safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday 19 December 2002

uitlefstreep

This site will be updated on: 16 January 2003 at 17:00

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Sport


Grotes byeen vir Boxing Day

[ Top ]


wminnVAN die groot name in fietsry sal op 26 Desember weer op die Paarl toesak in die hoop om die 25 Myl titel tydens die Boxing Day fietsrybyeenkoms in te palm.

Die byeenkoms begin om 14:00 en die hekke open om 13:00.

Die Paarliet Garth Thomas, huidige titelhouer van die 25 Myl, sal vanjaar die geteikende ryer wees. Die Springbokjaer het Saterdag tydens Rhadsport se Klein Parys Criterium gewys dat hy tans in goeie vorm is.

Thomas sou ook tydens dié wedren gesien het wat vir hom moontlik kan voorlê tydens Boxing Day. Die aanslag van die twee Kaapse CVT-ryers Raynold Smith en Robbie Dale het Saterdag 'n oorwinning vir dié span beteken.

BOXING DAY. Ashley Kulsen (links agter) van Paarl Fietsryklub is een van die ryers wat hoop om in vanjaar se 25 Myl naam te maak. Die o.14 ryer, Réniell Matthysen, sal ook in die jonger kategorieë sy staal wil wys. Voor is André Abrahams (voorsitter van Paarl Fietsryklub) en Hein Kroff (borg). 

Ondanks Thomas se aggressiewe en positiewe rystyl was hy nie man-alleen opgewasse teen die strategie van Dale gekombineerd met die spoed van Smith nie.

Dié twee sal beslis met soortgelyke spanwerk die Minnaar-beker tydens die 25 Myl wil inpalm.

Daarby het Smith, wat verlede jaar derde was in die 25 Myl, onlangs vir vyf maande in Duitsland gery en sal dié ervaring vir hom van baie waarde wees.

Ander groot ryers wat ook om die gesogte beker sal wedywer, is die Springbokke Dean Edwards (Natal) wat verlede jaar tweede was in die 25 Myl, Morné Blignaut (Gauteng) asook die Kapenaar Wesley Cole wat ook CVT se kanse versterk.

Nog 'n plaaslike ryer, Ashley Kulsen van Paarl Fietsryklub, het in 2001 vierde geëindig in die 25 Myl. Die Federasie-spanryer sal vanjaar mik om 'n beter plek te kry.

Die meeste van dié ryers is ook die gunstelinge vir die Mylwedren. Die R1000 prysgeld word deur Pickfords Removals geborg.

Die top drie ryers in die 25 Myl wedren sal R2500 tussen hulle verdeel.

Sowat 3500 mense het verlede jaar se Boxing Day byeenkoms bygewoon en die organiseerder hoop om vanjaar selfs meer toeskouers te lok.

Kaartjies is R10 vir die sitplek op die hoofpawiljoen en R5 vir enige ander sitplekke. Kosstalletjies en 'n biertuin sal eet- en drinkgoed verskaf.


SA gee Pakistan goed pak in Paarl kitstoets

[ Top ]


'N GOEDGEBALANSEERDE vertoning deur die Proteas het hulle Maandag gehelp om 'n gemaklike oorwinning van nege paaltjies oor Pakistan te behaal op Boland Park in die Paarl.

Die Suid-Afrikaanse boulers het die genot om die Pakistanse paaltjies in te oes onder hulle verdeel, met Makhaya Ntini, Jacques Kallis en kaptein Shaun Pollock wat elkeen twee kolwers terug pawiljoen toe gestuur het.

Allan Donald en Robin Peterson het ook elk 'n paaltjie laat kantel terwyl Jonty Rhodes en Boeta Dippenaar se flink veldwerk vir twee uithardlope gesorg het.

Herschelle Gibbs en Gary Kirsten het 'n goeie basis vir die SA kolfbeurt gelê deur 111 aan te teken voor Gibbs vir 52 deur Abdur Razzaq geboul is.

Dippenaar (42 nun) het hierna by Kirsten aangesluit en dié twee het die wenlopies in die 42ste beurt aangeteken.

Kirsten, wat as speler van die wedstryd aangewys is, se onoorwonne 102 is sy dertiende honderdtal in internasionale eendagkrieket.

