|
WANNEER daar deesdae met kinders gepraat word oor die oorgewig man in die rooi pak, is die verklarings wat ontlok word uiteenlopend.
Sommiges verklaar "Ek het hom al gesien!" terwyl 'n seuntjie met blink groen ogies en 'n skaam glimlag geprotesteer het: "Is dan my ma!".
Hierdie wyshede is deur die haasbekkies gedeel tydens 'n opname in die Paarlse strate.
Met 25 Desember net om die draai, is ma se paniekerige blik al sigbaar omdat sy haar maandelikse begroting vér gaan oorskry. Daarom stoot sy die trollie (met boetie en sussie daarin) 'n bietjie vinniger verby die speelgoedrak.
Daardie gevreesde jaarlikse brief aan Kersvader bly 'n gebedsaak (siende dat baie minderjariges bevestig het dat Vader Kersfees se tekortkominge van verlede jaar, net by hierdie jaar s'n bygevoeg sal word).
Met groot bewondering vir die winkelrakke se uitstallings van moontlike Kersgeskenke, kan die kinders alles van Barbie-pophuise tot hul eie selfone eis, met die belofte dat hy/sy 'n goeie kindjie was die afgelope jaar.
En hoe verdwyn die speelgoed nie stuk vir stuk na die kasregisters nie, met ouers wat maar gedwee moet betaal om hul spruite se drome te bewaarheid.
Graig Boonzaaier (10) van Franschhoek sal vreeslik graag 'n "scooter" in sy Kerskous wil vind.
Vir Fatiema Latif (9) sal 'n Barbie-pop met al haar bykomstighede net die ding doen om haar feesseisoen volmaak te maak.
"Ek wil ook graag Barbie se starcastle daarby hê," sê sy.
Kirsten Hill (11) beplan om hierdie vakansie met haar maatjies deur te bring en wil graag 'n CD van "Pink" hê, omdat sy klaar Britney Spears s'n het.
"Ek het verlede jaar 'n rekenaar as Kersgeskenk gekry en hierdie jaar wil ek graag 'n Gameboy hê. Ek het alreeds 'n CD-speler, maar ek benodig nog net die CD's," sê sy.
Jonger suster Robyn (7) meen dat teddiebere en Barbie-poppe haar hartjie heel gelukkig sal maak.
Ook Simoné Davids (8) en haar sussie Tarryn (4) se arms vol poppe wys dat dogtertjies maar nog altyd van dié speelgoed sal hou.
Juan Hayman (4) wil baie beslis 'n Batman-mannetjie hê hierdie Kersfees.
Volgens Marina Johnson, wat die speelgoedrak in 'n plaaslike supermark beman, verkoop battery-aangedrewe motortjies en poppe steeds soos soetkoek.
* Shoppers are rushing to stores to fill up the Christmas stockings with traditional toys. |