|
SY'T 'n droom, ek kan dit nie breek nie. Só sê 'n trotse Dinah Pietersen van die Paarl oor haar dogter, Desmé, wat nou reeds 18 maande in Tanzanië en die Midde-Ooste sing.
Desmé, wat byna vyf jaar sang gestudeer het onder Andrew Strauss van La Musique, het in Julie verlede jaar na Dubai in die Midde-Ooste vertrek om in die Arif Castle Hotel op te tree.
Daar het sy The Tanzanites, een van die bekendste groepe in Tanzanië, ontmoet, en deesdae is sy onder kontrak by hulle.
Sy het onlangs 'n vinnige Kaapse draai gemaak voordat die besige Kersseisoen in Dar-es-Salaam begin. Vroeg in Januarie vertrek die groep na Hong Kong en Macau, iets waarna Desmé baie uitsien.
Die skaam Paarlse meisie het ontpop in 'n Afrika-ster. Sy lyk tuis in haar tradisionele Swahili-drag en praat ook die taal vlot. Sy deel 'n huis in Dar-es-Salaam met van haar mede-kunstenaars en sê dit is baie veiliger daar as in die Paarl.
The Tanzanites tree feitlik elke aand by klubs op en Desmé sing gereeld voor besoekende Suid-Afrikaners, onder wie vise-president Jacob Zuma. Sy sing graag pop, kontemporêr en R&B - "ag sommer alles". Dit sluit deesdae heelwat Afrika-liedjies in.
"'n Loopbaan op die verhoog was nog altyd my droom," sê sy en voeg by dat jongmense in hulself moet glo.
"Daar sal teleurstellings wees, maar soos hulle in Swahili sê: 'Penyania, panenjia' (waar daar 'n wil is, is daar 'n weg)." |