Dié oorwinning beklink dan ook die reeks van vyf eendagtoetse vir Suid-Afrika wat reeds 3-1 voorloop.


Krieketskare kla

[ Top ]


DIE Boland Krieketraad sal beslis 'n paar haakplekke moet uitstryk as hy die toeskouers van die drie 2003 Wêreldbekerwedstryde wat in die Paarl aangebied word, gelukkig wil hou.

Duur kaartjiepryse, parkering, lang toue en te min vullisdromme was van die klagtes wat die toeskouers laat mor het.

Baie meen die kaartjies van R175 (hoofpawiljoen) en R100 vir die graswalle was veels te duur vir die deursnit Paarliet.

Hulle is ook van mening dat die beleid om krieket na die mense te bring deur juis internasionale wedstryde in kleiner stadions soos die Paarl aan te bied, nie realiseer in die lig van sulke pryse nie.

"Die meerderheid van die toeskouers was wit - die mindergegoede lede van die gemeenskap kon nie kaartjies bekostig nie.

"Maar dit is dié mense wat die Boland span getrou ondersteun tydens hul tuiswedstryde in die provinsiale eendagreeks. As daar nou 'n groot wedstryd in die Paarl gespeel word, word hul uitgesluit weens te duur kaartjiepryse.

"Hoewel die toegangsgelde deur die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika vasgestel word, het Boland sekerlik 'n sê as hulle voel die pryse is te buitensporig vir die plaaslike gemeenskap," was een Paarliet se redenasie.

Volgens Pietie Williams, uitvoerende beampte van Boland, was die pryse nie buitensporig nie.

"Die sekuriteit alleen het R81 000 beloop. Dit help nie ons bied 'n groot wedstryd aan maar ons maak 'n verlies nie.

"Die graswalkaartjies was uitverkoop, terwyl die hoofpawiljoen uitsluitlik vir borge en baie belangrike persone bespreek was - baie van die kaartjies is nie opgeëis nie, vandaar die leë sitplekke.

Sowat 5800 toeskouers het op Boland Park toegekyk hoe Suid-Afrika vir Pakistan met nege paaltjies klop.

Vinnige diens by die onderskeie stalletjies was ook 'n kwelpunt. Toeskouers wat die gewilde Castle Corner besoek het, het gemiddeld 45 minute in die tou gestaan.

Een toeskouer het toe hy eindelik weer terugkom by sy sitplek, verontwaardig sy bure laat weet dat hy 12 beurte gemis het terwyl hy gewag het om 'n bier te koop.

"Die eienaar van die restaurant by Boland Park het die drankverkoopregte by die stadion. Die probleme met bierverkope is dus sy verantwoordelikheid," het Williams gesê.

"Maar dit sal ook aangespreek word wanneer ons met al die rolspelers vergader om die probleme te bespreek en vir oplossings soek vir die komende Wêreldbekerwedstryde."

Williams het gesê dat daar ook met die polisie en sekuriteitspersoneel vergader sou word om te verseker dat die publiek voorheen meer taktvol hanteer word, nadat mense met sambrele toegang geweier is en na hul voertuie moes terugstap om dit te bêre.

Volgens Williams was Boland se hoofprioriteit die voorsiening van 'n goeie speelblad en veld.

"Die krieket moes goed verloop op die veld en met die krieketaspek wás daar geen probleme nie. Die meeste haakplekke was met die diensverskaffers binne die stadion.

"Maar uit 'n organisatoriese oogpunt verloop dinge nooit heeltemal seepglad nie."

Albei krieketspanne was tevrede met die veld en die geriewe van Boland Park, het hy gesê. 


Carstens herleef eerste Bok-toer

[ Top ]


VIR die vaskopstut Deon Carstens van Wellington was sy eerste toets in 'n Springbok-trui 'n ondervinding wat in 'n oogwink verby was.

Dit was dalk 'n bedekte seën, aangesien die Bokke dié dag teen Skotland op Murrayfield een van die swakste vertonings in 'n lang tyd gelewer het.

"Dit was so vinnig verby, toe ek my oë uitvee toe is die wedstryd klaar. Ek het eers ná die tyd deeglik die wedstryd op video bekyk," sê die oud-leerder van die Hoër Landbouskool Boland.

