig van 'n tierende wind is in die kol en sake loop gelyk. 'n Mooi breekslag deur die tuisspan se Jacques Bothma (9) noodsaak Albions se verdedigers om om te draai, maar ná 'n paar vinnige aangeë, druk Charles Johnson (11). Theo, nou vertroud met die wind, se doelskop is weer suiwer en Gardens neem die voortou 10-3. Hoewel Theo met drie pogings na die pale gemis het, het hy met groot sukses na die kantlyn geskop en Gardens gehelp om deurgaans uit die moeilikheid te bly. Kruger is weer suksesvol met 'n strafskop om die rustydtelling op 10-6 te bring. In die tweede helfte het Albions met goeie dryfbewegings en los fase bal Gardens teruggedryf en hulself binne bereik van punte gesit. Hier was dit Ronnie Lottering (3), Adam Moerat (6) en die man van die wedstryd, Gillian Arendse (1), wat goed gedoen het. Kruger het vanuit dié voordeelposisies drie strafskoppe oorgesit om die wedstryd te wen. Geen ligawedstryde word Sa-terdag gespeel nie behalwe vir Albions wat Vrydagaand om 18:00 teen Polisie op Faurestraat Stadion uitdraf. |
|
||||