Hy erken dat die Springbokke se 21-6 nederlaag, hul eerste verloor teen dié span sedert 1969, nie die beste manier was om sy loopbaan in die Springboktrui te begin nie.

"Dit was die laagtepunt van die toer. Ons het die swakste rugby gespeel wat daar in 'n lang tyd gesien is.

"Die Skotte het 'n baie slim pak voorspelers. Hulle het baie goed geskrum en die skrum gereeld gedraai tot hul voordeel.

"Hulle het dit vir my en Wessel (Roux, nog 'n toets-debutant op loskopstut), moeilik gemaak deur met afwisseling vorentoe te druk en dan meer terug te tree om ons ongelyk te laat skrum," verduidelik die voorryman wat al die afgelope twee jaar vir die Natal Sharks speel.

"Teen die Engelse het ons besluit om ons nie weer te laat uitvang nie en gedurig met mekaar gepraat om die skrum gelyk te hou."

Volgens hom was die stryd teen die Engelse baie meer fisies as teen die Skotte.

"Die ouens wou net wys dat daar nog trots in die trui is. Dit het baie sleg gelyk van die kant af, maar dit was net een fout wat op die ander gevolg het wat later 'n sneeubal-effek gehad het.

"Toe ons oorsee vertrek, het ons geweet daar is baie talent in die span, maar was ons skepties oor die gebrek aan ervaring.

"Die ouens het miskien nie genoeg ervaring gehad om die foute en gevolglike strafskoppe te verwerk en kalm te bly nie."

In vergelyking met die Super 12 is daar baie minder plek vir foute in toetsrugby, sê Carstens.

"Hulle het baie geskop so dit het nie gevoel of hulle so baie aanval soos in die Super 12 nie," beskryf hy die tempo van die wedstryde.

"Maar in 'n toets kos 'n fout jou sewe punte. In die Super 12 kan jy nog 'n kans of twee waag, sonder om met punte daarvoor te boet."

Skrumwerk in die nat noordelike weer was nie buitegewoon moeilik nie.

"Die eerste week is dit moeilik, en daar is niks wat jy aan die glibberige bal kan doen nie, maar al die oppervlaktes waarop ons gespeel het, was baie goed.

"Ons het almal met 21mm 'studs' gespeel en met daardie menere is dit nogal moeilik om weggedruk te word," vertel hy.

Twee Bokke wat Carstens en Roux deur hul vuurdoop gehelp het, is die hakers James Dalton en Lukas van Biljon.

"James is 'n ou kalant wat baie truuks ken. Hy het vir my en Wessel baie gehelp deur net gedurig met ons te praat en advies te gee.

"Ek ken vir Lukas goed omdat ons saam vir die Sharks speel. Hy is 'n bondel energie en 'n baie eksplosiewe speler wat altyd voluit speel," sê Carstens.

Ondanks 'n toer waar die Springbokke met rekordnederlae verneder is, is daar baie wat hy uit die toer geneem het, sê Carstens.

"Ek was tevrede met my verdediging, maar die belangrikste ding is my skrums en daar is nog baie wat ek moet leer.

"Maar ek is nie heeltemal in sak en as nie. Ek is bly ek is deur al dié dinge. Dit was 'n groot ondervinding om saam op die toer te gaan en te sien hoe dinge in die Springbok-kamp gedoen word, om nie eens te praat van op die rugbyveld nie."

Die jong Springbok kuier by sy ouers op Wellington tot 30 Desember waarna hy by van sy Sharks-spanmaats in Transkei aansluit.

Daar sal egter nie tyd wees vir té groot fees vier nie, aangesien die Sharks op 2 Januarie weer op die oefenveld moet aanmeld.

"Ek mik daarna om volgende jaar elke Super 12 wedstryd vir die Sharks te begin. Die spelers wat daar goeie vorm toon, sal beslis die gunstelinge vir die Wêreldbeker wees. Maar dit is nog eers alles in my agterkop, ek wil nou net 'n bietje vakansie hou," sê hy.

Sy hart is steeds in die Boland, sê Carstens, wat besig is om 'n huis in die Paarl op te knap.

"Ek sal weer hier kom bly. Maar Durban is amper soos 'n dorp. Dis baie Engels en ek is ook nou al half-Engels.

"'n Mens sou dit nie dink van 'n ou wat op Boland Landbouskool skoolgegaan het nie," skerts hy.


Begin rustig oefen vir Paarl Post prettrap

[ Top ]


IN die feestyd word daar te veel gekuier en is dit moeilik om fiks te raak. Maar belangstellendes moet hul vere begin regskud vir die Paarl Post Wynroete Prettrap wat op 25 Januarie aangebied word in samewerking met Paarl Rotariërs.

Dit vind plaas agt weke voor die Argus-prettrap, en 'n groot aantal deelnemers word verwag. Dit is die perfekte tydperk om op te skerp en wedren-fiks te word.

Volgens Dennis du Toit van Hugenote Fietse is daar baie voordele om gereeld te oefen of om vroeër as ge-woonlik te begin.

"Dit is die een tyd in die jaar dat ryers nie so streng by 'n program hoef te hou nie. Kry 'n paar vriende en begin twee of drie keer 'n week ry.

"Ry Franschhoek toe en gaan eet ontbyt en kom terug of ry langs die nuwe Agter-Paarlpad wat voltooi is.

"Dit neem omtrent 'n uur van Noorder-Paarl tot by Suider-Paarl agter met die Fairviewpad langs.

"Miskien is dit nou die tyd om jou wederhelfte aan fietsry bekend te stel. Doen enigiets solank jy drie keer per week vir omtrent 'n uur of drie fiets ry.

"Met al die prettrappe wat voorlê is dit maklik om op goeie bene te kom as jy gereeld deelneem, solank jy nou al die basis lê.

"Lang, stadige ritte is die beste, vergeet van intervalle en bulte en berge klim. 'n Lang, stadige rit terwyl jy die hele tyd aerobiese oefening kry, is wat nou nodig is.

"'n Tipiese week sal bestaan uit twee of drie ritte van minstens een uur en een rit van minstens twee uur oor die naweek. Laat jou lei deur jou fiksheidspeil."

Vir inligting en inskrywingsvorms skakel Luc of Marcia by 863-3333. Inskrywingsvorms is beskikbaar by Kroff Cycles en Hugenote Fietse in die Paarl.


Thomas veg teen span-aanslag

[ Top ]


DIE CVT-jaer Raynold Smith het vir die tweede agtereenvolgende jaar daarin geslaag om die Rhadsport fietsryklub se Klein Parys Criterium te wen.

Smith was in die bevoorregte posisie om vanjaar die ondersteuning van sy spanmaats te hê. Die CVT-span het ook bewys dat die ander Wes-Kaapse geborgde span, Sub-3, nie by hulle kan kers vashou nie.

Dat die Paarlse Garth Thomas (Rhadsport) enigsins toegelaat was om in die wegbreekgroep van vyf te wees en nog daarin kon slaag om die tweede plek te behaal, laat 'n vraagteken oor die taktiek van die geborgde spanne.

CVT het op 'n stadium drie jaers in die wegbreekbondel gehad en Sub-3 twee. Thomas moes op sy eie dié groepe dophou en het by tye selfs probeer om van die bondel weg te kom - 'n taak wat te moeilik was, maar wat sy teenstanders darem laat kopkrap het.

Hoewel die senior wedren weer eens die kalklig gesteel het, het daar in die o.16 groep 'n nuwe ster op die horison verskyn.

Bradley Hector (Elfin) het gewys dat hy teen meer ervare teenstanders kan jaag en steeds gemaklik vir hul in die stof ry.

Die plaaslike jaer Bertram Siebritz (Rhadsport) het ook bewys gelewer van sy talent en is nouliks in die derde plek gedruk deur die Bellville jaer, Stefan Lombard.

Die groot verrassing was in die o.14 afdeling toe die Paarliet Réniell Matthysen tweede viool moes speel in die naelrit om die wenners te bepaal.

Matthysen wat dié seisoen nog nie op die baan geklop is nie, moes tevrede wees met 'n tweede plek, agter die Bellvilliet Michael van Staden. Webster Jacobs (Yorkshire) was in die derde plek.

Nog 'n verrassing was in die veterane-afdeling waar die voormalige WP baankampioen, Nolan de Wee, nie net aan sy eerste wedren as veteraan deelgeneem het nie, maar dit ook gewen het.

De Wee het onlangs weer begin oefen en sal hopelik in die komende jaar weer in amptelike wedrenne kompeteer.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za